Vyf stappe tot finansiële vryheid

Donderdag, Junie 11th, 2015

Boitumelo Mothoagae, hoof van Kliënteverhoudingsbestuur, Liberty

 

Het jy al ooit daarvan gedroom om jou eie baas te wees, om ʼn Sabbatsrus te onderneem om sodoende ʼn nuwe loopbaan te loods? Droom jy daarvan om skuldvry en sonder enige finansiële spanning te leef?

Dit is nie so moeilik om finansiële vryheid te ervaar nie. Jy hoef nie 20 jaar te wag om hierdie doelwit te bereik nie. Het jy byvoorbeeld geweet dat as jy elke maand 20% van jou inkomste spaar, jy binne vier jaar genoeg geld sal hê om jou salaris vir sowat ’n maand te betaal? Dit is finansiële vryheid: om jouself keuses te bied.

Met die regte finansiële plan en toewyding is finansiële vryheid net ’n paar jaar ver.

Begin met ‘n plan: Praat met ’n finansiële adviseur om jou met hierdie ontleding te help

  • Verstaan wat jou bates is (huis, toekomstige inkomste) en watter verpligtinge (skuld) jy het.
  • Wat is jou inkomste en hoeveel bestee jy elke maand?
  • Waar sien jy jouself, finansieel gesproke, oor 5, 10, 15, 20 jaar? Verstaan die stappe wat jy nou moet doen om te verseker dat jy in die finansiële posisie sal wees waarin jy graag wil wees.
  • Stel vir jouself finansiële mikpunte en doelwitte. Wil jy binne vyf jaar vir jouself werk, of ’n huis koop? Wil jy op 55 aftree of jou kinders na private skole en universiteit toe stuur?

Jy moet ’n begroting hê: Verstaan jou behoeftes en begeertes

  • Wat is jou behoeftes? Watter uitgawes moet jy aangaan om te oorleef, soos huur/verband, kruideniersware?
  • Wat is jou begeertes? Daardie daaglikse uitgawes waarsonder jy kan leef, maar wat ’n belangrike deel van jou lewenstyl uitmaak.
  • Verdeel jou begroting in drie dele. Mik daarna om ’n maksimum van 50% van jou inkomste aan noodsaaklikhede te bestee en 15% tot 30% aan spaar. Wat oorbly, kan jy aan luukshede bestee.
  • Hou rekord van jou besteding: weet deurentyd presies waar jy met jou begroting staan. Dit help om ’n klein notaboekie met jou saam te dra en om al jou uitgawes neer te skryf.

Raak ontslae van skuld (veral korttermyn)

  • Maak dit ʼn prioriteit om ontslae te raak van skuld soos dié op jou kredietkaart, winkelkaarte, persoonlike lenings, ens. – hierdie soort skulde is ’n finansiële tronk.
  • Aanvanklik sal die ‘spaar’-gedeelte van jou begroting help om van die korttermynskuld ontslae te raak; dit is belangrik om nie nuwe skuld aan te gaan terwyl jy besig is om jou bestaande skuld te verminder nie.
  • As jy vind dat ’n kredietkaart te veel van ’n versoeking is, betaal dan liewer kontant vir jou daaglikse uitgawes.
  • Verhoog jou maandelikse motor- en huispaaiemente met 10%. ’n Bykomende betaling van 10% op jou verband sal jou beskerm teen enige rentekoersstygings en jy sal jou verband vyf jaar vroeër afbetaal.

Groei jou rykdom: hoe gouer jy begin spaar, hoe gouer sal jy finansieel vry wees.

  • Tussen 15% en 30% van jou inkomste behoort gespaar te word. As jy meer as dit kan spaar, sal jy nog gouer finansieel vry wees.
  • Betaal jouself eerste. Die eerste debietorder van die maand moet na ’n spaarrekening gaan.
  • Skep ’n noodfonds. Dit is wat jou sal help om nie in skuld te verval en jou finansiële plan te verongeluk nie.
  • Versekering is ook deel van ’n noodfonds. Min mense kan bekostig om hul huise of motors te vervang. Maak dus seker dat jy versekering het om ’n finansiële fiasko te voorkom.
  • Verseker jou toekomstige inkomste, wat jou grootste bate is. Maak ook seker dat jy mediese dekking in plek het.
  • Gebruik relevante/gepaste spaartuie vir verskillende doelwitte, soos byvoorbeeld aftree-annuïteite vir aftrede, effektetrusts vir mediumtermyndoelwitte en uitkeerpolisse vir opvoeding.
  • Evalueer jou belastingsituasie: praat met ’n belastingkonsultant om jou te help met die verlaging van jou belastingverpligtinge.

Moenie materialisties wees nie: mense wat finansieel vry is, swig nie voor groepsdruk nie

  • ʼn Motor is net daar om jou te vervoer; dit moet nie ʼn simbool wees van wie jy is of wat jy werd is nie.
  • As jy ’n kredietkaart moet gebruik om handelsmerkklere of duur toestelle te koop, kan jy dit nie bekostig nie.
  • Vermy onnodige inkopietogte deur jou krediet- en winkelkaarte tuis te los!
  • Ons almal hou daarvan om goed te lyk, maar om te veel te bestee aan selfversorging (manikure/pedikure, haarstyle, ens.) gaan jou duur te staan kom: dit kan jou jou finansiële vryheid kos!

 

Bron: www.liberty.co.za

 

Ander Artikels

Kry só die beste agent as jy huis verkoop
Vir baie van ons gaan die verkoop van ’n eiendom gepaard met hoë vlakke van angstigheid en onheil. So, waar kry mens iemand wat jy kan vertrou om jou deur die gevare en slaggate van die verkoopstransaksie te stuur? Volgens die Rawson Eiendomme is daar ’n paar belangrike goed om na op te let.   […]
Inkopies kan terapeuties wees
Dit is al gesê dat om op ʼn inkopie-tog te gaan negatief konnotasies het. Onder andere word materialisme en selfbevrediging voorgehou as redes om nie te koop nie. Om te koop en loerkoop (“window-shopping”) kan egter terapeuties wees, help jou om verandering te hanteer en verbeter jou bui. Moenie inkopie-terapie sommer afmaak as iets ligsinnig […]
Ken jou regte as ʼn deeltiteleienaar
Om in ʼn deeltitelkompleks te bly, het baie voordele. Dit kan egter minder aangenaam wees om te bly in ʼn kompleks wat deur andere bestuur word, veral as die voorsitter van die regspersoon hom of haar verbeel dat hy of sy meer magte as enigeen van die ander inwoners het. Laat ons dit duidelik stel: […]
1 2 3 160