Verstaan die plaaslike verkiesing

Woensdag, Julie 20th, 2016

Sanette Viljoen

 

 

Op 3 Augustus 2016 het jy as landsburger die kans om deel te neem aan die plaaslike verkiesing, wat verskil van die nasionale verkiesing. In die plaaslike verkiesing stem jy vir die politieke party wat jy in beheer van jou munisipaliteit wil hê. Jy stem ook vir die wykskandidaat wat namens jou in die raad sal praat en optree.

Daar is drie vlakke van regering in Suid-Afrika se demokrasie:

  • Nasionale regering: Maak en implementeer wette en beleide of riglyne vir die hele land.
  • Provinsiale regering: Maak en implementeer wette en beleide wat net die provinsie raak.
  • Plaaslike regering: Maak en implementeer verordeninge (wette wat net in daardie gebied geld).

 

Plaaslike regering bestaan uit drie soorte munisipaliteite:

 

  • Metropolitaanse rade (Metro’s): Metro’s is stede en gebiede waar daar baie mense woon. Metro’s word in wyke verdeel en word deur ’n metropolitaanse raad bestuur. Hulle deel nie bevoegdhede en magte met distriksrade nie. Daar is agt metro’s: Ekurhuleni (Oos-Rand), die Stad Johannesburg, die Stad Tshwane (groter Pretoria), Nelson Mandelabaai (groter Port Elizabeth), eThekwini (groter Durban), die Stad Kaapstad, Buffalo City (groter Oos-Londen) en Mangaung (groter Bloemfontein).

 

  • Plaaslike rade: Gebiede wat buite die agt metro’s val, word in plaaslike munisipaliteite verdeel. Kleiner dorpe en stede waar minder mense woon, het plaaslike munisipaliteite. Hulle deel bevoegdhede en magte met die distriksrade. Daar is 226 plaaslike munisipaliteite in die land, en elkeen is in wyke verdeel.

 

  • Distriksrade: Daar is 44 distriksrade wat ontwikkeling en lewering van dienste organiseer. Hulle bestaan uit ’n aantal plaaslike munisipaliteite wat een distrik uitmaak. Daar is gewoonlik vier tot ses plaaslike munisipaliteite in ’n distriksraad. Distriksrade deel bevoegdhede en magte met plaaslike rade. In munisipale of plaaslike verkiesings stem jy vir ’n politieke party en die wykskandidaat van jou keuse.

    Hoe werk stemmery in plaaslike regering?

    As jy binne die gebied van ’n metropolitaanse raad of metro woon, sal jy twee stembriewe kry:

  • Die gele is ’n stembrief vir proporsionele verteenwoordiging (PV). Met ander woorde, hoe meer stemme ’n party kry, hoe meer setels kry hulle. Hier stem jy vir ’n politieke party.
  • Die witte is vir die wyksverkiesings en jy stem vir ’n persoon om namens jou te praat en op te tree.                                                                                                                                                                                                                                 As jy in die gebied van ʼn plaaslike raad of ’n distriksraad woon, sal jy drie stembriewe kry:
  • Die gele is ’n stembrief vir PV. Hier stem jy vir ’n politieke party (plaaslike raad).
  • Die witte is vir die wyksverkiesings en jy stem vir ’n persoon om jou wyk te verteenwoordig.
  • Die groene is ’n stembrief vir PV. Hier stem jy vir ’n politieke party (distriksraad).

Ander Artikels

Wie betaal vir die vervanging van ʼn meenthuis-uitlaatpyp?
Vraag: Gee asseblief raad oor wie verantwoordelik sou wees vir die vervanging van ʼn uitlaatpyp in die kombuis van ʼn eenheid as dit deurgeroes het en aan die buitekant van die eenheid afgebreek het.   Antwoord: Eienaars is verantwoordelik vir die herstel en onderhoud van hulle eenhede en die beheerliggaam het dieselfde verantwoordelikheid met betrekking […]
Tipes kontantbeleggings
VASTE DEPOSITOREKENING ʼn Vaste depositorekening is ʼn tipe spaarrekening waar jy jou kontant vir ʼn spesifieke tydperk deponeer in ruil vir ʼn vaste rentekoers, wat gewoonlik hoër is as een wat jy uit ʼn gewone bankrekening sou ontvang. Tipies vereis vaste depositorekenings dat fondse in die rekening gelaat word tot die vervaldatum, met moontlike boetes […]
Voertuigfinansiering verduidelik
Tensy jy ʼn rekenmeester is, is voertuigfinansiering gekompliseerd. Weet jy hoe finansieringsbepalings werk? Is dit ʼn goeie idee om ʼn residu te neem?  Wat van die rentekoers – moet jy dit vas of gekoppel neem? Ons het met WesBank gesels vir hierdie beginnersgids oor die finansiering van die motorvoertuig van jou drome! Bereken hoeveel jy […]
1 2 3 161