Tree ons howe tussenbeide in onbillike kontrakte?

Vrydag, Junie 10th, 2016

Regter Davis het onlangs in die Wes-Kaapse hoë hof in die saak tusssen Combined Developers v Arun Holdings & Andere 2015 (3) SA 215 WCC geweier om ’n klousule in ’n kontrak af te dwing omdat afdwinging onbillik sou wees.

Regsakademici vra lank reeds vir die erkenning van ’n etiese standaard van goeie trou in die kontraktereg. Ons howe word sedert 1996 deur ons konstitusie verplig om, wanneer die gemene reg ontwikkel word, die gees, bedoeling en oogmerke van die Handves van Menseregte te bevorder, wat ’n waardesisteem verteenwoordig wat deur die konstitusie as die hoogste wet van ons land voorgeskryf word. Kontrakvryheid is nie as ’n fundamentele reg by die Handves van Menseregte ingesluit nie.

Die hoogste hof van appèl (HHA), wat weerstand bied teen radikale verandering maar bewus is van sy plig om die reg in ooreenstemming met veranderende sosiale behoeftes en waardes te hou, het ’n konserwatiewe koers van inkrementele verandering binne ’n raamwerk van bestaande regsbeginsels ingeslaan en gebruik openbare beleid en die verfyning daarvan as ’n instrument vir verandering. In ’n artikel in 2009 in die SA Law Journal gee regter F. Brand, ’n regter van die HHA, toe dat “die verfyning van ‘openbare beleid’ miskien ook meer aktivisme en vindingrykheid van die kant van die regbank nodig het as wat tot dusver aan die dag gelê is”. Hy waarsku egter dat palmboomgeregtigheid nie ’n plaasvervanger vir gevestigde kontrakteregbeginsels is nie.

Gedagtig aan wat as ’n Meksikaanse dooiepunt tussen ons twee tophowe beskryf word, huiwer ons hoë howe nie om in te tree by kontrakte indien intervensie deur een van die partye verlang word nie. In die geval van Potgieter & en ’n Ander v Potgieter N.O. & Andere 2012 (1) SA 637 HHA sien ons dat die HHA ’n beslissing van die Gautengse hoë hof omkeer waarin regter Bertelsman bevind het dat “dit onder ons nuwe konstitusionele bedeling deel van ons kontraktereg is dat ons howe as ’n saak van openbare beleid kan weier om uitvoering te gee aan die implementering van kontraktuele bepalings wat hulle as onredelik en onbillik beskou”. Toe die HHA hierdie beslissing as synde fundamenteel onsuiwer omgekeer het, was die HHA onwrikbaar in sy stelling dat “aanvaarding van die opvatting dat regters kan weier om ’n kontrakbepaling af te dwing bloot omdat dit hul persoonlike sin vir regverdigheid en billikheid aanstoot gee, tot regs- en kommersiële onsekerheid sal lei”. Die HHA regverdig sy kritiek op Bertelsman se beslissing deur na die konstitusie te verwys. Regter Bertelsman se versuim om by die beginsels van die gemene reg te hou, was ’n oortreding van die legaliteitsbeginsel, wat deur die HHA as deel van die oppergesag van die reg beskou word, wat op sy beurt weer ’n stigtingswaarde in a1 van die konstitusie is. Dit was die HHA se laaste uitspraak oor hierdie onderwerp.

Hoewel die HHA kontraktuele outonomie met mag beskerm, vind ons in beslissings van die konstitusionele hof dat “kontraktereg hom nie tot koloniale tradisie alleen kan beperk nie …waardes wat deur ’n gepaste waardering van ubuntu omvat word, is ook relevant in die proses om die gees, bedoeling en oogmerke van die konstitusie te bepaal”, en “dit is inderdaad hoogs wenslik, in werklikheid nodig, dat die kontraktereg deurdrenk word met konstitusionele waardes, met inbegrip van die waardes van ubuntu, wat ’n groot deel van ons konstitusionele verdrag inspireer”.

In die Wes-Kaapse hoë hof het regter Davis onlangs duidelik die uitdaging in regter Brand se artikel aanvaar toe hy geweier het om ’n kontraktuele bepaling wat hy as “verstommend drakonies en onbillik” beskryf het, af te dwing. Om by sy beslissing uit te kom, put hy uit die konstitusionele hof se beslissing in die saak Everfresh Market Virginia (Pty) Limited v Shoprite Checkers (Pty) Limited 2012 (3) BCLR 219 CC, waar daar verwys word na “die deurdrenking van die kontraktereg met konstitusionele waardes, met inbegrip van die waardes van ubuntu”. Regter Davis erken die feit dat sy individuele sin vir regmatigheid en billikheid nie die toets is nie en kyk dan, terwyl hy die HHA se aanvaarding van openbare beleid as die wetlike meganisme vir intervensie erken, na die normatiewe raamwerk van die konstitusie ten einde ’n objektiewe standaard te identifiseer. Met verwysing na die HHA se beslissing in Juglal v Shoprite Checkers (Pty) Limited 2004 (5) SA248 HHA, dring regter Davis deur na die kern van die HHA se beslissing waar die hof verwys na “gewetenlose immorele of onwettige optrede” en kom tot die gevolgtrekking dat die implementering van die kontraktuele bepaling, wat op sigself moontlik nie teen die openbare beleid indruis nie, so aanstootlik is dat dit voldoende “onderdrukkend, gewetenloos of immoreel” is om ’n verbreking van openbare beleid uit te maak en dat openbare beleid ingebring kan word ter regverdiging van die weiering om so ’n bepaling af te dwing.

Dit is duidelik dat ons hoëhofregters nie sal huiwer om in te gryp nie in kontrakte wat hulle as voldoende “onderdrukkend, gewetenloos of immoreel” beskou om teen die openbare beleid in te druis en dat hulle bereid is om groter aktivisme en vindingrykheid in te span, soos regter Brand voorgestel het. Ons sal moet wag en sien tot watter mate die HHA sal toelaat dat openbare beleid in hierdie proses “verfyn” (of dalk aangepas?) word.

Dit kan ook wees at die konstitusionele hof gretig wag om ons reg oor goeie trou in kontrakte te herskryf.

 

 

Bron: Cliffe Dekker Hofmeyr

Ander Artikels

Wie betaal vir die vervanging van ʼn meenthuis-uitlaatpyp?
Vraag: Gee asseblief raad oor wie verantwoordelik sou wees vir die vervanging van ʼn uitlaatpyp in die kombuis van ʼn eenheid as dit deurgeroes het en aan die buitekant van die eenheid afgebreek het.   Antwoord: Eienaars is verantwoordelik vir die herstel en onderhoud van hulle eenhede en die beheerliggaam het dieselfde verantwoordelikheid met betrekking […]
Tipes kontantbeleggings
VASTE DEPOSITOREKENING ʼn Vaste depositorekening is ʼn tipe spaarrekening waar jy jou kontant vir ʼn spesifieke tydperk deponeer in ruil vir ʼn vaste rentekoers, wat gewoonlik hoër is as een wat jy uit ʼn gewone bankrekening sou ontvang. Tipies vereis vaste depositorekenings dat fondse in die rekening gelaat word tot die vervaldatum, met moontlike boetes […]
Voertuigfinansiering verduidelik
Tensy jy ʼn rekenmeester is, is voertuigfinansiering gekompliseerd. Weet jy hoe finansieringsbepalings werk? Is dit ʼn goeie idee om ʼn residu te neem?  Wat van die rentekoers – moet jy dit vas of gekoppel neem? Ons het met WesBank gesels vir hierdie beginnersgids oor die finansiering van die motorvoertuig van jou drome! Bereken hoeveel jy […]
1 2 3 161