Wenke vir veilige Internet-banksake

Vrydag, Februarie 12th, 2016

Tinus Vollgraaff

 

Internet-banksake het nie sonder rede een van die gerieflikste en deurdringendste vorms van banksake doen geword nie.

Baksteen-en-sement banke met hulle lang toue en papierwerk is byna oorblyfsels uit die verlede. Wie wil nou jou kosbare Saterdagoggend of middagete mors om eindelose vorms in te vul en tou te staan om jou rekenings te betaal wanneer om deur die Internet te bank so alomteenwoordig geword het? Tyd is geld en die beskikbaarheid van die Internet om sodoende via selfone, persoonlike rekenaars of skootrekenaars te bank, spaar ons beide.

Diegene wat nog nie daarna oorgeskakel het nie se kommer oor hulle veiligheid is egter ook geldig. Allerlei slenters het al oor die laaste dekade kop uitgesteek namate kubermisdadigers hierdie gewilde manier om te bank toenemend teiken as ʼn bron van oorvloed. Volgens die Britse koerant, The Guardian, is aanlyn bankbedrog die VK se vinnigste groeiende misdaad-area – dit het van £60m in 2014 verdubbel tot ʼn verwagte totaal van meer as £130m in 2015 – met die verliese vir verbruikers in sommige gevalle tot soveel as ʼn lewensveranderende £90,000 elk.

Kom ons kyk na ʼn paar basiese wenke wat jy as verbruiker kan toepas om jou banksake op die Internet so veilig te maak as wat dit gerieflik is.

 

  • Verander jou wagwoord gereeld en hou dit vertroulik

 

 

Deur jou wagwoord gereeld te verander maak jy dit moeiliker vir kubermisdadigers om dit te kraak en toegang tot jou rekenings te verkry. Jy mag onwetend jou gebruikersnaam en wagwoord laat uitlek het en deur dit te verander oefen jy ʼn bietjie skadebeheer het. Maak jou wagwoorde ook so onwaarskynlik as moontlik deur nie die gewone woorde en syfers te gebruik nie, soos jou naam en verjaarsdag.

Dit is ook van die uiterste belang om nie jou wagwoorde aan iemand te openbaar nie en dit ten alle tye geheim te hou (ʼn huweliksmaat mag ʼn uitsondering wees). Jou bank sal jou nooit oor die foon of via ʼn e-pos vir jou aanmeld-inligting vra nie. So moenie dit ooit uitgee aan iemand wat kastig ʼn bankamptenaar is nie of deur ʼn ongemagtigde e-pos te beantwoord nie. ʼn Gesteelde wagwoord is selfs gevaarliker as ʼn gesteelde bankkaart en dit gee die misdadiger direkte toegang om jou rekenings na willekeur te plunder.

As jy vermoed jou wagwoord of ander persoonlike inligting is gekompromitteer, kontak jou bank onmiddellik.  Voorkoming is beter as genesing, sê die spreekwoord.

 

  • Vermy die gebruik van openbare Internet-toegang

 

 

First National Bank maan ten sterkste teen die gebruik van algemene rekenaars by kuberkafees en biblioteke. Dit is besige plekke waar jou aanmeld-inligting nagespeur kan word of self met redelike gemak gesien kan word deur misdadigers wat rondsluip. As jy geen ander keuse het as om van sulke plekke af aan te meld nie, maak seker jy maak die kas- en soekgeskiedenis skoon, en vee alle tydelike lêers van die rekenaar af. Belangrikste van alles, moet nooit die blaaier (“browser”) toelaat om jou ID en wagwoord te onthou nie.

Moet ook nooit jou rekenaar – tuis, by die werk of enige plek – alleen laat nie. Teken uit sodra jy klaar is.

 

  • Bly op datum

 

 

Hou jou rekenaar op datum met die nuutste egte anti-virussagteware en brandmure. Maak seker jou persoonlike rekenaar is op die hoogte vlak van sekuriteit gestel.

Wees ook bewus van watter slenters deur swendelaars gebruik word om jou persoonlike inligting te bekom en toegang tot jou rekenings te verkry. Spoefery (“spoofing”), byvoorbeeld, is wanneer ʼn bedrieër ʼn webwerf bou om die egte werf na te boots. Dit beskik oor al die eienskappe en selfs dieselfde URL as die ware Jakob en word in ʼn e-pos aan jou gestuur om sekere vertroulike inligting te verifieer. Moet nooit by jou Internet-banksake ingaan via ʼn skakel in ʼn e-pos nie (ʼn slenter genaamd “phishing”), maar tik dit in jou blaaier in of stoor dit as jou “favourites”.

 

 

Bronne:

Action Fraud. 2013. “Tips for safe and secure online banking”. http://www.actionfraud.police.uk/tips-for-safe-and-secure-online-banking-jun13.

 

FNB. 2016. “Types of scams”. https://www.fnb.co.za/security-centre/types-of-scams.html.

 

HDFC Bank. 2012. “Seventipsforsafe internet banking”. http://www.hdfcbank.com/personal/Article/know-your-finances-article/hto2kzho/1341563676.

 

Brignall, M. 2015. “So you think you’re safe doing Internet banking?” The Guardian, http://www.theguardian.com/money/2015/nov/21/safe-internet-banking-cyber-security-online.

 

 

 

 

 

 

 

 

Ander Artikels

Skop vas en moenie onnodig koop nie
Anja van den Berg   Alles rakende jou supermark is bedoel om jou geld te laat bestee wat jy nie beplan het om te bestee nie, en selfs geld wat jy nie regtig hoef te bestee nie. Hoewel die meeste mense aan produkte dink in terme van die funksionele eienskappe daarvan – die instrumentele waarde […]
Agterbakse supermarktaktieke om jou onnodige goed te laat koop
Anja van den Berg   Het jy al ooit aanvaar dat iets ʼn winskoop is net omdat die prys in rooi geskryf is? Of besluit om daardie duur handsak of aktetas te koop omdat jy daarvan oortuig was dat jy dit verdien? Of ʼn hand vol ongesonde snoepgoed van die impulsrak gegryp terwyl jy toustaan […]
OTM-kaartruilslenters neem toe: Let op hiervoor!
Die Suid-Afrikaanse Bankrisiko-inligtingsentrum (Sabric) waarsku die publiek om op die uitkyk te wees te midde van die hoë voorkoms van OTM-kaartbedrog in die land. Die groep het gewaarsku dat daar weer ʼn “kaartruil”-skelmstreek in Suid-Afrika voorkom en ʼn uiteensetting van die betrokke skelms se modus operandi gegee om die publiek teen hul metodes te waarsku. […]
1 2 3 152