Wat beteken diversifikasie van my beleggingsgeld?

Vrydag, Desember 4th, 2015

Francois Smit

 

Al ooit gehoor wanneer mense praat van al jou eiers in een mandjie sit?  Dit is interessant hoe mense se opinies daaroor verskil. ʼn Kliënt het by een geleentheid vir my gesê dat hy diversifiseer deur sy geld aan meer as een adviseur te gee om te bestuur.  Iemand anders voel dat diversifikasie plaasvind wanneer sy geld by meer as een bank gehou word. Dit is alles geldige argumente, maar is dit werklik ʼn verspreiding van risiko?

Die naaste aan die waarheid word gevind in verskillende bateklasse. Wat is ʼn bateklas? Dit is ʼn klassifisering van die tipe onderliggende bates wat in enige belegging met jou geld gekoop word. Die bekendste klasse is eiendom, aandele, effekte en kontant.  Diversifikasie beteken eerstens dat jou geld versprei word tussen die genoemde bates hierbo, en tweedens hoeveel geld in elke bateklas geplaas word.

Die keuse van hoeveel geld in elke bateklas geplaas gaan word, hang af van elke persoon se persoonlikheid, omstandighede en waar die persoon hom in sy lewensiklus bevind.  Die rede hiervoor is dat daar risiko’s aan elke bateklas verbonde is en elke persoon se aptyt vir risiko verskil.  Dit is egter broodnodig dat mense onderrig moet word oor die rede waarom daar risiko aan ʼn bateklas gekoppel word, en ook wat oor tyd met die risiko gebeur.

Diversifikasie kan ook verder afgebreek word binne elke bateklas.  Wat word daarmee bedoel? Neem aandele as ʼn bateklas. Deur verskillende aandele in verskillende maatskappye te koop, word reeds diversifikasie toegepas.  Selfs deur net een aandeel te koop, kan mens klaar diversifiseer. Hoe is dit moontlik? Neem tyd en Google ʼn maatskappy met die naam Remgro.  Dit is ʼn maatskappy wat ontstaan het uit die sakeryk van die Rupert-familie wat Rembrandt-sigarette vervaardig en verkoop het, en uitgebreide belange in die drankbedryf het.  Remgro koop aandele in ander kwaliteitmaatskappye.  Dit sluit onder andere in Medi Clinic, FirstRand-Groep (FNB Bank), Total, Rainbow Chickens, TSB (Transvaal Suiker), die PG Glass-groep, Distell (baie van die drank op winkelrakke se handelsmerke behoort aan Distell), en natuurlik Unilever (kyk hoeveel produkte in jou mandjie by Checkers is Unilever-produkte).

Waarop stuur ek af met al hierdie inligting?  Deur ʼn Remgro-aandeel te koop, word jou geld blootgestel aan, onder andere, mediese dienste, bankwese en versekering, die brandstofbedryf, die hoenderbedryf, suikerverplanting en -verwerking, glasprodukte, vele drankhandelsmerke en die meeste van die produkte in jou mandjie kruideniersware. Unilever verkoop Omo, Skip en Surf. Distell verkoop Amarula,  ʼn roomlikeur wat een van die topverkopers in die wêreld is.

Diversifikasie is dus nie wat dit op die oog af voorgee om te wees nie.  Dit verg dat ʼn mens dieper delf in die onderwerp en besef dat sommige van die eiers in een mandjie is sterker as ander, en dat daar  diversifikasie binne die mandjie self kan plaasvind.

Ander Artikels

Skop vas en moenie onnodig koop nie
Anja van den Berg   Alles rakende jou supermark is bedoel om jou geld te laat bestee wat jy nie beplan het om te bestee nie, en selfs geld wat jy nie regtig hoef te bestee nie. Hoewel die meeste mense aan produkte dink in terme van die funksionele eienskappe daarvan – die instrumentele waarde […]
Agterbakse supermarktaktieke om jou onnodige goed te laat koop
Anja van den Berg   Het jy al ooit aanvaar dat iets ʼn winskoop is net omdat die prys in rooi geskryf is? Of besluit om daardie duur handsak of aktetas te koop omdat jy daarvan oortuig was dat jy dit verdien? Of ʼn hand vol ongesonde snoepgoed van die impulsrak gegryp terwyl jy toustaan […]
OTM-kaartruilslenters neem toe: Let op hiervoor!
Die Suid-Afrikaanse Bankrisiko-inligtingsentrum (Sabric) waarsku die publiek om op die uitkyk te wees te midde van die hoë voorkoms van OTM-kaartbedrog in die land. Die groep het gewaarsku dat daar weer ʼn “kaartruil”-skelmstreek in Suid-Afrika voorkom en ʼn uiteensetting van die betrokke skelms se modus operandi gegee om die publiek teen hul metodes te waarsku. […]
1 2 3 152