Stakings selde lonend

Maandag, Desember 8th, 2014

Geskryf deur: Paul Joubert

 

Wanneer werknemers staak in ʼn finale poging om die bestuur sover te kry om hoër salarisverhogings toe te staan, verloor hulle hul salarisse of lone tydens die staking (no work, no pay). Die stakende werkers is bereid om hierdie verlies te aanvaar, aangesien hulle glo dat die hoër betaling wat hulle ná ʼn suksesvolle staking sal kry, sal vergoed vir die verlies.

Indien die hoër salaris a.g.v. die staking wel binne ʼn kort tyd vir die verlies aan inkomste tydens die staking vergoed, kan dit sin maak om te staak. As die hoër salaris ná die staking egter jare neem om vir die verlore inkomste te vergoed, is dit beter om eerder die kleiner verhoging te aanvaar en om nie te staak nie.

Dit is maklik om ʼn emosionele besluit oor ʼn staking te neem. Die idee van ʼn ekstra paar honderd rand in die bankrekening elke maand is iets wat maklik ʼn mens se goeie oordeel kan laat verdwyn. Dit bly steeds beter om vooraf die nugtere feite in ag te neem voordat ʼn oorhaastige besluit oor ʼn staking geneem word.

Die nugtere feite in die geval van die staatsdiensstaking is soos volg:

Die verskil tussen die regering se oorspronklike aanbod van ʼn 7%-verhoging op basiese salaris en ʼn 11,1%-verhoging (of ʼn 40%-verhoging, afhangend van watter bronne korrek is) op die behuisingstoelaag aan die een kant en die 7,5%- en 27%- (of 60%-) verhoging in die aanbod wat tans op die tafel is aan die ander kant, is bitter klein. Dit is egter slegs hierdie klein verskil wat belangrik is wanneer die effek van die staking op die werker se banksaldo bereken word.

ʼn Mens moet in gedagte hou dat omdat die salarisooreenkoms terugwerkend is, die stakende werkers in werklikheid meer as hul huidige salarisse verloor. Hulle verloor hul huidige salaris plus die oorspronklike verhoging wat aangebied is, omdat dit is wat hulle sou gekry het as hulle die 7%- en R700-aanbod voor die staking aanvaar het.

Wat dit in effek beteken, is dat ʼn staatsdienswerker wat voor enige verhoging ʼn basiese salaris van R150 000 per jaar gekry het, elke dag van die staking sowat R675,60 verloor. (Met ʼn aanname dat daar 250 werksdae in ʼn jaar is.) Die ekstra geld wat ʼn werker per werksdag sal ontvang as die salarisverhoging van 7,5% en die behuisingstoelaag van R800 geïmplementeer word, is slegs R7,80.
Deel nou R675,60 deur R7,80. Dit gee die aantal werksdae wat ʼn staker sal moet werk om in te haal wat gedurende ʼn staking van een dag lank verloor is. Die antwoord is byna 87 werksdae, of meer as vier maande!

Die staatsdiensstaking was egter nie slegs vir een dag nie. Dit trek nou al by meer as 17 dae. Dit beteken dat ʼn werker wat voor die staking ʼn basiese salaris van R150 000 per jaar gekry het, reeds byna R11 500 se salaris en behuisingstoelaag verbeur het deur te staak! Vir iemand wat R300 000 verdien, is die ekwivalente syfer byna R22 400!

Die eerste grafiek toon aan hoeveel staatsdienswerkers op verskillende salarisvlakke tans verloor vir elke werksdag wat gestaak word. Dit toon ook hoeveel ekstra geld hulle per dag sal kry as hulle die aanbod van 7,5% en ʼn R800-toelaag aanvaar. Deur die twee syfers deur mekaar te deel en dan te vermenigvuldig met die aantal werksdae van die staking, kan uitgewerk word hoe lank dit sal neem om die derduisende rande wat verloor is tydens die staking, in te haal.

Die tweede grafiek toon aan hoe die situasie sou lyk as die regering ʼn 8,6%-verhoging en ʼn behuisingstoelaag van R1 000 sou toestaan, soos deur die stakers geëis. Selfs in so ʼn geval neem dit nog steeds 28 tot 39 werksdae om die verlies van een dag se staking in te haal.


Sou ʼn mens veronderstel dat ʼn “aanvaarbare” tydperk om in te haal wat verloor is in een werksdag se staking een werksweek is, sou die salarisverhoging in hierdie geval sowat 25% moes gewees het, met die behuisingstoelaag wat sou moes styg na R1 500 per maand.


Wat dus hier na vore kom, is dat werkers baie mooi moet dink voordat hulle begin staak. Selfs al is die staking “suksesvol” in die sin dat die werkgewer wel toegee aan die stakers se eise vir hoër salarisse of hoër toelae, kan dit maklik etlike jare neem voordat die stakers die verlies inhaal wat hulle tydens die staking gely het.

Ander Artikels

Art. 11(a) van die Wet op Inkomstebelasting en die aftrekbaarheid van renteonkoste op huislenings
Louis Botha     Op 13 Desember 2016 het die belastinghof in Kaapstad uitspraak gelewer in X v The Commissioner for the South African Revenue Service (saak no. 13791 & 13792, nog nie gerapporteer nie). Die saak het gehandel oor ʼn interessante vraagstuk, naamlik of uitgawes wat aan ʼn huislening aangegaan word om ʼn rente-inkomste […]
Huurverbeteringe: Mag ek vat of moet ek los?
Vraag: “Ons huur nou al vir ʼn paar jaar ʼn huis. Ek en my vrou het heelwat verbeterings aan die huis en tuin aangebring. Ek word nou verplaas en moet verhuis, maar wonder nou wat word van al die verbeterings aan die huurperseel. Mag ons dit saamneem of moet die verhuurder ons vergoed daarvoor?”   […]
Die beste wenke om jou huurdeposito terug te kry
Huurders in Suid-Afrika betaal tans enigiets tussen een en drie maande se huur as skadedeposito ─ maar is dikwels onseker van wat om te doen as hul huurkontrak verval. “Hoewel deposito’s dikwels gebruik word om huurwanbetaling of onbetaalde utiliteitsrekenings te dek, is hul hoofdoel om verhuurders teen skade aan die eiendom te dek,” sê Andrew […]
1 2 3 170