Spaarmaand: Sό word jou beursie onwetend dunner

Woensdag, Julie 29th, 2015

Wanneer dit by vermorsing kom, is dit sowaar die klein jakkalsies wat die wingerd verwoes. Dikwels mors mens onwetend geld op items waarsonder jy eintlik kan klaarkom of waarvan daar ʼn goedkoper alternatief bestaan. Inge Strydom deel vandeesweek raad oor hoe mens kan verhoed dat jy geld op die “klein jakkalsies” mors.

  1. Wegneemetes en snoepgoed. Sodra jy die maandelikse koste van daardie cappuccino of wegneemete waaraan jy elke dag smul, bereken, sal dit ʼn bitter smaak in jou mond los – letterlik en figuurlik. ’n Wegneem-koffie of -cappuccino kan jou byvoorbeeld tot R20 uit die sak jaag. Maak maar gerus die som: R20 x 22 dae per maand = R440 per maand; R440 x 12 = R5 280 per jaar. Dis dalk tyd om weer daardie koffiefles wat jou ouma een Kersfees vir jou present gegee het, in te span.
  2. Koop in groot maat. Algemene kruideniersware kan dikwels teen ʼn laer prys in groot maak aangeskaf word. Kyk uit vir niebederfbare items of produkte met ʼn lang raklewe – veral wanneer daar spesiale aanbiedings op hierdie produkte is. As jy wonder of dit werklik goedkoper is om ʼn sekere item in groot maat te koop, werk uit hoeveel elke item individueel kos om sodoende te bepaal of jy werklik geld spaar.
  3. Elektriese toestelle wat baie krag gebruik. Waterverhittingstoestelle soos tradisionele geisers is een van die grootste elektrisiteitsvrate en kan jou onwetend baie geld uit die sak jaag. Dit kan redelik maklik met meer energiedoeltreffende opsies soos sonpanele vervang word. Daar is ook ander doeltreffende maniere waarop energie bespaar kan word, soos om byvoorbeeld LED-liggies te gebruik of om jou huis te isoleer eerder as om ’n elektriese verwarmer te gebruik. Laai Solidariteit en KragDag se selfhelpgids af vir nog wenke rondom die besparing van elektrisiteit. Klik hier.
  4. Hou jou oë oop vir goedkoper alternatiewe. Kan jy dalk ʼn goedkoper selfoonkontrak aangaan of bankkoste bespaar? Paul Joubert, senior ekonomiese navorser by Solidariteit, raai aan dat verbruikers wat bankkoste wil bespaar, nie net die verskillende banke met mekaar moet vergelyk nie, maar die rekeninge van elke bank. “Stel vas presies watter rekening jy tans het en wat die koste van dié rekening is,” sê Joubert. 

Moenie in hierdie inkopiestrikke trap nie:

  • Impulsiewe aankope. Almal besit ten minste twee of drie items wat hulle op die ingewing van die oomblik gekoop het en wat hulle nooit gebruik nie. Beplan alle aankope, van klere tot meubels, om onnodige aankope te voorkom.
  • Moenie honger gaan inkopies doen nie. Navorsing het bewys dat as jy op ʼn leë maag gaan inkopies doen, dit jou drang om goed te koop wat jy nie eintlik nodig het of kan bekostig nie, sal aanwakker.
  • Spesiale aanbiedings. Moenie jouself oorreed jy het iets nodig net omdat dit 50% afgemerk is nie. Vra jouself af of jy die spesifieke item oor ʼn jaar van nou af nog gaan gebruik – indien nie, sal jy waarskynlik daarsonder kan klaarkom.

Ander Artikels

Skop vas en moenie onnodig koop nie
Anja van den Berg   Alles rakende jou supermark is bedoel om jou geld te laat bestee wat jy nie beplan het om te bestee nie, en selfs geld wat jy nie regtig hoef te bestee nie. Hoewel die meeste mense aan produkte dink in terme van die funksionele eienskappe daarvan – die instrumentele waarde […]
Agterbakse supermarktaktieke om jou onnodige goed te laat koop
Anja van den Berg   Het jy al ooit aanvaar dat iets ʼn winskoop is net omdat die prys in rooi geskryf is? Of besluit om daardie duur handsak of aktetas te koop omdat jy daarvan oortuig was dat jy dit verdien? Of ʼn hand vol ongesonde snoepgoed van die impulsrak gegryp terwyl jy toustaan […]
OTM-kaartruilslenters neem toe: Let op hiervoor!
Die Suid-Afrikaanse Bankrisiko-inligtingsentrum (Sabric) waarsku die publiek om op die uitkyk te wees te midde van die hoë voorkoms van OTM-kaartbedrog in die land. Die groep het gewaarsku dat daar weer ʼn “kaartruil”-skelmstreek in Suid-Afrika voorkom en ʼn uiteensetting van die betrokke skelms se modus operandi gegee om die publiek teen hul metodes te waarsku. […]
1 2 3 152