Wie kan ’n geldige testament opstel?

Donderdag, Junie 30th, 2016

Die man of vrou oor wie se aardse besittings daar in die testament beskik word, word die testateur (manlik) of testatrise (vroulik) genoem. Die testateur/testatrise onderteken die testament op elke bladsy van die testament in die teenwoordigheid van twee onafhanklike getuies in sy/haar hoedanigheid as testateur/testarise.

Om egter ’n geldige testament te kan maak, moet die testateur/testatrise, op die oomblik wat hy/sy daardie testament maak en onderteken oor die nodige testeerbevoegdheid beskik anders sal die testament ongeldig wees.

Wat beteken testeerbevoegdheid? Artikel 4 van die Wet op Testamente bepaal dat enige persoon wat 16 jaar of ouer is ’n testament kan opstel.  Hierdie persoon moet verstandelik bekwaam genoeg wees om wanneer hy/sy die testament maak te kan verstaan dat die dokument wat hy/sy teken, sy/haar testament is en wat die uitwerking van die bepalings daarin is.  In die algemeen kan ’n mens praat van die testateur/testatrise moet by sy/haar volle positiewe gewees het.  Enige iemand wat na die testateur/testatrise se afsterwe betwis dat die oorledene by sy/haar volle positiewe was toe hy/sy die testament gemaak het moet dit bewys.  Die bewyslas rus dus op die persoon wat dit betwis.

Persone onder die ouderdom van 16 jaar is absoluut onbevoeg om ’n testament op te stel en hierdie onbevoegdheid kan nie deur die bystand van ’n ouer of voog aangevul word nie.

Verstandelike onbekwaamheid om die aard en uitwerking van die testeerhandeling te begryp, kan ’n verskeidenheid van oorsake hê. Voor die hand liggende voorbeelde sluit geestesongesteldheid, dronkenskap en onbekwaamheid weens die invloed van verdowingsmiddels in. Of die graad van ongesteldheid of aantasting sodanig is dat dit tot testeeronbevoegheid sal aanleiding gee, is natuurlik ’n vraag wat volgens die feite van elke bepaalde geval beoordeel moet word.  Die blote feit dat ’n persoon van hoë ouderdom is of ’n siektetoestand het beteken nie dat die persoon onbevoeg is om ’n testament te maak nie.

Die deurslaggewende oomblik vir die vasstelling van testeerbevoegdheid is die tydstip van die ondertekening van die testament. Die testateur se testeerbevoegdheid op die tydstip waartydens die testateur instruksies in verband met die opstel van die testament gegee het kan in bepaalde omstandighede wel van belang wees.

Die hof sal aan die hand van baie volledige mediese en ander getuienis die testeerbevoegdheid van die testateur bepaal.

Die feit dat ’n testateur formeel die bevoegdheid gehad het om ’n testament te maak waarborg nie die geldigheid van ’n testament nie. As die testateur onbehoorlik beïnvloed is of as gevolg van  vreesaanjaging en dwaling ’n testament gemaak het kan hierdie faktore ’n persoon se testeervryheid beïnvloed.  Dwaling sal byvoorbeeld voorkom wanneer ’n persoon ’n testament onderteken onder die veronderstelling dat dit ’n kontrak is en hy nie die bedoeling het om te testeer nie.  Die bewyslas rus op die persoon wat beweer dat ’n testament as gevolg van vreesaanjaging, onbehoorlike beïnvloeding of dwaling gemaak is.

 

Bron: Rauch Gertenbach Prokureurs

Ander Artikels

Afdwing van verbruikersregte deur die howe: Gebruik eers ander remedies
Justine Krige   Artikel 69 van die Wet op Verbruikersbeskerming (Wet 68 van 2008 [CPA]) sit ʼn verskeidenheid statutêre remedies uiteen vir die afdwing van verbruikersregte ingevolge die CPA. Dit sluit in die indien van ʼn klagte by die Nasionale Verbruikerskommissie (Kommissie), die verwysing van ʼn dispuut na die Verbruikerstribunaal (Tribunaal), of om ʼn bedryfsombudsman […]
Wie mag waar parkeer in ʼn meenthuiskompleks?
Vraag: “In die deeltitelskema waar ek woon is daar ʼn konstante gebaklei en gestry oor wie waar mag parkeer en wie verantwoordelik is vir die instandhouding van parkeerplekke. My vraag is: wie besluit watter dele van die skema vir parkeerplekke toegeken word, wie dit mag gebruik en wie dit moet in stand hou?” Antwoord: Wat […]
Moenie vanjaar val vir hierdie belastingslenters nie
Lede van die publiek ontvang dikwels ewekansig vals e-posse wat nagemaak is om te lyk asof hulle deur die SAID gestuur is, maar wat in der waarheid vals e-posse is wat daarop gemik is om niksvermoedende belastingbetalers uit te lok om persoonlike inligting, soos bankrekeningbesonderhede, te onthul. Voorbeelde sluit in e-posse wat skyn afkomstig te […]
1 2 3 150