Uitgawe 5 2012 – Hoe werk diversifikasie werklik?

Maandag, Desember 8th, 2014

Al ooit gehoor as mense oor eiers in mandjies praat? Dit is interessant hoe mense se opinies daaroor verskil, skryf Francois Smit, besturende direkteur van Solidariteit Finansiële Dienste (SFD).

 

ʼn Kliënt het by een geleentheid vir my gesê dat hy diversifiseer deur sy geld aan meer as een adviseur te gee om te bestuur. Ander voel dat diversifikasie plaasvind wanneer hul geld by meer as een bank gehou word. Dit is alles geldige argumente, maar is die metodes werklik ʼn verspreiding van risiko?

Die antwoord wat naaste aan die waarheid kom, lê opgesluit in die konsep van bateklasse. Wat is ʼn bateklas? Dit is ʼn klassifisering van die tipes bates wat in die geval van enige belegging met jou geld gekoop word. Die bekendste bateklasse is eiendom, aandele, effekte en kontant. Diversifikasie beteken eerstens dat jou geld tussen dié bates versprei word, en tweedens dat verskillende geldbedrae in elke bateklas geplaas word.

Die keuse van hoeveel geld in elke bateklas geplaas word, hang van elke persoon se persoonlikheid en omstandighede af, en van die lewenstadium waarin die persoon hom bevind. Die rede hiervoor is dat daar risiko’s aan elke bateklas verbonde is en elke persoon se risikoaptyt verskil. Dit is egter broodnodig dat mense ingelig moet word oor die rede waarom daar risiko aan ʼn bateklas gekoppel word en wat oor tyd met die risiko gebeur.

Diversifikasie kan ook verder binne elke bateklas geskied. Wat word daarmee bedoel? In die geval van aandele as ʼn bateklas word daar byvoorbeeld gediversifiseer deur verskillende aandele in verskillende maatskappye te koop. Selfs deur byvoorbeeld net een aandeel te koop, kan ’n mens reeds diversifiseer. Hoe is dit moontlik?

Gaan soek ’n bietjie op Google vir ʼn maatskappy met die naam Remgro. Dié maatskappy het ontstaan uit die sakeryk van die Rupert-familie wat Rembrandt-sigarette vervaardig en verkoop het en ook uitgebreide belange in die drankbedryf het. Remgro koop aandele in ander topmaatskappye soos Medi-Clinic, die FirstRand-groep (FNB), Total, Rainbow Chickens, TSB sugar, die PG Glass-groep, Distell (heelwat van die drank op winkelrakke se handelsmerke behoort aan Distell), en natuurlik Unilever (kyk gerus hoeveel produkte in jou mandjie by Checkers Unilever-produkte is).

Deur ʼn Remgro-aandeel te koop, word jou geld dus blootgestel aan, onder andere, mediese dienste, bankwese en versekering, die brandstofbedryf, die hoenderbedryf, suikerverplanting en -verwerking, glasprodukte, drankhandelsmerke en die meeste van die produkte in jou mandjie kruideniersware. Unilever verkoop byvoorbeeld Omo, Skip en Surf en Distell verkoop Amarula, wat een van die gewildste roomlikeurs ter wêreld is.

Diversifikasie is dus nie wat dit op die oog af blyk om te wees nie. Dit verg dat ʼn mens dieper delf in die onderwerp, besef dat sommige van die eiers in een mandjie groter is as ander en dat daar diversifikasie binne die mandjie self kan plaasvind.

Ander Artikels

Art. 11(a) van die Wet op Inkomstebelasting en die aftrekbaarheid van renteonkoste op huislenings
Louis Botha     Op 13 Desember 2016 het die belastinghof in Kaapstad uitspraak gelewer in X v The Commissioner for the South African Revenue Service (saak no. 13791 & 13792, nog nie gerapporteer nie). Die saak het gehandel oor ʼn interessante vraagstuk, naamlik of uitgawes wat aan ʼn huislening aangegaan word om ʼn rente-inkomste […]
Huurverbeteringe: Mag ek vat of moet ek los?
Vraag: “Ons huur nou al vir ʼn paar jaar ʼn huis. Ek en my vrou het heelwat verbeterings aan die huis en tuin aangebring. Ek word nou verplaas en moet verhuis, maar wonder nou wat word van al die verbeterings aan die huurperseel. Mag ons dit saamneem of moet die verhuurder ons vergoed daarvoor?”   […]
Die beste wenke om jou huurdeposito terug te kry
Huurders in Suid-Afrika betaal tans enigiets tussen een en drie maande se huur as skadedeposito ─ maar is dikwels onseker van wat om te doen as hul huurkontrak verval. “Hoewel deposito’s dikwels gebruik word om huurwanbetaling of onbetaalde utiliteitsrekenings te dek, is hul hoofdoel om verhuurders teen skade aan die eiendom te dek,” sê Andrew […]
1 2 3 170