Tinus Vollgraaff
Nitesh Patel, hoof van finansiële oplossings by Standard Bank, het onlangs ‘n herrie veroorsaak toe hy mense aangeraai het om om geld te spaar deur die drang om nuwe boeke te koop te onderdruk. Dit was dus glad nie onverwags dat sy mening tegelyk aangeval en geprys is nie.
Wat jou mening ook al is, boeke kan verseker tweedehands gekoop word, en ook ‘n wye reeks ander vermaaklikheidsgoedere; jy kry dieselfde waarde en gebruik daaruit maar teen ‘n fraksie van die prys. Dikwels is die enigste oorweging die gewilligheid om te wag vir iets om ouer te word en vir die aanvraag om af te neem.
Met Desember om die draai en begrotings wat knyp, laat ons kyk watter vermaaklikheidsprodukte tweedehands gekoop kan word wanneer geld skaars is.
DVD’s en videospeletjies
DVD’s en speletjies vir konsoles soos Playstation en Xbox moet as ‘n reël tweedehands gekoop word, behalwe as dit onherstelbaar gekrap is. Hierdie speletjies en prente is net so bruikbaar soos nuwes, maar teen ‘n baie laer prys.Gaan kyk in pandjieswinkels, vlooimarke en tweedehands-winkels soos Cash Crusaders vir goeie pryse vir tweedehandse DVD’s en speletjies.
Boeke
Patel het beslis iets beet.
Mens kan enigiets tussen R200 en R600 betaal vir nuwe boeke – veral treffers – as gevolg van groot aanvraag. Kleinhandelaars wil soveel moontlik inoes voordat dit gister se stories word. Maar dit is juis die ding: Daardie stories “verval” nie as die boek ouer word nie. Twee jaar van nou af gaan daardie spioenasiestorie nog net so boeiend en meesleurend wees as nou.
Sommige tweedehandse boeke lyk dalk ietwat vergeel en slonsig, maar in die algemeen is hulle in ‘n goeie toestand nadat dit deur net een persoon of glad nie gelees is nie omdat dit ‘n ongevraagde Kersgeskenk was. Weereens is tyd die beslissende faktor: Jy moet bereid wees om ‘n paar maande te wag vir ‘n nuwe boek om nie meer so nuut te wees nie en vir die aanvraag om af te neem. Dit kan ‘n R400-randverskil beteken, maar maak seker dat al die bladsye daar is want ‘n onvolledige storie is glad nie ‘n storie nie.
“Gadgets” en elektronika
Met die hoë omset in “gadgets” as gevolg van die mededinging tussen firmas wat mekaar wil uit-innoveer, kan mens maklik allerhande soorte elektronika – selfs nuwe toestelle – teen drasties verlaagde pryse koop. Sowel Cash Crusaders as Cash Converters bevestig dat die meeste goedere wat by hulle winkels ingeruil word, elektronika is, waar onder iPads, iPods, slimfone, skootrekenaars en platskerm-TV’s. “Ons het ‘n hoë omset in selfone en in die mark waarin ons verkoop, met ‘n gemiddelde huishoudelike inkomste van tussen R11 000 en R14 000, is die neiging om meer as een selfoon te hê,” sê die bemarkingsbestuurder van Cash Crusaders, Alaine Rossouw.
Richard Mukheibir, hoof uitvoerende beampte van Cash Converters, stem saam en voeg by dat “na gelang tegnologie verbeter, is die goedere wat ons koop en verkoop van ’n hoër gehalte. Waar Apple-produkte vyf jaar gelede skaars was, ruil ons nou iPads, iPods en slimfone in, wat ’n beduidend hoër gemiddelde waarde het.”
So, as dit in ‘n werkende toestand is en nie te vuil nie, is dit baie wys om elektronika en “gadgets” tweedehands te koop want hulle gee ons dieselfde funksionaliteit en beloning as nuwes.
Speelgoed en bordspeletjies
Moenie meer as R400 betaal nie! Ouer Monopoly-geld is steeds Monopoly-geld en jou tweejarige kind sal net soveel pret met ‘n ouer speelgoedlorrie hê wat in ‘n goeie toestand is as met ‘n nuwe een. Dis net die ouers wat skuldig voel as hulle gebruikte speelgoed vir hul kinders koop want kinders vergelyk nie hulself met andere soos grootmense doen nie. Hulle wil net speel en sal buitendien ‘n nuwe speelding ook binne ‘n dag verrinneweer.
Bronne:
Hanna Barry, 14 February 2014, “Hard times boost trade in high-value second-hand goods”, Moneyweb, http://www.moneyweb.co.za/archive/hard-times-boost-trade-in-highvalue-secondhand-goo/.
Oops! We could not locate your form.