Verbande: Banke steeds huiwerig om uit te leen

Dinsdag, Maart 1st, 2016

Eugene Brink

 

 

 

Huiseienaars verkies dit om hul eiendomme langer te bewoon; derhalwe verlangsaam die groei in verbandregistrasies al vinniger.

Aldus John Loos, eiendomstrateeg by FNB. Volgens hom kan daar ook vroeë tekens wees dat huishoudings selfs langer in hul huise wil aanbly. Wat veral kommerwekkend is, is sy mening dat banke steeds uiters ongeneë is om geld aan voornemende kopers te leen, en dat hulle dit met steeds groter omsigtigheid doen.

“Kyk ʼn mens na jaar-tot-jaar (j/j) groei in die volume van verbandregistrasies en jy gebruik ʼn drie-maande bewegende gemiddelde vir effeningsdoeleindes, het die koers van ʼn hoogtepunt van 10,2% groei vir die drie maande tot 31 Desember 2014 verswak tot ʼn geraamde -4,4% daling ʼn jaar later vir die laaste drie maande van 2015. Die verlangsaming in j/j-groei in die waarde van verbandregistrasies was ook beduidend, van 16,8% in die laaste drie maande van 2014 tot 0,6% vir die laaste drie maande van 2015.

“Die breë verlangsaming in groei in verbandregistrasies sedert ʼn hoogtepunt in 2013 weerspieël die geleidelike verandering in die tendens van verbandbekostigbaarheid sedert ongeveer daardie stadium.”

Van die redes wat Loos genoem het, het hy hierdie verlangsaming toegeskryf aan die Suid-Afrikaanse Reserwebank wat rentekoerse gereeld sedert die begin van 2014 verhoog het. “Van ʼn hoogtepunt van 12,3% j/j-groei soos in die drie maande tot 28 Februarie 2013, het die groei in gemiddelde waarde van verbandregistrasies verswak tot 3,8% vir die drie maande tot en met Januarie 2016.”

Hy sê dat die onlangse daling in verbandregistrasies na verwagting tot in 2016 sal voortduur, met verdere onlangse rentekoersstygings tesame met tekens vanjaar van steeds verdere verlangsaming in ekonomiese groei en vraag na residensiële eiendom.

Volgens Loos hou die swak ekonomiese omgewing die tempo van behuising-“omset” traag, aangesien ʼn hoë persentasie huiseienaars langer in dieselfde huis bly woon, en spekulatiewe aktiwiteit bly gedemp. “Dit word weerspieël in die betreklik lae persentasie eiendomme, wat tans deur individue verkoop word, wat binne die afgelope twee jaar gekoop is. Terwyl hierdie vlak uiters hoog gestaan het op 33,35% van alle eiendomme wat in Julie 2006 deur individue gekoop en verkoop is (natuurlike persone) op die hoogtepunt van die oplewing, het dit in Januarie 2016 op ʼn lae 10,09% gebly, hoewel dit darem marginaal gestyg het van ʼn laagtepunt van 7,81% ná die oplewing in ʼn stadium in 2012.”

Loos meen dat daar in die afgelope maande weinig blyke van enige beduidende verskuiwing in die banke se uitleenbenadering was. “En dis ondanks ons gevoel vir ʼn ruk lank in die tweede helfte van 2015 dat verbandleners as ʼn groep wél wou sien dat hul lenings ʼn bietjie vinniger moes groei.

“Voeg ʼn mens eerste en tweede bankgoedkeurings saam, is Ooba se ‘Effektiewe’ Goedkeuringskoers of 69,7% in die drie maande tot 31 Januarie inderdaad ʼn bietjie hoër as die 68,4% van November 2015, maar nogtans laer as die hoogtepunt van 71% in Julie 2015. Ons sou nie verwag dat hierdie persentasie die hoogtepunt van Julie 2015 in die afsienbare toekoms sal bereik nie.”

Ander Artikels

Skop vas en moenie onnodig koop nie
Anja van den Berg   Alles rakende jou supermark is bedoel om jou geld te laat bestee wat jy nie beplan het om te bestee nie, en selfs geld wat jy nie regtig hoef te bestee nie. Hoewel die meeste mense aan produkte dink in terme van die funksionele eienskappe daarvan – die instrumentele waarde […]
Agterbakse supermarktaktieke om jou onnodige goed te laat koop
Anja van den Berg   Het jy al ooit aanvaar dat iets ʼn winskoop is net omdat die prys in rooi geskryf is? Of besluit om daardie duur handsak of aktetas te koop omdat jy daarvan oortuig was dat jy dit verdien? Of ʼn hand vol ongesonde snoepgoed van die impulsrak gegryp terwyl jy toustaan […]
OTM-kaartruilslenters neem toe: Let op hiervoor!
Die Suid-Afrikaanse Bankrisiko-inligtingsentrum (Sabric) waarsku die publiek om op die uitkyk te wees te midde van die hoë voorkoms van OTM-kaartbedrog in die land. Die groep het gewaarsku dat daar weer ʼn “kaartruil”-skelmstreek in Suid-Afrika voorkom en ʼn uiteensetting van die betrokke skelms se modus operandi gegee om die publiek teen hul metodes te waarsku. […]
1 2 3 152