Waarvoor is jou belastinggeld in 2012 aangewend?

Dinsdag, Februarie 19th, 2013

Op ʼn byna daaglikse grondslag basuin die koerantopskrifte dit uit: “Belastingbetalers moet opdok vir demokrasie”, “Belastingbetalers moet opdok vir ANC-eeufees”, “E-tol: Belastingbetalers sal ook opdok”, “Belastingbetalers hoes vir Simelane” en “Ál groter las op belastingbetalers.” Maar wie is hierdie “belastingbetalers”? NICO STRYDOM berig.

 

In 2012 het persoonlike inkomstebelasting 33,8% van die staat se belastinginkomste uitgemaak. Maatskappybelasting was 20,6% en belasting op toegevoegde waarde (BTW) was vir 25,7% van belastinginkomste verantwoordelik. Dit laat sowat 19,9% wat van belastings soos die brandstofheffing en invoertariewe afkomstig was.

Dit is egter belangrik om daarop te let dat die mense wat die meeste inkomstebelasting betaal, ook grotendeels die meeste van al die ander soorte belasting betaal. Eenvoudig gestel – mense met ʼn hoë inkomste het ook hoë uitgawes en betaal dus meer BTW en hulle besit ook aandele in maatskappye en betaal dus indirek ook maatskappybelasting.

Suid-Afrika het ʼn bevolking van nagenoeg 52 miljoen mense en sowat 33 miljoen hiervan is van werkende ouderdom (15 tot 64 jaar oud). Slegs sowat 13,7 miljoen mense in dié groep het egter ʼn werk. Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens voer in sy jongste inkomstebelastingstatistiek aan dat daar 13,7 miljoen mense vir belasting geregistreer is, toevallig net soveel as die aantal mense wat werk, hoewel dit nie noodwendig dieselfde individue is nie.

In 1994 het die getal op 1,7 miljoen gestaan en teen 2010/2011 was dit sowat 6 miljoen. In 2011 was daar ʼn beleidsverandering en moes alle werkende persone vir belasting registreer. In die media en algemene gesprekke is daar vroeër dikwels sommer losweg gepraat van “5 miljoen aktiewe belastingbetalers” en is dit intussen aangepas na “7 miljoen aktiewe belastingbetalers”.

Paul Joubert, senior ekonomiese navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), sê hierdie syfer gee egter nie werklik die aantal mense wat belasting betaal weer nie. “Net omdat iemand vir inkomstebelasting geregistreer is, beteken nie dat hy of sy noodwendig inkomstebelasting in ʼn spesifieke belastingjaar betaal het nie.

“Die 2010/11-belastingjaar kan as voorbeeld gebruik word. In dié tydperk was daar slegs sowat 4,7 miljoen mense wat belastingopgawes moes indien, hoewel daar sowat 5,9 miljoen geregistreerde belastingbetalers was. Van die 4,7 miljoen mense wat opgawes moes indien, kan onmiddellik 0,27 miljoen (5,7% van die 4,7 miljoen) afgetrek word, omdat hulle geen belasbare inkomste in die betrokke tydperk gehad het nie. Daar bly dan 4,4 miljoen oor. Van hierdie 4,4 miljoen was daar ongeveer 1,2 miljoen wat ’n inkomste van R1 tot R90 000 in die belastingjaar verdien het. Hierdie kwart van die belastingbetalers het slegs 1,1% van die totale inkomstebelasting vir die jaar bygedra – gemiddeld slegs 3,1% van hulle belasbare inkomste. Dié 1,2 miljoen mense kan dus kwalik belastingbetalers in die ware sin van die woord genoem word. As hulle almal van inkomstebelasting vrygestel was, sou die effek op die fiskus skaars merkbaar gewees het. Daar bly dan sowat 3,2 miljoen mense oor wat nagenoeg 99% van alle inkomstebelasting betaal het.”

Joubert sê hierdie 3,2 miljoen mense sluit ʼn groep van ongeveer 1,1 miljoen mense in wat ’n inkomste van R90 000 tot R150 000 per jaar verdien het en gesamentlik ʼn addisionele 7,2% van inkomstebelasting bygedra het.

“Hulle het gemiddeld byna 10% van hul inkomste aan inkomstebelasting afgestaan. Dit sou ietwat onakkuraat en ondankbaar wees om hierdie miljoen mense nie as ‘belastingbetalers’ te ag nie – 10% van iemand se inkomste is nie onbeduidend nie. Vir die doel van die artikel is dit egter tog insiggewend om hierdie miljoen mense uit die totaal te verwyder.

“Daar bly dan 2,1 miljoen belastingbetalers oor wat verantwoordelik was vir byna 92% van alle inkomstebelasting wat in 2010/11 ingevorder is. Hierdie 2,1 miljoen kan nog ʼn laaste keer verklein word deur diegene wat R150 000 tot R200 000 verdien het, uit te sluit. Daar bly dan sowat 1,4 miljoen mense oor wat verantwoordelik was vir nagenoeg 82% van alle inkomstebelasting wat ingevorder is.”

Kommentaar is gesluit.

Ander Artikels

Wie betaal vir die vervanging van ʼn meenthuis-uitlaatpyp?
Vraag: Gee asseblief raad oor wie verantwoordelik sou wees vir die vervanging van ʼn uitlaatpyp in die kombuis van ʼn eenheid as dit deurgeroes het en aan die buitekant van die eenheid afgebreek het.   Antwoord: Eienaars is verantwoordelik vir die herstel en onderhoud van hulle eenhede en die beheerliggaam het dieselfde verantwoordelikheid met betrekking […]
Tipes kontantbeleggings
VASTE DEPOSITOREKENING ʼn Vaste depositorekening is ʼn tipe spaarrekening waar jy jou kontant vir ʼn spesifieke tydperk deponeer in ruil vir ʼn vaste rentekoers, wat gewoonlik hoër is as een wat jy uit ʼn gewone bankrekening sou ontvang. Tipies vereis vaste depositorekenings dat fondse in die rekening gelaat word tot die vervaldatum, met moontlike boetes […]
Voertuigfinansiering verduidelik
Tensy jy ʼn rekenmeester is, is voertuigfinansiering gekompliseerd. Weet jy hoe finansieringsbepalings werk? Is dit ʼn goeie idee om ʼn residu te neem?  Wat van die rentekoers – moet jy dit vas of gekoppel neem? Ons het met WesBank gesels vir hierdie beginnersgids oor die finansiering van die motorvoertuig van jou drome! Bereken hoeveel jy […]
1 2 3 161