Vermy dié slaggate as jy ’n deeltiteleiendom huur

Donderdag, Maart 24th, 2016

Voordat huurders hulle huurkontrak vir hulle volgende deeltitelwoonstel of -meenthuis teken, moet hulle ’n paar voorsorgmaatreëls tref, sê Greg Harris, HUB van Chas Everitt Property Rentals.

 

Finansiële posisie van kompleks en eienaar

 

Ten aanvang moet hulle seker maak dat die deeltitelskema se finansiële posisie gesond is en dat dit goed bestuur word, want as die eienaars nalatig is met die betaling of invordering van die heffings en die regspersoon ondervind ’n geldtekort, sal die instandhouding van die gebou of kompleks onvermydelik tekort skiet en hulle sal baie gou  in ’n vervalle omgewing bly.

As die verhuurder hierbenewens een van die eienaars is wie se heffings agterstallig is, kan daar beslag gelê word op die eenheid wat hulle huur en dit kan in eksekusie verkoop word om die agterstallige heffings te verhaal, wat hulle in ’n baie onsekere situasie sal laat.

 

Wat sluit die huurgeld in of uit?

 

Tweedens moet deeltitelhuurders baie seker maak van wat hul maandelikse huurgeld dek en of en hoe enige styging in heffings hulle sal raak.

In die algemeen is die eienaar van die eenheid of die verhuurder in ’n deeltitelskema verantwoordelik vir die instandhouding van of herstelwerk aan die binnekant van die eenheid terwyl die instandhouding van die buitekant en gemeenskaplike areas soos tuine en motorhuise die verantwoordelikheid van die regspersoon is en uit die maandelikse heffings betaal word.

Dit beteken egter nie noodwendig dat huurders hulle nie hoef te bekommer oor die jaarlikse verhoging van die heffings nie of oor spesiale heffings wat aan eienaars opgelê word nie. Voordat hulle die huurkontrak teken, moet hulle dit noukeurig nagaan om te kyk of dit bepaal dat die verhuurder die huurgeld mag verhoog in die geval van ’n styging in die heffing.

En terwyl hulle daarmee besig is, moet hulle ook uitvind of hulle huurgeld byvoorbeeld parkering of die gebruik van ’n stoorarea insluit en of hulle maandeliks ’n bykomende bedrag daarvoor sal moet betaal, en hoe hulle vir munisipale dienste aangeslaan gaan word. Dit is altyd beter as eenhede hul eie afsonderlike elektrisiteits- en watermeters het.

Debitering kan baie onbillik wees en die oorsaak van baie ongelukkigheid en selfs dispute in skemas waar die regspersoon steeds een algemene rekening vir dienste van die plaaslike owerheid kry en dit onder die inwoners verdeel volgens die relatiewe grootte (DK, oftewel deelnemingskwota) van hul eenhede.

 

Wat is die gedragsreëls?

 

Die derde saak wat voornemende huurders moet kontroleer, is die gedragsreëls wat op ’n bepaalde deeltitelskema betrekking het. Volgens wet moet ’n kopie daarvan aan die getekende huurkontrak vasgeheg wees, maar dit is altyd goed om dit voor die tyd deur te gaan.

Die huurkontrak bevat byvoorbeeld geen bepalings oor troeteldiere nie, maar indien die reëls troeteldiere verbied, kan dit die eenheid ongeskik maak vir sekere huurders en gevolglik sal dit vir al die partye baie beter wees as hulle daarvan bewus is voordat hulle ’n huurkontrak teken.

 

Wie bestuur die kompleks?

 

Laastens is dit die moeite werd om in gedagte te hou dat deeltitelskemas in die algemeen beter bestuur word as die trustees ’n professionele bestuursagentskap aanstel om die heffings doeltreffend in te vorder en te administreer en hulle te help om die gebou of kompleks behoorlik te bestuur.

Ander Artikels

Wie betaal vir die vervanging van ʼn meenthuis-uitlaatpyp?
Vraag: Gee asseblief raad oor wie verantwoordelik sou wees vir die vervanging van ʼn uitlaatpyp in die kombuis van ʼn eenheid as dit deurgeroes het en aan die buitekant van die eenheid afgebreek het.   Antwoord: Eienaars is verantwoordelik vir die herstel en onderhoud van hulle eenhede en die beheerliggaam het dieselfde verantwoordelikheid met betrekking […]
Tipes kontantbeleggings
VASTE DEPOSITOREKENING ʼn Vaste depositorekening is ʼn tipe spaarrekening waar jy jou kontant vir ʼn spesifieke tydperk deponeer in ruil vir ʼn vaste rentekoers, wat gewoonlik hoër is as een wat jy uit ʼn gewone bankrekening sou ontvang. Tipies vereis vaste depositorekenings dat fondse in die rekening gelaat word tot die vervaldatum, met moontlike boetes […]
Voertuigfinansiering verduidelik
Tensy jy ʼn rekenmeester is, is voertuigfinansiering gekompliseerd. Weet jy hoe finansieringsbepalings werk? Is dit ʼn goeie idee om ʼn residu te neem?  Wat van die rentekoers – moet jy dit vas of gekoppel neem? Ons het met WesBank gesels vir hierdie beginnersgids oor die finansiering van die motorvoertuig van jou drome! Bereken hoeveel jy […]
1 2 3 161