Spaar: Hou verskonings jou terug?

Maandag, Julie 18th, 2016

Almal behoort te spaar. Of dit nou is om fondse te hê vir ʼn reënerige dag of vir ʼn groot aankoop – om die gewoonte te kweek om elke maand te spaar, is ʼn goeie een.

In China spaar die gemiddelde werker 50% van sy salaris, ten spyte daarvan dat hy geld huis toe stuur na sy gesin in landelike gebiede, die koop van noodsaaklikhede en huur wat betaal moet word. En hoeveel verdien die gemiddelde Chinese werker? R5 900 per maand! Die gemiddelde loon in stedelike Suid-Afrika is R14 000 per maand.

So, as hulle dit kan doen, waarom kan jy nie?

Ek was nog nooit in staat om te spaar nie: Praat dan met ʼn finansiële beplanner wat die regte strategie vir jou kan aanbeveel om jou spaar op die regte spoor te plaas. Maak gebruik van ʼn daggeldrekening en ʼn debietorder. Op hierdie wyse word die geld in die daggeldrekening gedeponeer sonder dat jy ʼn vinger hoef te lig, en voordat jy dit besef, het jy geld gespaar. Die kanse is goed dat, as jy nie vir alledaagse dinge spaar nie, jy waarskynlik nie voorsiening maak vir belangrike dinge soos aftrede nie.

Ek verdien nie genoeg geld om te spaar nie: Regtig? Kyk na waarop jy elke maand jou geld bestee, en as daar regtig teen die einde van die maand niks oor is nie, oorspandeer jy of het te veel skuld. Iets moet verander. Praat met iemand wat jou behulpsaam kan wees met jou begroting of jou skuld.

Ek het te veel skuld wat dit vir my onmoontlik maak om te spaar: As jy getrou jou skuld afbetaal en jou skuld verminder, NIE meer skuld akkumuleer nie, is jy in der waarheid besig om te spaar, aangesien jy rente-heffings en die lengte van jou skuld verminder. As jy ʼn bietjie ekstra op jou skuld kan afbetaal, self meer rente afbetaal en die tyd verminder wat dit sal neem om die skuld af te betaal sal jy al jou skuld vinniger afbetaal. Op hierdie wyse sal jy gouer jou eie spaargeld kan begin skep.

As jy nie ʼn begroting kan opstel deur uit te werk hoeveel jy bestee en hoeveel jy verdien nie, vra iemand wat jy vertrou om jou te help. Lees boeke om kennis op te doen. Moenie agter hierdie verskoning wegkruip en wonder waarom jy nooit geld het nie. Geld is geen groot geheim nie. Om jou besteding te bestuur, te spaar wat jy kan en met ʼn finansiële beplanner te praat wat jou kan help om die gepaste portefeulje vir jou te skep is die regte benadering.

Ek het nie die wilskrag om te spaar nie: Praat dan met ʼn professionele persoon wat jou kan help om jou gewoontes te verander wat jou finansiële welstand saboteer. Ons almal toon van tyd tot tyd ʼn bietjie gebrek aan wilskrag wanneer dit by finansies kom, maar as jy jou spaargeld kan opstel om geoutomatiseer te wees en van jou salaris af te gaan wanneer dit in jou rekening inbetaal word, verminder dit jou behoefte aan wilskrag.

Niemand kan in hierdie ekonomie spaar nie: Sodra jy jouself dit hoor sê, moet jy onmiddellik jou begroting hersien, die gepaste veranderings aanbring, en sommige van jou bestedingsgewoontes verander. As jy vir die ekonomie wag om te verbeter voordat jy begin spaar, gaan dit ʼn lang wag wees.

My gade maak dit onmoontlik om te spaar: Wel, dan moet julle daaroor praat – saam! Dit is onmoontlik om te spaar as jou gade wild en wakker bestee. Julle behoort albei dieselfde finansiële doelwitte in gedagte te hê. As jou gade steeds onwillig is om saam te werk, skei julle finansies. Dit is waarom die korrekte huwelikskontrak uiters belangrik is, sowel as om ʼn lang gesprek te hê oor hoe beide van julle geld beskou en wat julle bestedingsgewoontes is voordat julle enigsins aan trou dink. Daar is verskonings wat relevant lyk maar altyd te bowe gekom kan word. Daar is egter tye wanneer om ʼn verbintenis tot ʼn spaarsisteem te maak onmoontlik is weens te veel skuld. Betaal julle skuld so gou as moontlik af sodat julle kan spaar vir daardie spesiale iets – sonder om in skuld gedompel te word om dit te kry.

 

 

Bron: FNB

 

Ander Artikels

Skop vas en moenie onnodig koop nie
Anja van den Berg   Alles rakende jou supermark is bedoel om jou geld te laat bestee wat jy nie beplan het om te bestee nie, en selfs geld wat jy nie regtig hoef te bestee nie. Hoewel die meeste mense aan produkte dink in terme van die funksionele eienskappe daarvan – die instrumentele waarde […]
Agterbakse supermarktaktieke om jou onnodige goed te laat koop
Anja van den Berg   Het jy al ooit aanvaar dat iets ʼn winskoop is net omdat die prys in rooi geskryf is? Of besluit om daardie duur handsak of aktetas te koop omdat jy daarvan oortuig was dat jy dit verdien? Of ʼn hand vol ongesonde snoepgoed van die impulsrak gegryp terwyl jy toustaan […]
OTM-kaartruilslenters neem toe: Let op hiervoor!
Die Suid-Afrikaanse Bankrisiko-inligtingsentrum (Sabric) waarsku die publiek om op die uitkyk te wees te midde van die hoë voorkoms van OTM-kaartbedrog in die land. Die groep het gewaarsku dat daar weer ʼn “kaartruil”-skelmstreek in Suid-Afrika voorkom en ʼn uiteensetting van die betrokke skelms se modus operandi gegee om die publiek teen hul metodes te waarsku. […]
1 2 3 152