Deur Nico Strydom
Tot 55% van aftreefondslede het 'n kleiner huishoudelike inkomste gehad as gevolg van Covid-19, met 58% wat meer spaarsaam begin lewe en alle luukse items uitgesny het en 18,5% wat toegang tot die een of ander langtermynbelegging gekry het om finansieel te oorleef.
Kanyisa Mkhize, hoof uitvoerende beampte van Sanlam Corporate, sê aan die positiewe kant het 30% hul skuldvlakke ná die pandemie verlaag. Dit is van die bevindinge van Sanlam se normverslag (benchmark report) oor aftreebeplanning.
“Baie van die reaksies in die studie dui daarop dat 'n konserwatiewer en finansieel bewuste Suid-Afrikaner uit die pandemie voortgekom het,” het Mkhize gesê.
Die verslag het bevind dat 7,39% van lede hul aftreespaargeld vermeerder het en dat dit die effense toename in gemiddelde ledebydraes kan verklaar.
Mense verander gemiddeld vyf tot sewe keer van werk tydens hul loopbaan en kan dit aanloklik wees om aftreespaargeld te laat uitbetaal aangesien dit dalk na die beste oplossing op daardie tydstip lyk. Dit kan egter 'n vernietigende uitwerking op die persoon se langtermynaftreeplan hê. Volgens die verslag is die beste opsie dus om die fondse oor te dra na óf die nuwe werkgewer se pensioen- of voorsorgfonds, 'n uittreeannuïteit of 'n bewaringsfonds.
Sanlam se navorsing het wel bevind dat meer Suid-Afrikaners die belangrikheid van spaar vir aftrede begin besef, met 42% van verbruikers wat ondervra is wat aangedui dat hulle nie hul aftreefondsvoordele sal laat uitbetaal wanneer hulle van werk verander nie. Slegs 9% het aangedui dat hulle dit sal oorweeg om hul aftreevoordeel as 'n kontantbedrag te onttrek.
Daar is 'n aantal redes waarom individue die kontantopsie sou wou neem. Die hoofrede is dat mense nie kontant het nie en in skuld gedompel is, wat hulle met min of geen keuse laat as om hul voordele te laat uitbetaal nie.
Kommerwekkende tendense wat uit die verslag na vore gekom het, is dat 14,37% van respondente bykomende skuld aangegaan het, met meer as 8% wat hul lewens-, ongeskiktheids- en begrafnisdekking verminder het.
Daar is egter ook positiewe veranderinge in mense se besteding waargeneem, met 58% wat besnoei het op luukses, 31% wat geld spaar wat hulle sou bestee het aan pendel, middagete op kantoor en wegneemetes, en 27% wat hul polisse hersien het.
Rakende die Nasionale Tesourie se voorstel van ‘n “tweepotstelsel” vir aftreefondse, het net meer as die helfte van respondente gesê hulle is bewus van die voorstel. Die stelsel sal behels dat aftreebydraes in twee potte herstruktureer word – die een pot kan te eniger tyd verkry word terwyl die ander pot nie toeganklik sal wees voor aftrede nie. Eenderde van alle toekomstige bydraes gaan in die toeganklike pot en die ander tweederdes gaan in 'n pot wat tot aftrede bewaar moet word.
Van die respondente wat bewus was van die voorgestelde stelsel het 56% gesê hulle stem nie daarmee saam nie, met 29% wat gesê het dat as die wet verander hulle beslis nie voortydig aan hul aftreefondse sal raak nie en 20% wat gesê het hulle sal “waarskynlik nie” daar raak nie. Boonop het 62% van die respondente gesê as hulle kan, sal hulle hul aftreespaargeld verhoog.
Bron
Oops! We could not locate your form.