Wees dié stygings in deeltitel-heffings te wagte

Dinsdag, Februarie 14th, 2017

Vraag: “Ons regsliggaam het gewaarsku dat weens onlangse veranderinge in die deeltitel-wetgewing ons hoër as normale heffingstygings te wagte kan wees. Ek leef op ‘n beperkte begroting en hierdie nuus bekommer my baie. Is dit waar dat my heffings sal styg of maak die regsliggaam dit net op?”

Antwoord: Nuwe wetgewing wat die deeltitel-omgewing affekteer het onlangs in werking getree, naamlik die Wet op die Bestuur van Deeltitelskames, Wet 8 van 2011 (“WBDTS”) en die  Gemeenskapsskema Ombud Dienswet, Wet 9 van 2011 (“Ombud Dienswet”), met beide stukke wetgewing wat potensieel ‘n impak kan hê op deeltitel-heffings.

Die WBDTS vereis dat ‘n regsliggaam twee fondse vestig en handhaaf, naamlik 1.) ‘n administratiewe fonds, en 2.) ‘n reserwe fonds.

Die administratiewe fonds moet gebruik word om die beraamde jaarlikse operasionele uitgawes van die regsliggaam vir die betrokke finansiële jaar, te befonds. Sodanige uitgawes sal insluit die onderhoud, herstel, bestuur en administrasie van gemene eiendom, asook tariewe, belasting en ander munisipale kostes en versekeringspremies wat verband hou met die deeltitelgeboue of –grond.   Op sy beurt moet die reserwefonds hoofsaaklik gebruik word om die (onverwagse) kostes van toekomstige onderhoud en herstel van gemene eiendom te dek.

Die WBDTS-regulasies skryf spesifieke formules voor vir ‘n regsliggaam om die minimum bydrae tot die reserwefonds te bepaal. Daar is drie kategorieë:

Kategorie 1 –As die bedrag geld in die reserwefonds, aan die einde van die vorige finansiële jaar, minder as 25% van die totale bydraes tot die administratiewe fonds vir daardie vorige finansiële jaar is, moet die bydrae tot die reserwefonds minstens 15% van die totale begrootte bydrae tot die administratiewe fonds wees.

Kategorie 2 – As die bedrag geld in die reserwefonds, aan die einde van die vorige finansiële jaar, gelyk is aan of meer is as 100% van die totale bydraes tot die administratiewe fonds vir daardie vorige finansiële jaar, is daar geen minimum bydrae tot die reserwefonds nie. Daar is dus genoeg “reserwes” vir toekomstige onderhoud.

Kategorie 3 – Dit is wanneer die bedrag geld in die reserwefonds, aan die einde van die vorige finansiële jaar, meer as 25%, maar minder as 100% van die totale bydraes tot die administratiewe fonds vir die vorige finansiële jaar is.  Die begrootte bydrae tot die reserwefonds moet dan minstens die begrootte bedrag wees wat uit die administratiewe fonds spandeer gaan word op herstel en onderhoud van die gemene eiendom, in die finansiële jaar waarvoor begroot word.

As jou Deeltitelskema nie enige reserwefondse in plek het nie, val jy onder kategorie 1 en is dit waarskynlik dat jou heffings gaan styg vir die regsliggaam om die praktyk van ‘n reserwefonds in plek te stel.

Oor die algemeen is daar geen beperking met hoeveel die heffings kan styg nie, maar die bestuursreëls bepaal wel dat die regsliggaam, op gesag van ‘n geskrewe trustee-resolusie, die bydraes verskuldig deur die lede met ‘n maksimum van 10% aan die einde van ‘n finansiële jaar kan verhoog in aggenome die verwagte verhoogde aanspreeklikheid van die regsliggaam.

Die tweede stuk wetgewing – die Ombud Dienswet – is bedoel om die Gemeenskapsskema Ombud Dienswet in plek te stel en voorsiening te maak vir ‘n geskiloplossingsmeganisme om geskille in gemeenskapskemas (deeltitelskemas, huiseienaars-verenigings, behuisingskemas vir afgetrede persone, ens.) op te los én die goeie bestuur daarvan te verseker.

Elke gemeenskapskema moet op kwartaallikse basis in elke kalenderjaar ‘n verpligte heffing aan die Ombudsdiens betaal, onderhewig aan afslag of kwytskeldings soos voorgeskryf mag word. Die verpligte bydrae word bereken as volg:

Die mindere van R40, of 2% van die bedrag wat die maandelikse heffing deur die Skema gevra, R500 oorskry, m.a.w. (jou heffings minus R500) x 2% tot en met ‘n maksimum van R40.

Gebaseer op bogenoemde stukke wetgewing wat nou in plek is, is daar ‘n realistiese kans dat jou heffings kan styg om jou deeltitelskema in staat te stel om bydraes van jou en die ander eenhede in te vorder, om sodoende die heffing aan die Ombudsdiens te betaal asook ‘n reserwefonds vir die skema te vestig. Hoeveel jou heffings kan toeneem, sal verskil van een skema tot ‘n ander. Maar nietemin, berei jouself maar dié jaar voor vir die moontlikheid van ‘n hoër heffingstyging as gewoonlik.

 

Bron: BDP Prokureurs

Ander Artikels

Wie betaal vir die vervanging van ʼn meenthuis-uitlaatpyp?
Vraag: Gee asseblief raad oor wie verantwoordelik sou wees vir die vervanging van ʼn uitlaatpyp in die kombuis van ʼn eenheid as dit deurgeroes het en aan die buitekant van die eenheid afgebreek het.   Antwoord: Eienaars is verantwoordelik vir die herstel en onderhoud van hulle eenhede en die beheerliggaam het dieselfde verantwoordelikheid met betrekking […]
Tipes kontantbeleggings
VASTE DEPOSITOREKENING ʼn Vaste depositorekening is ʼn tipe spaarrekening waar jy jou kontant vir ʼn spesifieke tydperk deponeer in ruil vir ʼn vaste rentekoers, wat gewoonlik hoër is as een wat jy uit ʼn gewone bankrekening sou ontvang. Tipies vereis vaste depositorekenings dat fondse in die rekening gelaat word tot die vervaldatum, met moontlike boetes […]
Voertuigfinansiering verduidelik
Tensy jy ʼn rekenmeester is, is voertuigfinansiering gekompliseerd. Weet jy hoe finansieringsbepalings werk? Is dit ʼn goeie idee om ʼn residu te neem?  Wat van die rentekoers – moet jy dit vas of gekoppel neem? Ons het met WesBank gesels vir hierdie beginnersgids oor die finansiering van die motorvoertuig van jou drome! Bereken hoeveel jy […]
1 2 3 161