Spaar só op kruideniersware

Donderdag, Junie 30th, 2016

Tinus Vollgraaff

 

 

In hierdie taai ekonomiese tye moet ons almal spaar waar ons kan en die sente omdraai.

Sekere dinge in die lewe is ononderhandelbaar en kan ons nie sonder klaarkom nie. Een daarvan is kos.

Die droogte het voedselpryse hard geslaan en noudat dit winter is, is die skadelike finansiële gevolge van die swak oeste des te meer opvallend. Alhoewel ons almal moet eet, hoef ons nie meer te betaal as wat nodig is nie en as jy die sente oppas sal die rande vir hulself sorg.

Met ʼn bietjie voorbereiding en praktiese beplanning kan jy elke maand ʼn aardige bedraggie kontant op kruideniersware spaar. Doen dit so:

 

  • Stel ʼn inventaris op

Dit is so ʼn ooglopende stap maar een wat huishoudings en mammas dikwels afskeep weens ʼn gebrek aan tyd. “Maak een keer ʼn maand ʼn opname van jou koskas en vrieskas om ʼn sin te kry van watter items jy benodig en watter jy nie hoef te koop nie,” sê Annette Economides, mede-outeur van Cut Your Grocery Bill in Half with America’s Cheapest Family.

“Jy hoef nie paniekbevange te raak wanneer jy die supermark betree en impulsief ʼn item teen vol prys koop om dan tuis te ontdek dat jy dit reeds het nie.”

 

  • Doen sleg een keer ʼn week inkopies

“Hoe minder jy winkel toe gaan, hoe meer spaar jy,” sê Economides. Sy sê dit verminder die behoefte om impulsief te koop en jy spaar op brandstof deurdat jy nie elke tweede dag heen en weer winkel toe ry nie. Plus, deur een keer ʼn week inkopies te doen sal jy waarskynlik slegs koop wat jy nodig het en reuse-ophopings van voedsel vermy wat net gaan sleg word en vermorste geld sal wees.

Dit is ook wys om die tyd te neem om pryse by verskillende winkels te vergelyk en te besluit watter een jou die beste gerief en pryse bied. Om rond te ry en verskeie items by verskillende winkels te koop is ʼn mors van tyd en kosbare brandstof.

 

  • Stel ʼn spyskaart en ʼn gestandaardiseerde lys op

“Alhoewel dit nie na pret klink nie, veral as jy die spontane tipe is wanneer dit by maaltye kom, is die opstel van ʼn spyskaart tussen inkopietogte een van die beste maniere om geld op kruideniersware te spaar. Die opstel van ʼn spyskaart verseker dat jy elke aand die regte bestanddele sal hê om ʼn gesonde maaltyd tuis voor te berei eerder as om te gaan uiteet of pizza te bestel,” sê Casey Slide, tuisbly-mamma en bydraer tot Money Crashers.

“Daarbenewens sal die opstel van ʼn spyskaart en ʼn inkopielys van nodige items jou in staat stel om alles wat jy benodig met een rit aan te koop. Dit sal ook voorkom dat jy vergeet om belangrike bestanddele te koop, wat sou veroorsaak dat jy tyd en brandstofgeld mors om terug te gaan winkel toe.”

Om op te som, koop slegs wat jy nodig het.

 

  • Moenie honger winkel toe gaan nie

Dit is nog iets wat moeilik is om aan te voldoen, maar dit is belangrik dat jy en jou kinders eet en drink voordat julle winkel toe gaan om kruideniersware te koop. Doen julle dit nie, mag jy dalk aan jou hongerpyne toegee en onnodig duur kos en snoeperye begin koop.

 

  • Moenie (altyd) voor uitverkopings en lekkernye by die kasregisters swig nie

Uitverkopings is wonderlik, mits jy werklik die produkte benodig wat op uitverkoping is. Maar benodig jy regtig vyf sjokoladestafies net omdat jy 20c op elk spaar? Dit is koop net ter wille van koop.

Daarbenewens is al daardie heerlikhede by die uitgang nie per toeval daar nie. Dit is ʼn bemarkingsfoefie en des te meer ʼn rede vir jou en jou kinders om te eet alvorens julle winkel toe gaan.

 

Bronne:

 

Slide, C. 2014. “How to save money on groceries – Top 20 ways to save”. http://www.moneycrashers.com/ways-save-money-groceries/.

 

Renzulli, K.A. 2014. “27 ways to save hundreds on groceries”. http://time.com/money/3481381/save-on-groceries/.

 

 

 

Ander Artikels

Skop vas en moenie onnodig koop nie
Anja van den Berg   Alles rakende jou supermark is bedoel om jou geld te laat bestee wat jy nie beplan het om te bestee nie, en selfs geld wat jy nie regtig hoef te bestee nie. Hoewel die meeste mense aan produkte dink in terme van die funksionele eienskappe daarvan – die instrumentele waarde […]
Agterbakse supermarktaktieke om jou onnodige goed te laat koop
Anja van den Berg   Het jy al ooit aanvaar dat iets ʼn winskoop is net omdat die prys in rooi geskryf is? Of besluit om daardie duur handsak of aktetas te koop omdat jy daarvan oortuig was dat jy dit verdien? Of ʼn hand vol ongesonde snoepgoed van die impulsrak gegryp terwyl jy toustaan […]
OTM-kaartruilslenters neem toe: Let op hiervoor!
Die Suid-Afrikaanse Bankrisiko-inligtingsentrum (Sabric) waarsku die publiek om op die uitkyk te wees te midde van die hoë voorkoms van OTM-kaartbedrog in die land. Die groep het gewaarsku dat daar weer ʼn “kaartruil”-skelmstreek in Suid-Afrika voorkom en ʼn uiteensetting van die betrokke skelms se modus operandi gegee om die publiek teen hul metodes te waarsku. […]
1 2 3 152