Sny jou selfoonkoste só

Vrydag, September 9th, 2016

Nico Strydom

 

Talle verbruikers sit maand na maand met hul hande in die hare weens hemelhoë selfoonkoste.

Suid-Afrika het volgens berigte van die hoogste selfoontariewe in Afrika. Die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika (Okosa) het reeds ʼn verlaging in interkonneksietariewe tussen Suid-Afrika se selfoonnetwerke aangekondig, maar volgens ontleders is selfoonkoste steeds te hoog.

Jy kan egter self ʼn paar dinge doen om jou selfoonkoste te probeer beperk. Dit is baie maklik om onbewustelik uitgawes met jou selfoon aan te gaan en dit kan jou teen die einde van die maand duur te staan kom.

Die eerste stap is om jou selfoonkontrak behoorlik te bekyk. Gaan van jou rekeninge na en werk uit hoeveel jy gemiddeld per maand aan oproepe, SMS’e en data spandeer. Maak seker jou plan pas hierby aan. Indien jy besef jy het die verkeerde pakket beet, moet jy uitvind of jy wel jou pakket kan verander of aanpas. Jy kan byvoorbeeld kyk of ʼn vooruitbetaalopsie nie dalk beter vir jou gaan werk nie.

Internasionale swerwing (roaming) en datakoste is gewoonlik die groot sondebokke. Selfoongebruikers wat reis, moet veral daarop let dat dit beter is om dataswerwing (data roaming) af te skakel wanneer hulle reis aangesien veral datagebruik vir sosiale media ʼn buitensporige rekening tot gevolg kan hê. Die koste van foonoproepe vanuit die buiteland is ook hemelhoog.  Wi-fi-verbindings is gelukkig baie algemeen, veral oorsee, en jy kan dié verbindings gebruik om data te spaar en selfs foonoproepe te maak.

Nog ʼn groot sondebok is toepassings, oftewel slimfoon-apps. Daar is talle gratis apps maar die meeste van die apps maak byvoorbeeld voorsiening vir sogenaamde “in-app purchases”, wat jou ook duur te staan kan kom. Dit is veral belangrik om seker te maak jy doen die nodige verstellings op jou selfoon om te verseker dat jy toestemming moet gee dat veral apps wat geld kos nie sommer self afgelaai word of dat hulle hulle self bywerk (update) nie. Doen byvoorbeeld bywerkings wanneer jy toegang kan kry tot ’n wi-fi-netwerk. Maak seker dat jy nooit meer data gebruik as wat op jou selfoon gelaai is nie aangesien dié data baie duurder is as datapakette of data wat by jou kontrak ingesluit is.

Nog ʼn opsie om te oorweeg is die soort slimfoon wat jy gebruik. Die verskillende vervaardigers sluit dikwels ʼn spesifieke voordeel vir hul spesifieke fone in. Daar is byvoorbeeld fone waarmee jy gratis SMS’e kan stuur na iemand met dieselfde foon.

Selfoonversekering kan jou ook ʼn paar rand uit die sak jaag. Die meeste netwerke het die opsie om jou selfoon by hulle te laat verseker of jy kan van ʼn derde party gebruik maak. Indien jy byvoorbeeld vooraf weet watter foon jy gaan neem wanneer jy ʼn kontrak gaan uitneem, kan jy die verskeie versekeraars kontak en hoor hoeveel versekering vir jou selfoon jou per maand gaan kos. Maak seker van die bepalings en voorwaardes en byvoorbeeld die bybetaling op die betrokke item.

 

Ander Artikels

Skop vas en moenie onnodig koop nie
Anja van den Berg   Alles rakende jou supermark is bedoel om jou geld te laat bestee wat jy nie beplan het om te bestee nie, en selfs geld wat jy nie regtig hoef te bestee nie. Hoewel die meeste mense aan produkte dink in terme van die funksionele eienskappe daarvan – die instrumentele waarde […]
Agterbakse supermarktaktieke om jou onnodige goed te laat koop
Anja van den Berg   Het jy al ooit aanvaar dat iets ʼn winskoop is net omdat die prys in rooi geskryf is? Of besluit om daardie duur handsak of aktetas te koop omdat jy daarvan oortuig was dat jy dit verdien? Of ʼn hand vol ongesonde snoepgoed van die impulsrak gegryp terwyl jy toustaan […]
OTM-kaartruilslenters neem toe: Let op hiervoor!
Die Suid-Afrikaanse Bankrisiko-inligtingsentrum (Sabric) waarsku die publiek om op die uitkyk te wees te midde van die hoë voorkoms van OTM-kaartbedrog in die land. Die groep het gewaarsku dat daar weer ʼn “kaartruil”-skelmstreek in Suid-Afrika voorkom en ʼn uiteensetting van die betrokke skelms se modus operandi gegee om die publiek teen hul metodes te waarsku. […]
1 2 3 152