Deur Anja van den Berg
Min dinge is lekkerder as die opwinding om as jong gegradueerde jou eerste salaristjek te ontvang. Maar jy kan ook vreesbevange wees by die vooruitsig van verantwoordelik te wees vir die besteding van jou verdienste!
“As jy 'n onlangs gegradueerde is wat jou eerste inkomste verdien, is dit kritiek vir jou toekomstige finansiële sukses om jou finansiëlebeplanningsreis reg te begin,” sê Craig Torr, 'n gesertifiseerde finansiëlebeplanningsdeskundige.
Torr bied enkele finansiële wenke vir joung werknemers. Haal diep asem en maak planne om van die begin af finansieel kundig te wees.
Die oorgang van student na voltydse werknemer sal dit waarskynlik nodig maak om weer te kyk na die tipe bankrekening wat jy gebruik om jou finansies te bestuur. Doen jou huiswerk om vas te stel watter tipe rekening die geskikste is. Jy hoef nie by dieselfde bank te bly nie – doen wyd navorsing om na al jou opsies te kyk. Goeie bestuur van jou bankrekening is noodsaaklik om 'n goeie kredietgeskiedenis op te bou. Dit is dus die moeite werd om die tyd af te staan om jou banksake in orde te kry.
Span jou tegnologie in as deel van jou geldbestuurplanne. Die meeste banke het goeie gehalte apps om jou te help om jou rekeninge naatloos te volg en te moniteer, daarvoor te begroot en hulle sentraal te bestuur. Maak 'n gewoonte daarvan om jou besteding intyds te volg. Gebruik jou bank se app of laai 'n erkende alternatief af om seker te maak dat jou uitgawes nie jou inkomste oorskry nie.
Daar is nie 'n manier om gou ryk te word nie. Jy het tyd nodig … en saamgestelde rente! Begin spaar en belê die oomblik as jy jou eerste salaristjek kry. Of jy nou spaar vir aftrede of geld wegsit vir 'n toekomstige doelwit, daar is nie 'n beter tyd as nou nie. Dit sal ideaal wees as jy jou spaargeld outomatiseer sodat jou premies maandeliks van jou bankrekening afgetrek word. Maak seker dat jy die vlak van jou reserwes hersien as en wanneer jou inkomste vermeerder.
Torr spoor gegradueerdes aan om die bepalings van hul studentelenings te verstaan om te voorkom dat hulle paaiemente oorslaan, wat hul kredietgradering in die toekoms kan affekteer. Hy beveel ook aan dat hulle so ver moontlik van skuld af wegbly. As jy moet skuld maak, moenie meer leen as wat werklik nodig is nie en maak seker dat die skuldafbetalings bekostigbaar is.
Bron
Moneyweb: https://www.moneyweb.co.za/financial-advisor-views/eight-financial-planning-tips-for-graduates/
Oops! We could not locate your form.