Klop dié bankirritasies met tegnologie

Vrydag, April 15th, 2016

Soos die ou gesegde sê, moenie harder werk nie, werk slimmer – dieselfde kan gesê word van die wyse waarop jy bank. Ons doen dikwels onwetend sake op ’n manier wat ons nie net frustreer nie maar onnodige tyd in beslag neem en geld mors wat gebruik kon word om ander uitgawes te dek.

“Om ’n kaart te kanselleer, bankbesonderhede te kry en iemand te betaal, is hoog op die lys van banktransaksies waarvoor verbruikers steeds na ’n tak toe gaan,” sê Eunice Sibiya, hoof van ENB se verbruikeropvoeding.

“Dis dalk nie ’n baie ooglopende uitgawe nie, maar om by ’n tak te bank, verg tyd ten opsigte van reis en in ’n tou staan en dit gaan jou waarskynlik meer aan bankgelde kos.”

Danksy tegnologie kon banke dienste en oplossings daarstel wat kliënte help om makliker en meer doeltreffend te bank en wat dit onnodig maak om na ’n tak te gaan. Daar is dikwels ook meer as een bankplatform, soos om via jou selfoon of ’n app te bank en selfbedientoestelle wat jou toelaat om dieselfde transaksie te doen sodat jy kan bank op die platform wat vir jou die maklikste is.

Een so ’n platform is die verskeidenheid selfbedienmasjiene soos outomatiese tellermasjiene (OTM’e), geldteldeposito-terminale (GDT’e) of kontantlose OTM’e met raakskerms. Hierdie masjien is nie net ideaal vir diegene wat nog versigtig is om met ’n mobiele toestel soos ’n slimfoon te bank nie, maar in  die algemeen het hulle ook ’n groter voetspoor as takke.

“Banke plaas selfbedientoestelle strategies in stede, voorstede en meer afgeleë areas om seker te maak dat alle bankkliënte maklik toegang het tot ’n toestel wat aan hulle die volle reeks bankopsies bied. ’n OTM is so naby as die garage om die hoek, wat dit weer eens onnodig maak om geld aan ’n ryery te bestee,” sê Sibiya.

Om ’n ryery na ’n tak te vermy, moet mens weet wat hierdie toestelle bied. Die volgende is ’n paar van die bankirritasies wat maklik vermy kan word deur selfbedientoestelle te gebruik.

 

Kaartkansellasies

Die besef dat jou kaart verlore of gesteel is, is genoeg om die soort paniek te veroorsaak wat jou laat vergeet waar jou kaartkanselleernommers is. Maak seker dat jy hierdie nommer op jou foon stoor en leer watter kaartkanselleeropsies vir jou beskikbaar is.

“Behalwe inbel na ’n oproepsentrum, het jou bank dalk ’n kaartkanselleeropsie op sy bank-app of, nog geriefliker, laat hy jou dalk toe om debiet- en tjekkaarte by ’n OTM te kanselleer – die perfekte opsie vir geval jou kaart deur ’n OTM ingesluk word of deur ’n bedrieër omgeruil word,” sê Sibiya.

 

Om besonderhede van jou bankrekening te kry

Baie min mense kan die besonderhede van hul bankrekenings onthou en die dokumentasie waarop dit gedruk is, word dikwels weggegooi. Dit maak dat baie kliënte na ’n tak toe gaan om die besonderhede te kry sodat iemand hulle kan betaal.

“Dit is verkwiste tyd omdat jou bank dalk ’n ‘betaal my asseblief’-fasiiteit op sy OTM’e het,” sê Sibiya.

Gaan by jou bank se OTM langs en kyk of dit ’n funksie het wat jou bankrekeningbesonderhede vir jou sal gee. Sommige banke het ’n drukfunksie wat dit op ’n strokie sal uitdruk of die opsie bied om ’n SMS met jou rekeningbesonderhede aan jou te stuur of aan die persoon wat jou moet betaal. Stoor die SMS sodat jy dit altyd byderhand het.

 

Gelddeponering

Ten spyte van die reeks elektroniese geldoordragopsies wat op verskillende bankplatforms beskikbaar is, kan fisiese kontant ongelukkig net by ’n tak of GDT gedeponeer word.

“’n GDT is die beste opsie vir deposito’s want jy kan tot 50% aan bankgelde spaar vergeleke met ’n binne-tak-deposito. Neem net kennis van die maksimum bedrag wat jy by ’n GDT kan deponeer omdat hierdie toestelle net deposito’s van 100 note op ’n keer kan aanvaar – as jou bedrag groter is, kan jy meer as een deposito doen of jy kan by die tak ingaan vir groter deposito’s,” raai Sibiya aan.

 

Maak dit makliker om iemand te betaal

Dit is nie ’n geheim nie dat dit nie net duurder is om kontant by jou te dra nie maar ook gevaarliker omdat al die geld verlore sal wees as ’n beursie met kontant gesteel word. Dit is nie die geval as jou beursie met jou kaarte gesteel word nie omdat ’n bedrieër jou kaart en PIN nodig het om toegang tot jou rekening te kry.

As jy nog nie op jou gemak is daarmee om elektroniese fondsoorplasings (EFO’s) van jou mobiele toestel af te doen nie, probeer om dit van ’n OTM of GDT af te doen. In plaas daarvan om kontant te trek en die geld fisies te oorhandig, laai die besonderhede van die mense wat jy wil betaal eenmalig in ’n tak (die besonderhede sal dan op jou profiel gestoor word) en doen die betaling via die betaalopsie van die OTM of GDT af.

“Vergewis jou van jou bank se selfbedienfasiliteite om seker te maak dat jy die beste gebruik van jou bankdienste maak. Kennis is mag en wanneer dit by banksake kom, meer geld en tyd,” sluit Sibiya af.

Ander Artikels

Skop vas en moenie onnodig koop nie
Anja van den Berg   Alles rakende jou supermark is bedoel om jou geld te laat bestee wat jy nie beplan het om te bestee nie, en selfs geld wat jy nie regtig hoef te bestee nie. Hoewel die meeste mense aan produkte dink in terme van die funksionele eienskappe daarvan – die instrumentele waarde […]
Agterbakse supermarktaktieke om jou onnodige goed te laat koop
Anja van den Berg   Het jy al ooit aanvaar dat iets ʼn winskoop is net omdat die prys in rooi geskryf is? Of besluit om daardie duur handsak of aktetas te koop omdat jy daarvan oortuig was dat jy dit verdien? Of ʼn hand vol ongesonde snoepgoed van die impulsrak gegryp terwyl jy toustaan […]
OTM-kaartruilslenters neem toe: Let op hiervoor!
Die Suid-Afrikaanse Bankrisiko-inligtingsentrum (Sabric) waarsku die publiek om op die uitkyk te wees te midde van die hoë voorkoms van OTM-kaartbedrog in die land. Die groep het gewaarsku dat daar weer ʼn “kaartruil”-skelmstreek in Suid-Afrika voorkom en ʼn uiteensetting van die betrokke skelms se modus operandi gegee om die publiek teen hul metodes te waarsku. […]
1 2 3 152