Sanette Viljoen
Ontoerekeningsvatbaarheid is ’n algemene verskynsel in Suid-Afrikaanse howe en word dikwels misverstaan deur die publiek. Die volgende is slegs ’n opsomming van ontoerekeningsvatbaarheid en word baie meer breedvoerig mee in ons howe gehandel.
Voordat daar vasgestel kan word of ’n beskuldigde aan ’n misdaad skuldig is en of hy met die vereiste van skuld opgetree het, moet daar vasgestel word of hy inderdaad toerekeningsvatbaar was tydens die gewraakte misdaad. Die groot vraag is dus: Wat is toerekeningsvatbaarheid?
Kortom kan toerekeningsvatbaarheid soos volg beskryf word:
a) Die vermoë om tussen reg en verkeerd te onderskei, en
b) die vermoë om ooreenkomstig daardie onderskeidingsvermoë te handel.
Ontbreek een of albei van die bogenoemde vermoëns is daardie persoon ontoerekeningsvatbaar en kan hy of sy nie strafregtelik aanspreeklik gehou word vir die wederregtelike handeling wat verrig is nie.
Daar bestaan verskeie vorme van ontoerekeningsvatbaarheid. Elkeen word kortliks hieronder bespreek.
1. Nie-patologiese ontoerekeningsvatbaarheid
Nie-patologiese ontoerekeningsvatbaarheid is ʼn staat van geestesonvermoë waarin die beskuldigde tydens die daad verkeer het. Hierdie geestesonvermoë is nie as gevolg van ’n permanente sieklike (patologiese) geestesversteuring nie en is meestal tydelik van aard. Die begrip nie-patologiese ontoerekeningsvatbaarheid is wyd genoeg om gevalle in te sluit waar die beskuldigde beweer dat hy ontoerekeningsvatbaar was op grond van dronkenskap, provokasie of emosionele skok. Sodanige ontoerekeningsvatbaarheid is dus aan eksterne faktore te wyte.
2. Patologiese ontoerekeningsvatbaarheid
Wanneer die beskuldigde aan ‘n geestesongesteldheid ly wat sy of haar vermoë wegneem of beïnvloed om tussen reg en verkeerd te onderskei, of om ooreenkomstig daardie besef te handel, is so ‘n beskuldigde patologies (sieklik) ontoerekeningsvatbaar. Hierdie is ’n permanente toestand waaronder die beskuldigde verkeer.
3. Verminderde ontoerekeningsvatbaarheid
Verminderde toerekeningsvatbaarheid veroorsaak dat, waar bevind word dat ‘n beskuldigde in ‘n verminderde mate toerekeningsvatbaar was, hy of sy ligter gestraf word as in die geval van ‘n beskuldigde wat tydens die daad volkome toerekeningsvatbaar was (normale persone). Die leerstuk van verminderde toerekeningsvatbaarheid het daartoe begin lei dat persone aan die mindere misdaad van byvoorbeeld strafbare manslag skuldig bevind kon word op ‘n aanklag van moord. Verminderde toerekeningsvatbaarheid sal hoofsaaklik toepassing vind om straf te verminder, en het geen uitwerking op aanspreeklikheid nie.
Indien ’n beskuldigde dus ontoerekeningsvatbaar was tydens die gewraakte misdaad kan hy of sy vrygespreek word of wegstap met ’n aanklag op ’n verminderde misdaad.