Woon julle gelukkig saam? Die wet is nie aan jou kant nie

Vrydag, Oktober 23rd, 2015

Woon jy gelukkig saam met jou “beter helfte” en geniet al die voordele van ʼn huwelik sonder die beperkings van ʼn geregistreerde verbintenis?

Miskien, soos TV se realiteitspaartjie Kourtney Kardashian en Scott Disick wat uitmekaar is, besit julle eiendom saam en het met ʼn gesin begin. As die verhouding tot ʼn einde kom – hetsy deur uitmekaar te gaan of deur dood – sal jy beskerm word deur ʼn wet wat “gemeenregtelike” verbintenisse bestuur, nie waar nie? Nee, sê Clive Hill, ʼn regsadviseur vir Sanlam Trust. Ongetroude paartjies bly onbeskerm onder Suid-Afrikaanse reg, selfs al is hulle alreeds vir dekades saam.

Hill sê Suid-Afrika is progressief ten opsigte van die beskerming van “nie-tradisionele” paartjies met wette wat aangeneem is om tradisionele huwelike en gebruiklike verbintenisse – soos poligaam-verhoudings of verbintenisse onder Islamitiese wet – en burgerlike verbintenisse,  byvoorbeeld tussen persone van dieselfde geslag, te bestuur.  “In die VSA is ʼn besluit onlangs deur die hooggeregshof aangeneem wat alle state effektief dwing om huwelike tussen persone van dieselfde geslag toe te laat. Dit is gaaf om te weet dat Suid-Afrika die toon aangee in die aanvaarding van verbintenisse van die meeste ‘groottes en vorms’.”

“Daar bestaan egter ʼn baie algemene wanpersepsie dat ongetroude paartjies wat saamwoon as ‘gemeenregtelike’ paartjies beskou word en dat, sou die verbintenis tot ʼn einde kom, hulle hulle toevlug onder die wet kan neem. Ongelukkig is dit nie die geval nie. Die wet erken nie saamwonende heteroseksuele paartjies nie en individue het hulle al dikwels vasgeloop omdat hulle nog altyd onder die wanindruk was dat hulle beskerm word.”

 

Geen “Gemeenregtelike” wet nie

Hill sê dat terwyl Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) en pensioenfondse gemeenregtelike verhoudings erken – hoewel die onus op die paartjie rus om sekere besonderhede van die verhouding te bewys – is die Huishoudelike Vennootskap Wetsontwerp wat poog om wyer en algemene beskerming aan ʼn breër groep mense in huishoudelike verhoudings te bied, nog nie as ʼn wet aangeneem nie.

Hy sê ingevolge erfopvolgingsbeplanning, as iemand in ʼn langtermynverhouding sou wees en een maat te sterwe kom sonder ʼn testament, sal hulle kinders ʼn eis vir onderhoud teen die boedel hê (ingevolge die Kinderwet), maar die oorlewende maat word nie erken wanneer die boedel verdeel word volgens die huidige intestaat opvolgregulasies nie (die Wet op Intestate Erfopvolging).

 

Hoe om jouself te beskerm:

‘n Vrou en haar maat is al agt jaar saam en hulle het ʼn sesjarige dogter. Hulle het ʼn gesamentlike bankrekening en deel ʼn verband en ʼn motorvoertuig. As hy te sterwe sou kom, glo sy sy sal die hele boedel erf. Hulle is per slot van rekening ʼn gesin, of hoe? Wel, nie regtig nie. Ingevolge die wet het sy familie die volste reg om  sy boedel op te eis aangesien hy as ongetroude man oorlede is. Daar is egter stappe wat sy kan neem terwyl hy lewe om te verseker dat sy en haar dogter beskerm word:

“Om vooruit jou sake in orde te kry, is altyd die beste opsie. In plaas daarvan om dus julle verbintenis retrospektief te bewys, waarom trek julle nie ʼn basiese – maar regsbindende – kontrak op nie wat die parameters van julle ‘gedeelde bates’ definieer. Dit kan ʼn rits kwessies later voorkom, byvoorbeeld sou julle uitmekaar gaan en jou maat eis ʼn eiendom wat in sy naam geregistreer is maar waartoe jy finansieel bygedra het.” Daarbenewens stel Hill voor dat beide sorg dat hulle ʼn “papierspoor” van die verbintenis byhou om die navigasie van toekomstige regsprosedures so maklik as moontlik maak.

Hill sê daar is oneindig baie voorbeelde van situasies waar lewensmaats en families haaks geraak het oor wie op ʼn afgestorwene se boedel geregtig is. “Hier is ʼn testament natuurlik noodsaaklik en jy moet saam met ʼn finansiële beplanner  of boedelbeplanner werk om te verseker dat die testament in jou kinders, maat of familie se guns tel. Dit is veral relevant vir paartjies met kinders aangesien dit omskryf wie vir die kinders sal sorg as beide ouers te sterwe sou kom, hoeveel in onderhoud betaal moet word en wie die boedel erf. Ten tye van rou en hartseer wil jy jou geliefdes die pyn van wetlike onsekerheid en konflik oor erflating spaar.”

Hy sê dat as ʼn verhouding ten einde kom en daar bestaan ʼn element van gesamentlike kommersiële gewin, byvoorbeeld deur sakebedrywighede of die verkryging van eiendom, kan lewensmaats hulle toevlug neem tot die “Universele Vennootskap”-konsep. Dit is egter dikwels ʼn langsame proses en vereis dat individue ʼn reeks dokumentasie en ander getuienis voorlê om die kommersiële aspek van die verhouding retrospektief te bewys. Vir die meeste paartjies sou dit nie haalbare roete wees om te volg nie.

Hill sluit af deur te sê dat om saam met ʼn finansiële beplanner te werk om te verseker dat lewensmaats en kinders finansieel beskerm word, byvoorbeeld deur lewensversekering wat onmiddellike kontant beskikbaar stel, word ook sterk aanbeveel.

 

Bron: www.sanlam.co.za

Ander Artikels

Art. 11(a) van die Wet op Inkomstebelasting en die aftrekbaarheid van renteonkoste op huislenings
Louis Botha     Op 13 Desember 2016 het die belastinghof in Kaapstad uitspraak gelewer in X v The Commissioner for the South African Revenue Service (saak no. 13791 & 13792, nog nie gerapporteer nie). Die saak het gehandel oor ʼn interessante vraagstuk, naamlik of uitgawes wat aan ʼn huislening aangegaan word om ʼn rente-inkomste […]
Huurverbeteringe: Mag ek vat of moet ek los?
Vraag: “Ons huur nou al vir ʼn paar jaar ʼn huis. Ek en my vrou het heelwat verbeterings aan die huis en tuin aangebring. Ek word nou verplaas en moet verhuis, maar wonder nou wat word van al die verbeterings aan die huurperseel. Mag ons dit saamneem of moet die verhuurder ons vergoed daarvoor?”   […]
Die beste wenke om jou huurdeposito terug te kry
Huurders in Suid-Afrika betaal tans enigiets tussen een en drie maande se huur as skadedeposito ─ maar is dikwels onseker van wat om te doen as hul huurkontrak verval. “Hoewel deposito’s dikwels gebruik word om huurwanbetaling of onbetaalde utiliteitsrekenings te dek, is hul hoofdoel om verhuurders teen skade aan die eiendom te dek,” sê Andrew […]
1 2 3 170