Waarom deeltiteleiendomme se gewildheid en pryse toeneem

Donderdag, Maart 24th, 2016

Eugene Brink

 

 

Deeltiteleiendomme is gewilder as ooit in Gauteng, en inderdaad in die hele Suid-Afrika.

Die vraag na hierdie tipes wonings neem onverpoos toe ongeag die inflasiedruk wat baie huishoudings deesdae voel.

Pam Golding se jongste indeks van residensiële eiendomme, wat ‘n indringende ontleding van eiedomstendense in Suid-Afrika gee, wys daarop dat net 10,9% van die residensiële bouplanne wat landwyd in 2000 goedgekeur is vir deeltiteleiendomme was; in 2015 was hierdie syfer 38%

Dr Andrew Golding, hoof uitvoerende beampte van die Pam Golding Properties-groep (PGP), sê dat hierdie neiging ook in Gauteng-areas sigbaar is.

“Oor die jare het ons gesien dat die deeltitelmark in sowel die Johannesburg- as die  Tshwane-streek toeneem in belangrikheid. Dit is nogal ‘n verskynsel en ons glo dat die tendens sal voortduur ongeag aanduidings dat die totale Suid-Afrikaanse ekonomie die laaste paar maande stadiger gegroei het.

“Die ontwikkeling in Midrand, een van die snels ontwikkelende groeisentra in die land, is ‘n interessante gevallestudie met betrekking tot die deeltitelmark. Lightstone, ‘n maatskappy wat navorsing oor residensiële eiendom doen, sê hoewel die getal residensiële eiedomme in Midrand sedert 2000 verdubbel het, daar ‘n massiewe 550%-groei in die getal deeltiteleiendomme was. Dit gee mens ‘n idee van presies hoe gewild hierdie vorm van eiendomseienaarskap geword het.”

Hy wys daarop dat daar ‘n aantal redes vir die groei in die deeltiteleiendomsmark in Gauteng en op nasionale vlak is, veral oor die afgelope 10 jaar. Hieronder tel die feit dat mense deeltitelontwikkelings begin sien het as goeie waarde vir geld en goeie sekuriteit.

“Hierbenewens wil baie mense die eiendomsmark betree terwyl ‘n woning nog binne hul bereik is. As gevolg van deeltitelwonings se bekostigbaarheid, bied hulle aan mense wat die eerste keer huis koop ‘n uitstekende manier om ‘n vastrapplek in die mark vir residensiële eiendom te kry.”

Voorts is daar ook toenemende verstedeliking in Gauteng en grond het die laaste tyd skaarser geword in die provinsie. Terselfdertyd het verkeersopeenhopings en vervoerkoste bly toeneem. Hierdie tendense moedig mense in Pretoria en Johannesburg aan om naby groeinodusse met maklike toegang tot die werkplek en opvoedkundige instellings te bly.

“Dit lei tot residensiële verdigting binne hierdie nodusse. Rosebank, Fourways, Midrand en Menlyn in Pretoria is net vier voorbeelde van sulke snel groeiende sentra en ons ervaar deurlopend ‘n vraag na gehalte-akkommodasie in of naby hierdie nodusse.”

Dit is nie net die woonstelleefstyl wat gewild is nie; meenthuis- en trosontwikkelings skiet ook op oral in die provinsie. “Mense wil leef in geïntegreerde gemeenskappe waar daar ‘n sterk klem is op sekuriteit, gedeelde koste en, toenemend, volhoubaarheid. Om dit anders te stel, hierdie tendens word aangedryf deur sake soos sekuriteit, stygende munisipale koste en onsekere elektrrisiteitvoorsiening.”

Ander Artikels

Skop vas en moenie onnodig koop nie
Anja van den Berg   Alles rakende jou supermark is bedoel om jou geld te laat bestee wat jy nie beplan het om te bestee nie, en selfs geld wat jy nie regtig hoef te bestee nie. Hoewel die meeste mense aan produkte dink in terme van die funksionele eienskappe daarvan – die instrumentele waarde […]
Agterbakse supermarktaktieke om jou onnodige goed te laat koop
Anja van den Berg   Het jy al ooit aanvaar dat iets ʼn winskoop is net omdat die prys in rooi geskryf is? Of besluit om daardie duur handsak of aktetas te koop omdat jy daarvan oortuig was dat jy dit verdien? Of ʼn hand vol ongesonde snoepgoed van die impulsrak gegryp terwyl jy toustaan […]
OTM-kaartruilslenters neem toe: Let op hiervoor!
Die Suid-Afrikaanse Bankrisiko-inligtingsentrum (Sabric) waarsku die publiek om op die uitkyk te wees te midde van die hoë voorkoms van OTM-kaartbedrog in die land. Die groep het gewaarsku dat daar weer ʼn “kaartruil”-skelmstreek in Suid-Afrika voorkom en ʼn uiteensetting van die betrokke skelms se modus operandi gegee om die publiek teen hul metodes te waarsku. […]
1 2 3 152