Sanette Viljoen
Boedelbelasting kan vir jou erfgename ’n groot kopseer wees na jou afsterwe. Die Boedelbelastingwet maak voorsiening vir maniere om boedelbelasting te verminder of te vermy, daarom is dit raadsaam om jou boedelbelasting uit te werk wanneer jy jou testament opstel. Sodoende kan jy ook verseker dat daar genoeg kontant in jou boedel is om die nodige uitgawes, bv. eksekuteursfooie, begrafniskostes ens. te dek. Daar is deesdae baie maatskappye wat mens nader en meeding met vasgestelde boedelkostes; jy kan dus in beheer wees van jou boedel voor jou afsterwe.
-Hoe bereken ek my boedelbelasting?
Wanneer jy jou boedelbelasting bereken, tel jy sekere items bymekaar en daarna trek jy weer sekere items af.
– Alle eiendom van die oorledene. Dit sluit in enige reg op eiendom, inbegrepe roerende of onroerende, liggaamlike of onliggaamlike eiendom wat geregistreer is in die oorledene se naam ten tye van sy dood. Dit sluit ook sekere tipes annuïteite, opsies om grond of aandele te koop, welwillendheid en intellektuele eiendom in.
– Alle geagte eiendom van die oorledene. Dit sluit in versekeringspolisse, voordele betaalbaar deur pensioen- en ander fondse deur of as gevolg van die dood van die oorledene, skenkings, aanwas-eise en eiendom wat die oorledene by magte was om te vervreem onmiddellik voor sy dood.
As bogenoemde eiendom en geagte eiendom bymekaargetel word, sal dit die bruto waarde van die oorledene se boedel gee.
– Begrafniskoste en doodsbeduitgawes; skulde van die oorledene; administratiewe kostes; waardasiefooie; sekere buitelandse eiendom, usufructus of fideicommissum; bemakings aan publieke maatskaplike organisasies; onderhoudseise; items/bedrae wat geërf word deur die oorlewende eggenoot.
Die bedrag wat dan oorbly, is die netto waarde van die oorledene se boedel.
– Artikel 4A van die Boedelbelastingwet gee ’n korting van R3,500,000 (drie-en-ʼn-halfmiljoen rand). Hierdie korting kan van die boedel se netto waarde afgetrek word maar verminder derhalwe die waarde daarvan.
Die balans wat oorbly, is die belasbare boedelbedrag. Met ander woorde, dit is hierdie balans waarop jy boedelbelasting gaan betaal.
Boedelbelasting word bereken teen 20% van die belasbare boedelbedrag.
Byvoorbeeld, as Jan se belasbare boedel R1 miljoen is, betaal hy 20% daarvan aan boedelbelasting, met ander woorde R200 000.
Ten slotte, uit bostaande kan gesien word dat dit raadsaam is om jou boedelbelasting uit te werk, sodat jy verseker kan wees dat dit nie ’n enorme bedrag gaan wees nie. Gebruik die meganismes wat deur die Boedelbelastingwet tot jou beskikking gestel word om jou boedelbelasting te verminder. Gaan sien ’n professionele persoon om jou te help om jou testament só op te stel dat boedelbelasting nie ’n kopseer vir jou agtergeblewenes gaan wees nie.