Wenke om slaggate met afleggingspakkette te vermy

Dinsdag, Augustus 18th, 2015

Francois Smit

 

Afleggings is helaas ’n hartseer werklikheid van ons ekonomiese en arbeidslandskap. Maar wat selfs erger is, is om onwyse besluite met jou afleggingspakket te maak. Hier is ’n paar kort wenke om sulke besluite te vermy:

 

1. Skei emosies en syfers

Aflegging is op sy beste ʼn baie traumatiese ervaring. Die onsekerheid van die toekoms laat mense na grashalms gryp as hulle nie die nodige huiswerk gedoen het nie. Maak doodseker dat syfers jou lei met jou besluite, en nie die emosies oor dit wat jy dink moontlik kan gebeur nie.

 

2. Begrotings- en kontantvloeibeplanning is die hoogste prioriteit

Huishoudings se finansies, soos met besighede, hang af van in gesonde kontantvloei op die lang termyn. Wat baie mense as bates beskou, kan baie vinnig omsit in ʼn las op kontantvloei indien die bates nog belas is met skuld en nie passiewe inkomste lewer nie. Jou woonhuis is ʼn goeie voorbeeld hiervan. Kontantvloei is nou belangrik vir jou gemoed en om die lig in die tonnel te sien. Dit is baie belangrik dat jy ʼn begroting opstel. Jy moet presies weet waar jy kan bespaar en waar die klein jakkalsies in jou begroting wegkruip. Dit is die enigste beginpunt om kontantvloeibeplanning te doen.

 

3. Belasting en inflasie is ’n realiteit

Moet nooit net aanvaar dat dinge nou goed lyk sonder om in die toekoms in te dink nie. Inflasie het nie ʼn onmiddellike uitwerking nie, maar as dit in jou beplanning in ag geneem word, sal toekomstige verrassings verdwyn. Jy gaan met belasting gekonfronteer word, hetsy dit op ʼn skeidingspakket of op jou pensioenvoordele is. Maak seker dat jy kundige advies daaroor inwin.

 

4. Moenie deur blink Stafaanse uitgevang word nie – daar is ’n rede hoekom daar inligting bestaan oor bank- en aandelemarkopbrengste

As iemand jou probeer beïndruk met opbrengste wat ver bo die huidige bankrentekoerse en historiese aandelemarkopbrengste is, is daar ʼn slang in die gras. Dink daaraan as ʼn vrugteboom. Terwyl die boom daar is en versorg word, kan dit ʼn opbrengs lewer, party jare swakker as ander. Die gevaar is dat vrugte tydelik kunsmatig mooigemaak kan word met die regte voeding, terwyl die boom eintlik besig is om te vrek, en as die boom nie meer daar is nie, is daar ook nie vrugte nie, nooit weer nie. Moenie dat die vrugte jou verlei en jy op die ou einde die boom verloor nie.
5. Kry meer as een opinie

Dit is baie belangrik dat jy gemaklik voel met die mense wat met jou geld werk. Indien jy wil seker maak, kry nog ʼn opinie, al betaal jy daarvoor. Om R500 te bestee om seker te maak jou neseier is veilig, is die beste besluit wat jy in dié tyd kan neem.

 

Solidariteit Finansiële Dienste kan gekontak word by 012 644 4360 of sfdadmin@solidariteit.co.za

Ander Artikels

Skop vas en moenie onnodig koop nie
Anja van den Berg   Alles rakende jou supermark is bedoel om jou geld te laat bestee wat jy nie beplan het om te bestee nie, en selfs geld wat jy nie regtig hoef te bestee nie. Hoewel die meeste mense aan produkte dink in terme van die funksionele eienskappe daarvan – die instrumentele waarde […]
Agterbakse supermarktaktieke om jou onnodige goed te laat koop
Anja van den Berg   Het jy al ooit aanvaar dat iets ʼn winskoop is net omdat die prys in rooi geskryf is? Of besluit om daardie duur handsak of aktetas te koop omdat jy daarvan oortuig was dat jy dit verdien? Of ʼn hand vol ongesonde snoepgoed van die impulsrak gegryp terwyl jy toustaan […]
OTM-kaartruilslenters neem toe: Let op hiervoor!
Die Suid-Afrikaanse Bankrisiko-inligtingsentrum (Sabric) waarsku die publiek om op die uitkyk te wees te midde van die hoë voorkoms van OTM-kaartbedrog in die land. Die groep het gewaarsku dat daar weer ʼn “kaartruil”-skelmstreek in Suid-Afrika voorkom en ʼn uiteensetting van die betrokke skelms se modus operandi gegee om die publiek teen hul metodes te waarsku. […]
1 2 3 152