Verbeter probleemoplossing met dié wenke

Dinsdag, November 29th, 2016

Eugene Brink

 

 

 

Hoekom word ondervinding so beklemtoon as iemand aangestel word? Die eenvoudige antwoord is dat dit vir werkgewers wys dat iemand geleer het hoe om probleme op te los en die teorie wat hy bemeester het op verskillende probleme toepas.

ʼn Aantal opnames deur maatskappye soos Microsoft en die BBC oor die vaardighede wat gegradueerdes nodig het, beskou almal probleemoplossing en sy verwante vaardighede soos beplanning, ontleding en organisering as van die mees gesogte vermoëns as dit by gegradueerdes se aanstelbaarheid kom.

Probleemoplossing is waaroor werk gaan en ʼn universiteitsgraad of ʼn ander tersiêre kwalifikasie kan jou nie leer om elke krisis of probleem wat in die loop van jou loopbaan voorkom te hanteer nie. Dit is ʼn vaardigheid wat aangeleer en verbeter word deur werklike probleme op te los en nuwe tegnieke aan te leer.

Maar hoe verbeter mens jou probleemoplosvermoëns? Hier is ʼn paar praktiese wenke:

 

Fokus op die oplossing ─ nie die probleem nie

Strateeg en afrigter Zoë B sê neurowetenskaplikes het bewys dat jou brein nie ʼn oplossing kan vind as jy op die probleem fokus nie. “Dit is omdat jy effektief ‘negatiwiteit’ voer as jy op die probleem fokus, en dit aktiveer op sy beurt weer negatiewe emosies in die brein. Hierdie emosies blokkeer potensiële oplossings. Ek sê nie jy moet die ‘probleem ignoreer’ nie ─ probeer eerder kalm bly.”

 

Definieer die probleem en benader dit neutraal

Loopbaandeskundige Debbie Allen raai ons aan om tyd aan die oplossing van die probleem te bestee. “Verstaan die kriteria vir ʼn goeie besluit en genereer ʼn paar goeie opsies.”

Zoë B voeg by dat ons nie probleme as “bangmaakgoed” moet beskou nie. “As mens daaraan dink, wat is ʼn probleem? Eintlik is dit net terugvoer oor jou huidige situasie. Al wat ʼn probleem vir jou sê, is dat iets op die oomblik nie werk nie en dat jy dit op ʼn nuwe manier moet hanteer. So, probeer probleme neutraal benader ─ sonder om enigsins te oordeel.”

“Voor jy begin, maak seker dat jy goed begryp presies wat die probleem is. Soms lyk dit asof daar ʼn klomp probleme is, maar eintlik is dit net een met ʼn klomp simptome. Moenie ʼn berg van ʼn molshoop maak nie. Dit is presies hoekom ʼn stabiele gemoed van die grootste belang is. Onthou, vir elke probleem is daar ʼn oplossing,” sê Lynn Silva, besigheidsmentor en bydraer tot Lifehack.com.

Daarbenewens, sê sy, moet jy soveel feite as moontlik uitsnuffel sodat jy jou potensiële oplossing op bewyse baseer en nie op gevoelens nie. Feite sal ook die probleem duidelik skets en jou help om dit akkurater te definieer.

 

Identifiseer die oorsake en wees oopkop

Silva sê ons moet kyk na hoe en hoekom dit gebeur het. “Beskou die probleem uit verskillende perspektiewe. Speel duiwelsadvokaat. As jy weet hoe om dit op te los, is dit nie ʼn probleem nie. Dit is hoekom dit noodsaaklik is om ander sienings en menings te oorweeg. Ander mense beskou dit dalk anders.”

Zoë B stel voor dat jy die “rigting” van jou gedagtes verander deur lateraal te dink. “Probeer om jou benadering te verander en op ʼn nuwe manier na goed te kyk. Probeer rondspeel met jou doelwit en soek na ʼn oplossing wat diametraal die teenoorgestelde is!”

Dinkskrums is ʼn groot deel van probleemoplossing omdat dit nuwe moontlikhede en oplossings ontsluit. Ander mense het dalk nie jou blindekolle nie of sien bloot dinge anders. Moenie bang wees om hulp te vra nie.

 

Speel speletjies

Speletjies en raaisels sal jou dwing om kreatief oor die oplos van probleme te dink; hulle verdiep jou denke en leer jou om deur uitdagings te volhard. En boonop is dit pret! Die Universiteit van Kent in die Verenigde Koninkryk stel voor dat mens “breinspeletjies” soos kriptiese blokraasisels, Sudoku, skaak en brug speel. Rekenaarspeletjies is ook uitstekende probleemoplosoefeninge want hulle kan ons leer om strategies te beplan en verskillende aksielyne teen mekaar op te weeg.

 

Bronne

 

Debbie Allen, 15 August 2014, 5 ways to hone your problem-solving abilities and become an expert in your field, https://www.fastcompany.com/3034396/5-ways-to-hone-your-problem-solving-abilities-and-become-an-expert-in-your-field.

 

Lynn Silva, n.d., The simplest ways to improve your problem solving skills, http://www.lifehack.org/articles/productivity/the-simplest-ways-improve-your-problem-solving-skills.html.

 

University of Kent, 2013, Problem solving and analytical skills, https://www.kent.ac.uk/careers/sk/problem-solving-skills.htm.

 

Zöe B, n.d., 6 ways to enhance your problem-solving skills, http://www.lifehack.org/articles/productivity/6-ways-to-enhance-your-problem-solving-skills.html.

 

Ander Artikels

Wie betaal vir die vervanging van ʼn meenthuis-uitlaatpyp?
Vraag: Gee asseblief raad oor wie verantwoordelik sou wees vir die vervanging van ʼn uitlaatpyp in die kombuis van ʼn eenheid as dit deurgeroes het en aan die buitekant van die eenheid afgebreek het.   Antwoord: Eienaars is verantwoordelik vir die herstel en onderhoud van hulle eenhede en die beheerliggaam het dieselfde verantwoordelikheid met betrekking […]
Tipes kontantbeleggings
VASTE DEPOSITOREKENING ʼn Vaste depositorekening is ʼn tipe spaarrekening waar jy jou kontant vir ʼn spesifieke tydperk deponeer in ruil vir ʼn vaste rentekoers, wat gewoonlik hoër is as een wat jy uit ʼn gewone bankrekening sou ontvang. Tipies vereis vaste depositorekenings dat fondse in die rekening gelaat word tot die vervaldatum, met moontlike boetes […]
Voertuigfinansiering verduidelik
Tensy jy ʼn rekenmeester is, is voertuigfinansiering gekompliseerd. Weet jy hoe finansieringsbepalings werk? Is dit ʼn goeie idee om ʼn residu te neem?  Wat van die rentekoers – moet jy dit vas of gekoppel neem? Ons het met WesBank gesels vir hierdie beginnersgids oor die finansiering van die motorvoertuig van jou drome! Bereken hoeveel jy […]
1 2 3 161