Elmien Ackerman
Jy sien dalk gereeld die advertensies op televisie vir mediese versekering wat belowe om duisende rande uit te betaal indien jy in die hospitaal beland. Hoewel mediese versekering effens goedkoper is as om aan 'n mediese fonds te behoort, bied 'n mediese fonds verskeie ander voordele.
‘n Mediese fonds bied dekking as jy in die hospitaal beland maar, na gelang van die opsie wat jy kies, kan dit doktersgelde, medikasie en spesialisbesoeke ook insluit. Met mediese versekering, andersyds, betaal hulle slegs as jy in die hospitaal opgeneem word.
Kom ons kyk na 'n vergelyking tussen 'n mediese fonds en mediese versekering:
Mediese fonds:
- Enigiemand kan aan 'n mediese fonds behoort ongeag ouderdom of gesondheid.
- As jy aan 'n mediese fonds behoort, word die fonds volgens wet verplig om vir Voorgestelde Minimum Voordele te betaal. Dit sluit alle noodgevalle, ‘n lys van 270 mediese toestande en 25 kroniese toestande in.
- Alle hospitaalverwante koste word deur jou mediese fonds gedek (na gelang van die opsie wat jy gekies het).
- As jy in die hospitaal beland, tree die mediese fonds met die hospitaal in verbinding en die rekening word namens jou betaal.
- Mediese fondse word gekontroleer deur die Raad vir Mediese Skemas (RMS), wat gekontak kan word as jy probleme met jou mediese fonds ervaar.
Mediese versekering:
- Met mediese versekering kan die versekeraar hoër premies eis vir ouderdom of sekere mediese toestande.
- Die meeste medieseversekering-verskaffers betaal nie vir Voorgestelde Minimum Voordele nie.
- Alhoewel mediese versekering vir sekere uitgawes betaal wanneer jy in die hospitaal beland, sluit dit gewoonlik ekstra uitgawes soos doktersgelde, medisyne en laboratoriumtoetse uit.
- Met mediese versekering word die bedrag vir jou mediese koste direk aan jou uitbetaal. Dit word dus jou verantwoordelikheid om jou mediese rekeninge te vereffen.
- Die ombudsman kan gekontak word as jy probleme ervaar alhoewel hulle nie sommer aandag gee aan sake wat klein bedrae behels nie.
Hier is 'n voorbeeld om verder die verskil tussen 'n mediese fonds en mediese versekering te illustreer:
Christiaan is 'n 28-jarige besigheidsman. Hy is 'n lid van 'n mediese fonds.
Anzel is 'n 26-jarige ontwerper. Sy het mediese versekering.
Albei is in 'n ernstige motorongeluk en word gehospitaliseer vir 10 dae. Albei se hospitaalrekeninge beloop R250 000.
Christiaan (mediese fonds):
- Christiaan betaal maandeliks R1 500 om aan sy mediese fonds te behoort.
- Na die ongeluk word Christiaan dadelik na een van die hospitale in sy mediese skema se netwerk geneem.
- Christiaan geniet die voordele wat sy mediese skema bied vandat hy in die hospitaal opgeneem word.
- Christiaan se hospitaalrekening is deur sy mediese fonds vereffen.
Anzel (mediese versekering)
- Anzel se mediese versekering is 'n bietjie goedkoper – sy betaal R900 per maand.
- Anzel moet eers R50 000 betaal voor sy by 'n private hospitaal opgeneem kan word.
- Anzel se mediese versekering betaal R3 000 vir elke dag wat sy in die hospitaal is. Sy kry dus R30 000 wanneer sy uit die hospitaal ontslaan word.
- Anzel moet haar hospitaalrekening van R250 000 betaal, maar sy het slegs R30 000 ontvang.
Dit lyk dalk aanloklik om duisende rande te ontvang as jy in die hospitaal beland, maar met stygende mediese koste bly dit steeds 'n beter opsie om aan 'n mediese fonds te behoort, selfs al kies jy 'n hospitaalplan.