Verbruikerswet bring gemoedsrus vir kopers van 2dehandse voertuie

Vrydag, November 25th, 2016

Sanette Viljoen

 

 

 

Om ’n tweedehandse voertuig te koop, is altyd ’n risiko. Nie almal kan dit egter bekostig om ’n voertuig uit die boks te koop nie. Daar is wel goeie nuus vir die kopers van tweedehandse voertuie. Die Wet op Verbruikersbeskerming het menige verandering in die motorbedryf meegebring.

Die belangrikste verandering is seker dié van bewyslas. Die bewyslas vir defekte of dienste wat nie gelewer is nie, berus nie meer by die verbruiker nie. Dit haal ’n groot las van die skouers van die verbruiker af. Die verbruiker hoef dus nie meer, soos voorheen, die koste aan te gaan en deur ingewikkelde klagteprosedures te gaan om teen gewetenlose of nalatige ondernemings op te tree nie.

Verbruikers moet hulle vergewis van hul regte, aangesien hulle nou beter toegerus is om dit af te dwing. Hou altyd die bepalings van die wet in gedagte wanneer jy met ’n verskaffer of diensverskaffer in die motorbedryf onderhandel.

’n Belangrike bepaling in die wet is die minimum waarborg van ses maande wat outomaties geïmpliseer is wanneer ’n nuwe of tweedehandse voertuig gekoop word. Dit beteken dat ’n handelaar nie ’n waarborg van minder as ses maande mag uitreik nie. Dit is egter net van toepassing op transaksies tussen ondernemings en verbruikers, en nie op private transaksies of transaksies tussen ondernemings nie.

Handelaars is ook verplig om alle foute aan ’n voertuig bekend te maak en die kliënt op grond daarvan die geleentheid te gee om die voertuig te aanvaar of te verwerp.

Die wet het ook spesifieke bepalings met betrekking tot dokumentasie. Versteekte inligting in die fyn druk van ’n kontrak word nie meer toegelaat nie. Alle kontrakte moet in implisiete, eenvoudige leketaal aan die verbruiker beskikbaar wees en in die taal van sy keuse. Dit berus by die verskaffer om te verseker dat die verbruiker alle dokumente duidelik verstaan. Dieselfde geld vir kwotasies en diens. Wanneer ’n verbruiker byvoorbeeld ’n kwotasie kry vir spesifieke werk wat aan sy voertuig gedoen moet word, hoef hy net daarvoor te betaal en nie vir enige ekstra werk wat gedoen is en nie by die kwotasie ingesluit was nie.

Die wet bepaal dat die koper in sekere omstandighede die reg het om goedere na die handelaar terug te neem vir volle terugbetaling. Dit is ’n algemene reg en is van toepassing as die verbruiker, nadat hy ’n produk ontvang het, vasstel dat dit nie is wat hy bestel het of wat deur die handelaar geadverteer is nie. Wat dit beteken, is dat die vervaardiger, invoerder, verspreider en handelaar seker moet maak dat die betrokke produk voldoen aan die gehaltevoorskrifte wat in die Verbruikerswet uiteengesit word. Indien nie hieraan voldoen word nie, het die koper die reg om binne ses maande na die transaksie steeds die volle koopsom terug te eis. Nog ’n interessante punt is dat die verbruiker die keuse het of hy die produk waarmee hy ontevrede is, wil laat regmaak of wil laat vervang en of hy die koopsom wil terug hê.

Indien die koper besluit om dit te laat herstel en dieselfde (of ’n nuwe) probleem verskyn weer binne drie maande, het die koper die reg om die volle koopsom terug te eis. Hierdie bepalings kan ernstige gevolge vir die motornywerheid inhou omdat al hierdie herstelkoste vir die handelaar se rekening gaan wees.

 

Ander Artikels

Art. 11(a) van die Wet op Inkomstebelasting en die aftrekbaarheid van renteonkoste op huislenings
Louis Botha     Op 13 Desember 2016 het die belastinghof in Kaapstad uitspraak gelewer in X v The Commissioner for the South African Revenue Service (saak no. 13791 & 13792, nog nie gerapporteer nie). Die saak het gehandel oor ʼn interessante vraagstuk, naamlik of uitgawes wat aan ʼn huislening aangegaan word om ʼn rente-inkomste […]
Huurverbeteringe: Mag ek vat of moet ek los?
Vraag: “Ons huur nou al vir ʼn paar jaar ʼn huis. Ek en my vrou het heelwat verbeterings aan die huis en tuin aangebring. Ek word nou verplaas en moet verhuis, maar wonder nou wat word van al die verbeterings aan die huurperseel. Mag ons dit saamneem of moet die verhuurder ons vergoed daarvoor?”   […]
Die beste wenke om jou huurdeposito terug te kry
Huurders in Suid-Afrika betaal tans enigiets tussen een en drie maande se huur as skadedeposito ─ maar is dikwels onseker van wat om te doen as hul huurkontrak verval. “Hoewel deposito’s dikwels gebruik word om huurwanbetaling of onbetaalde utiliteitsrekenings te dek, is hul hoofdoel om verhuurders teen skade aan die eiendom te dek,” sê Andrew […]
1 2 3 170