Spaar só geld op klere

Vrydag, Mei 13th, 2016

Tinus Vollgraaff

 

 

Navorsing het getoon dat Suid-Afrikaners weens die afswaai in die ekonomie, die verswakkende rand, en minder besteebare inkomste reageer deur meer plaaslik vervaardigde klere te koop. Klere is, soos kos, een van die basiese noodsaaklikhede vir die mens.

Klere hou egter nie vir ewig nie. Soos dit krimp en opgedra word, en soos die seisoene verander (soos tans in Suid-Afrika en die res van die wêreld), moet ons nuwe klere koop. Dit is dus ‘n konstante uitgawe en algaande ‘n duurder een vir mense met kinders.

Dit beteken egter nie dat mens nie op klereuitgawes kan bespaar nie. Met die winter wat voorlê, hier is ‘n aantal wenke om jou klererekening te krimp:

 

  • Koop buite seisoen, maar wees versigtig vir kitsuitverkopings

Dit mag dalk teenintuïtief klink, maar om teen die massa en die seisoen te beweeg is altyd lonend. Baie winkels het nou uitverkopings en gee groot afslag op somersklere. In Augustus verkoop hulle weer wintersklere teen laer pryse om van oortollige voorraad ontslae te raak. Volgens die finansiële skrywer, Kate Wood, moet jy waak teen kitsuitverkopings wat jou adrenalien laat pomp en jou meer geld laat uitgee as wat werklik nodig is. Moenie swig voor die misleidende slagspreuk “hoe meer jy spandeer, hoe meer spaar jy” nie. Hoewel jy die afslagprys betaal, koop jy inderwaarheid wat jy nie nodig het nie en betaal steeds daarvoor. Goedkoop is nie gratis nie!

 

  • Koop generies en vergeet van handelsname

Wood beveel aan dat jy generiese items koop om in lae aan te trek en vir ander informele doeleindes. Wie gaan nou daardie T-hemp wat jy altyd by die huis dra, sien? Of die hemp wat jy slegs onder al jou ander klere dra? Daardie items kan baie goedkoop by MRP-klere of by Pick n Pay se klerewinkels aangeskaf word.

Probeer ook om van jou liefde vir bekende handelsname ontslae te raak. Ons almal hou van hulle tot ‘n mate, maar dit is baie goedkoper om minder daarvan te hê en baie mense gaan nie eers die name herken nie. Koop handelsname oordeelkundig, veral vir kinders wat nog groei.

 

  • Koop goeie kwaliteit

Die gesin se klerekaste hoef nie geheel en al uit klere met bekende handelsname te bestaan nie, en omdat generiese items dikwels nodig is, is dit lonend om klere van goeie gehalte te koop. Hoë kwaliteit denims en baadjies waaruit jy jare se diens gaan kry, in plaas van goedkoper items wat slegs ‘n jaar of twee (of korter) gaan hou, gaan jou net frustreer en jou met ‘n leë beursie laat. “Oor die algemeen sal jy meer waarde (of koste per dra) uit goeie klere wat pas kry en hulle sal langer hou. Vermy dus die ‘kitskos’-benadering wanneer dit by elke jaar se nuwe klere kom. Voel egter vry om hierdie raad ten opsigte van kinders te ignoreer,” sê Melanie Pinola, ‘n skrywer oor persoonlike finansies.

 

  • Maak reg en versier

Die maklikste en goedkoopste manier om op klere te spaar, is natuurlik om jou klere wat jy reeds besit, reg te maak. Sommige items mag dalk net ‘n skeurtjie hê wat maklik herstel kan word. Dieselfde is waar van hemde waar ‘n knoop of twee makeer. Wood beveel aan dat jy ou klere met nuwe gordels en serpe opkikker of ou knope op hemde vervang. Op hierdie wyse sal die klere nuut lyk en jy kan verskillende versierings om die beurt kombineer.

 

  • Koop vir die huidige jy of koop groter

Daar is altyd goeie en edele voornemens betrokke as jy kleiner klere koop, soos om gewig te verloor. Hierdie projekte bly egter meestal vergete en dan raak die klere in onbruik. “Koop klere wat goed pas sodat jy later kan oorweeg om dit eerder kleiner te laat maak pas as jy wel daarin slaag om gewig te verloor. Die koste om klere kleiner te maak, sal waarskynlik laer wees as om plaasvervangers te koop as jy nie jou doel bereik nie,” sê Sabah Karimi, skrywer vir ‘n verbuikersrubriek op die finansiële blad, Wisebread.

 

 

Bronne:

Kate Wood, 2016, “25 must-know ways to save money on clothes”, http://www.lifehack.org/articles/money/25-must-know-ways-save-money-clothes.html.

 

Melanie Pinola, 21 March 2015, “Top 10 smart ways to save on clothes”, http://lifehacker.com/top-10-smart-ways-to-save-money-on-clothes-1692775219.

 

Sabah Karimi, 30 July 2014,8 Ways to Save Money on Clothes in Any Season”, http://money.usnews.com/money/blogs/my-money/2014/07/30/8-ways-to-save-money-on-clothes-in-any-season.

Ander Artikels

Skop vas en moenie onnodig koop nie
Anja van den Berg   Alles rakende jou supermark is bedoel om jou geld te laat bestee wat jy nie beplan het om te bestee nie, en selfs geld wat jy nie regtig hoef te bestee nie. Hoewel die meeste mense aan produkte dink in terme van die funksionele eienskappe daarvan – die instrumentele waarde […]
Agterbakse supermarktaktieke om jou onnodige goed te laat koop
Anja van den Berg   Het jy al ooit aanvaar dat iets ʼn winskoop is net omdat die prys in rooi geskryf is? Of besluit om daardie duur handsak of aktetas te koop omdat jy daarvan oortuig was dat jy dit verdien? Of ʼn hand vol ongesonde snoepgoed van die impulsrak gegryp terwyl jy toustaan […]
OTM-kaartruilslenters neem toe: Let op hiervoor!
Die Suid-Afrikaanse Bankrisiko-inligtingsentrum (Sabric) waarsku die publiek om op die uitkyk te wees te midde van die hoë voorkoms van OTM-kaartbedrog in die land. Die groep het gewaarsku dat daar weer ʼn “kaartruil”-skelmstreek in Suid-Afrika voorkom en ʼn uiteensetting van die betrokke skelms se modus operandi gegee om die publiek teen hul metodes te waarsku. […]
1 2 3 152