Foto:



Verander die manier waarop jy aan geld dink

Woensdag | 01 Julie | 2020

Deur Essie Bester

Dat ons meer oor die werking van geld te wete moet kom, is ’n mite. Die waarheid is dat ons baie meer moeite moet doen om uit te vind hoe ons breine en emosies werk wanneer dit by ons verhouding met geld kom, sê dr. Ted Klontz, 'n pionier op die gebied van finansiële terapie.

Volgens hom het ons gedagtes, gevoelens en oortuigings rondom geld 'n groter invloed op ons finansiële toekoms as die onderlinge fondse wat ons kies, of die hoeveelheid geld wat ons verdien.

Die waarheid oor geld

Klontz sê ons geloofstelsels word gevorm as ons baie jonk is en word deel van ons onderbewussyn, wat bewys dat geldfoute nie spruit uit 'n gebrek aan finansiële geletterdheid of wilskrag nie maar uit ons geldgedagtes. Hierdie onbewustelike kerngedagtes oor geld is dikwels net halwe waarhede, word van geslag tot geslag oorgedra, vorm ons besluite en kan in die pad staan van ons finansiële vryheid.

Die vier basiese geldgedagtes is:

Geldgedagte 1: Geldvermyding

Geldvermyding word geassosieer met welaf mense wat 'n beter opvoeding ontvang het. “Geldvermyders beskou geld met walging, vrees of angs.” Hulle glo dat ryk mense gierig en korrup is en dat hulle nie hul geld verdien nie.

Weens hul negatiewe assosiasies met geld, kan geldvermyders hul finansiële sukses saboteer en geld weggee in 'n onbewuste poging om so min as moontlik te hê. As jy 'n geldvermyder is, probeer jy om nie aan geld te dink nie en ignoreer jy finansiële state.

Wenk:

Kies weekliks 'n tyd waarin jy jou finansiële situasie nagaan.

Maak 'n lys van idees oor hoe geld goed kan wees vir jou en voordelig vir die wêreld. Hou dit byderhand wanneer jy met jou finansies besig is.

Stel begrotingsdoelwitte en beloon jouself wanneer jy dit bereik.

Geldgedagte 2: Geldaanbidding

Geldaanbidders glo dat geld magies is. Vir hulle is geld die ekwivalent van geluk, vryheid, beskerming en veiligheid. Hulle beskou geld as die antwoord op al hul lewensprobleme en is geneig om werk voor hul gesin te plaas

“Geldaanbidders kan nooit genoeg geld hê nie en is dikwels ongelukkig omdat hulle nog meer wil hê,” sê Klontz.

Geldaanbidders glo dat meer geld en meer dinge hulle gelukkig sal maak en hulle kan geneig wees tot oorbesteding. Geldaanbidders wat minder verdien en 'n laer netto waarde het, word maklik vasgevang in die siklus van kredietkaartskuld.

Wenk:

Vermy kopersberou deur tyd te laat verloop tussen jou aanvanklike koopdrang en die aankope. Vra jouself af of jy die aankope regtig nodig het.

Maak meer tyd vir jou geliefdes – sonder hulle beteken jou geld nie veel nie.

Ontdek die lekkerte van gee, maar leer om met intensie te gee.

Geldgedagte 3: Geldstatus

Jy dink dat jou eiewaarde afhang van jou netto waarde. Jy bewonder mense met luukse, waardevolle besittings, verbeel jou dikwels hoe daardie persone se lewens verloop en jy kan dit dalk selfs 'n stap verder neem deur hul lewenstyl te probeer naboots.

“Jy is miskien iemand wat 'n Toyota Camry kan bekostig, maar by 'n Lexus eindig. As jy dit nie kan koop nie, huur jy dit,” verduidelik Klontz. Baie gesinne stuur hulle kinders na 'n privaat skool terwyl hulle dit nie kan bekostig nie – omdat hulle onder druk verkeer om dieselfde as hul vriende te doen.

Hulle geldgedagtes vertel hulle dat hulle moet oorbestee aan statussimbole en hulle gee voor dat hulle baie meer geld het as wat werklik die geval is. Hulle het dikwels in laer sosio-ekonomiese omgewings grootgeword en wil as finansieel suksesvol gesien word. Hulle is meer geneig om buitensporig te dobbel, finansieel van ander afhanklik te wees en uitgawes vir hul gades te verberg.

Wenk:

Dink voordat jy 'n item aankoop. Hoekom? Wat gaan dit emosioneel vir jou beteken? Hoe lank gaan die gevoel hou? Probeer die emosies voel wat jy dalk ervaar tydens die aankoop. Is daar 'n beter manier om aan hierdie emosionele behoefte te voldoen?

Bespreek gereeld maandeliks jou uitgawes met 'n vertroueling. Die doel is om jou finansiële probleem bloot te lê en doelbewus te fokus op verbetering.

Strewe na finansiële, emosionele en fisiese gesondheid, want sonder laasgenoemde twee beteken jou geld niks.

Geldgedagte 4: Geldwaaksaamheid

Jy is bekommerd oor jou finansiële welstand, hou elke sent dop en leef in voortdurende vrees dat jy alles wat jy gespaar het, sal verloor. “Jy loop met 'n gevoel van naderende onheil,” sê Klontz. Soos by geldaanbidders, voel jy daar is nooit genoeg nie. Jy glo daaraan om geld te spaar, dat mense moet werk vir hul geld en nie finansiële hulp moet ontvang nie.

Geldwaaksames is geneig om diskreet te wees oor hul finansiële status, maar hou geen finansiële geheime teenoor hulle lewensmaats nie. Terwyl geldwaaksaamheid spaarsaamheid aanmoedig, kan dit ook lei tot oormatige angs wat kan keer dat hulle die voordele en die gevoel van sekuriteit geniet wat hulle geld hulle kan bied.

Wenk:

Beplan nou en dan prettige aktiwiteite – gaan op vakansie of koop iets waarvan jy hou. Watter doel dien 'n leeftyd van spaarsaamheid as jy jouself of jou gesin nooit toelaat om dit te geniet nie?

Kry 'n vertroueling waarmee jy jou finansiële situasie bespreek. Dit kan insig bied en jou perspektief verbreed. Moenie toelaat dat jou gesonde waaksaamheid in angs en/of die neiging om op te gaar verander nie.

Bevry jouself

“Identifiseer jou vroegste geldervaring en oordink wat jy daaruit geleer het. Moontlik is dít die ding wat vandag jou besluite dryf,” sê Klontz, wat sy eie geldgedagtes ontdek het toe hy agtergekom het hy sukkel om vir aftrede te spaar. Hy het homself begin afvra waarom en besef dat hy dit vermy omdat hy hom nie kon vereenselwig met die idee van ledig wees tydens sy aftreejare nie. Toe hy egter besef dat hy na sy aftrede aandag kan bestee aan die dinge waarvoor hy lief is, het alles verander. Dié gedagteverskuiwing het daartoe gelei dat sy maandelikse besparings verdriedubbel het.

 

Bronne

https://styleblueprint.com/everyday/money-personality/

https://www.yourmentalwealthadvisors.com/money-scripts

  •  
  •  
  •  
  •  
Besoek webwerf