Wat om te vra voordat jy jou volgende motor koop

Vrydag, April 29th, 2016

Om ʼn motor te koop – nuut of gebruik – is nie ʼn maklike besluit nie. Waar begin ʼn mens? Ons het ʼn lys vrae saamgestel wat jy jouself kan afvra voor jy koop om te verseker dat jy jare lank goeie diens kry uit die motor wat jy huis toe neem.

Wat het jy nodig – of wat wil jy hê – wat jou huidige motor nie het nie?

As jy opgradeer, help dit om jouself af te vra waarvan jy nie in jou huidige motor hou nie of wat daarin ontbreek wat jy wil hê. Verkies jy ʼn ander soort ratkas? Wil jy graag ʼn sondak hê of is die grondvryhoogte te min? Gebruik die antwoorde om ʼn beeld van jou volgende voertuig te skep.

Hoeveel kan jy bekostig om te bestee?

Werk met twee bedrae: hoeveel jy wil bestee en wat jou absolute perk is. Of jy nou met finansiering of kontant koop, maak seker dat jy weet presies hoeveel jy kan spandeer. Onthou ook dat jou begroting voorsiening moet maak vir versekering. Doen ʼn bietjie navorsing en kry mededingende kwotasies op die voertuig wat jy oorweeg om te koop, sodat jy ʼn idee kan kry van hoeveel ekstra jy gaan betaal.

Jy moet ook ondersoek instel na die koste van die instandhouding. Vra jouself hoeveel jy elke maand aan brandstof kan bestee en na watter soort brandstofverbruik jy mik. Wat sal die vervanging van bande en dienste kos? Stel vas of daar ʼn diens- of instandhoudingsplan beskikbaar is; dit kan aanvanklik ʼn bietjie meer kos, maar jy kan op die lange duur geld spaar.

Waar gaan jy ry?

Neem jou soort ritte in ag. Langafstandritte op ʼn oop pad sal lekker wees in ʼn gemaklike dieselvoertuig, maar vir ritte in die dorp sal ʼn kompakte petrolvoertuig dalk meer geskik wees. ʼn Outomatiese motor sal perfek wees as jy elke dag in die verkeer sit, terwyl handratte meer pret op die oop pad kan verskaf.

Neem jou lewensmaat se motor ook in ag. Het jy ʼn sportnutsvoertuig (“SUV”) nodig om te vergoed vir sy/haar afslaankapmotor?

Watter kenmerke moet die motor hê?

Waarvoor gaan jy die motor gebruik? ʼn Verkoopsverteenwoordiger kan ʼn groot kattebak nodig hê, terwyl iemand wat die bosveld gereeld besoek ʼn motor met ʼn beter grondvryhoogte en ʼn hoër bestuursposisie sal verkies. As jy deel is van ʼn saamryklub, hoeveel skooltasse kan jy in die kattebak inpas? Maak seker die motor wat jy koop voldoen aan hierdie praktiese vereistes. As jy ʼn tweesitpleksportmotor koop omdat jy jou lewe lank een wou hê, hoe gaan jy vyf skoolkinders vervoer? Jy hou dalk van ʼn groot bakkie, maar het jy dit regtig nodig net om na vergaderings toe te ry?

Finansieringsterme en reswaardes

As jy nie kontant kan koop nie, maak seker jy verstaan elke jota en tittel van die finansiering van die transaksie. Het jy kontant vir ʼn deposito? Hoe lank is jy bereid om af te betaal aan die voertuig? Wanneer gedurende daardie tydperk sal jy dalk die motor wil inruil? Gaan jy ʼn reswaarde kies en, indien wel, hoe gaan jy dit afbetaal?

As jy jou jaarlikse ritte kan beperk tot ʼn gemiddeld van minder as 25 000 km, verhoog die voertuig se inruilwaarde; met ʼn reswaarde sal jy maandeliks minder spandeer en die motor se inruilwaarde sal hoog genoeg wees om die hoër kapitaalbalans te dek. As jy egter meer as die gemiddelde aantal kilometers ry, sal die inruilwaarde verminder en die reswaarde kan later ʼn probleem wees. Onthou die ballonbetaling moet aan die einde van die finansieringstermyn betaal word. As jy dus ʼn voertuig koop en nie van plan is om dit in te ruil nie, is ʼn reswaarde nie ʼn goeie idee nie, want die voertuig sal uiteindelik meer kos. Neem ʼn ingeligte finansiële besluit.

Daar is tans meer as 4 000 verskillende nuwe passasiers- en ligte handelsvoertuie te koop in Suid-Afrika. Doen jou huiswerk, toetsbestuur jou gunstelinge en maak seker jy kies die regte een.

Bron: AA

Ander Artikels

Art. 11(a) van die Wet op Inkomstebelasting en die aftrekbaarheid van renteonkoste op huislenings
Louis Botha     Op 13 Desember 2016 het die belastinghof in Kaapstad uitspraak gelewer in X v The Commissioner for the South African Revenue Service (saak no. 13791 & 13792, nog nie gerapporteer nie). Die saak het gehandel oor ʼn interessante vraagstuk, naamlik of uitgawes wat aan ʼn huislening aangegaan word om ʼn rente-inkomste […]
Huurverbeteringe: Mag ek vat of moet ek los?
Vraag: “Ons huur nou al vir ʼn paar jaar ʼn huis. Ek en my vrou het heelwat verbeterings aan die huis en tuin aangebring. Ek word nou verplaas en moet verhuis, maar wonder nou wat word van al die verbeterings aan die huurperseel. Mag ons dit saamneem of moet die verhuurder ons vergoed daarvoor?”   […]
Die beste wenke om jou huurdeposito terug te kry
Huurders in Suid-Afrika betaal tans enigiets tussen een en drie maande se huur as skadedeposito ─ maar is dikwels onseker van wat om te doen as hul huurkontrak verval. “Hoewel deposito’s dikwels gebruik word om huurwanbetaling of onbetaalde utiliteitsrekenings te dek, is hul hoofdoel om verhuurders teen skade aan die eiendom te dek,” sê Andrew […]
1 2 3 170