Slegs 1,1 miljoen tot 3,3 miljoen belastingbetalers dra die staat se besteding

Donderdag, November 5th, 2015

Deur Paul Joubert, Senior Navorser: Solidariteit Navorsingsinstituut

 

Aangesien die Suid-Afrikaanse regering toenemend tussen sy onvermoë om sy besteding in toom te hou en sy groeiende skuldlas vasgedruk sit, verbaas dit nie dat hy dié druk op die belastingbetalers in Suid-Afrika afskuif nie. Dit is nou al ’n klompie jare aan die gang en was veral opmerklik in die mees onlangse staatsbegroting, waarin die marginale persoonlike inkomstebelastingkoerse op een na almal met ’n persentasiepunt verhoog is.

 

Slegs een uit tien tot een uit dertig volwassenes in Suid-Afrika betaal ’n betekenisvolle hoeveelheid belasting. Dit, saam met die Suid-Afrikaanse regering se vyandigheid teenoor private ondernemerskap en werkgewers in die algemeen, het ʼn kloof tussen die regering en diegene wat sy werksaamhede finansier, geskep. Die Suid-Afrikaanse regering wil blykbaar verhinder dat die belastingbasis groei, terwyl hy hom terselfdertyd verlustig in die getal mense wat afhanklik gehou word van maatskaplike besteding, soos opleiding, behuising, water, elektrisiteit, gesondheidsorg en toelaes, wat deur belastingbetalers gefinansier word. In plaas daarvan dat hy hom daarop toespits om alle mense die vryheid toe te laat om deur private inisiatief meer waarde toe te voeg, lyk die regering vasbeslote om die bietjie waarde wat elke jaar geskep word te herverdeel, terwyl hy in die proses baie van dié waarde vernietig.

 

Wie betaal watter belasting?

 

Om die werklike getal belastingbetalers te bepaal, moet die verskillende soorte belasting eers uiteengesit word. Volgens die jongste beskikbare syfers – dié vir die 2013-belastingjaar – het 34% van die regering se nasionale belastinginkomste uit persoonlike inkomstebelasting gekom. Meer as 26% was belasting op toegevoegde waarde (BTW), terwyl maatskappybelasting vir byna 20% verantwoordelik was. Die brandstofheffing en doeaneheffings (invoer- en uitvoerbelasting) het elk onderskeidelik nog 5% bygevoeg, terwyl die oorblywende tiende uit verskillende ander soorte belasting gekom het, soos aksynsbelasting op drank en tabak en die sogenaamde omgewingsbelastings.

 

Aangesien persoonlike inkomstebelasting net meer as ’n derde van die totale belastinginkomste uitmaak, is dit miskien nie onmiddellik duidelik hoekom dit soveel saak maak watter getal mense hierdie belasting betaal nie. Almal, ook dié wat geen persoonlike inkomstebelasting betaal nie, betaal tog mos BTW, maatskappye betaal maatskappybelasting, motoriste betaal brandstofheffings, handelaars betaal doeaneheffings ens. Tog, hoewel die verspreiding van mense wat dié belastings betaal nie presies parallel is aan dié wat persoonlike inkomstebelasting betaal nie, is dit ongetwyfeld soortgelyk.

 

Neem byvoorbeeld maatskappybelasting: dit is nie werklik maatskappye wat dié belasting betaal nie. ’n Maatskappy bestaan slegs op papier en papier betaal nie belasting nie. In die praktyk word maatskappybelasting betaal deur die belanghebbendes van die maatskappy – dié wat die maatskappy besit, dié wat daarvoor werk en selfs dié wat die maatskappy se produkte koop. Dit is grotendeels presies dieselfde mense as wat persoonlike inkomstebelasting betaal, want hulle is aandeelhouers, werknemers en verbruikers met koopkrag. Wanneer dit by invoerbelasting, die brandstofheffing en veral BTW kom, neig die verdeling effens meer na dié wat nie genoeg verdien dat hulle persoonlike inkomstebelasting hoef te betaal nie. Die grootste deel van dié belastings word egter steeds betaal deur die mense wat oor die meeste koopkrag beskik – die groep wat persoonlike inkomstebelasting betaal.

 

Dit is nie moontlik om presies te bepaal wie hoeveel van elke soort belasting betaal nie, maar dit is redelik om aan te neem dat daar ’n regstreekse verband is tussen die hoeveelheid persoonlike inkomstebelasting wat iemand betaal en hoeveel ander belasting daardie belastingbetaler ook betaal. Ontleed ’n mens die bekende feite oor die betalers van persoonlike inkomstebelasting, bied die ontleding gevolglik inligting oor meer as slegs ’n derde van die belasting wat die Suid-Afrikaanse regering invorder.

 

Wie het in die 2013-belastingjaar persoonlike inkomstebelasting betaal?

 

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) verplig werkgewers sedert 2011 om alle werknemers vir persoonlike inkomstebelasting te registreer. Dit het gelei tot ’n belastingregister met 15,4 miljoen individue in die 2013-belastingjaar. Dié syfer het die getal werkende mense (insluitend dié in die informele sektor, huis- en tuinwerkers) met sowat twee miljoen oorskry. Dit is ooglopend dus nie moontlik dat al die mense wat vir persoonlike inkomstebelasting geregistreer is, wel dié belasting betaal nie. Die meeste van hierdie mense se verdienste is onder die drempel vir persoonlike inkomstebelasting, terwyl baie uit vorige jare nog op die register gebly het al het hulle in die 2013-belastingjaar niks verdien nie. Die syfer vir die getal mense wat vir persoonlike inkomstebelasting geregistreer is, beteken dus nie veel nie, behalwe om te wys hoe bedrewe die SAID met rekordhouding is.

 

Die SAID publiseer ook syfers oor van hoeveel mense daar verwag word om vir ’n spesifieke belastingjaar opgawes vir persoonlike inkomstebelasting in te dien. Vir die 2013-belastingjaar was dit sowat 6,5 miljoen individue. Dit sluit sommige mense met ’n belasbare inkomste van minder as R250 000 per jaar uit, aangesien diesulkes (wat ook aan sekere ander kriteria voldoen) nie belastingopgawes hoef in te dien nie, alhoewel sommige dit steeds doen. In die 2013-belastingjaar was daar na raming 460 000 sulke mense. Die totale getal mense wat in die 2013-belastingjaar enige bedrag persoonlike inkomstebelasting betaal het, was dus sowat 6,9 miljoen. Dit is reeds minder as die helfte van die getal wat op die belastingregister was.

 

Die belasting wat betaal is deur die 6,9 miljoen mense wat enige bedrag persoonlike inkomstebelasting betaal het, was nie gelyk of selfs naastenby gelyk versprei nie. Die verspreiding hel beduidend oor na die hoër kant van die inkomsteskaal. In die 2013-belastingjaar het belastingbetalers met ’n belasbare inkomste van onder R140 000 minder as 4% van hul inkomste aan persoonlike inkomstebelasting afgestaan. Dié groep, bestaande uit 3,6 miljoen mense, het minder as 7% van die persoonlike inkomstebelasting van R276,7 miljard wat die SAID in die 2013-belastingjaar ingevorder het, betaal. Daarteenoor moes mense met ’n belasbare inkomste van meer as R140 000 per jaar gemiddeld meer as 21% van hul inkomste aan persoonlike inkomstebelasting afstaan. Dié groep van 3,3 miljoen mense het sowat 93% van alle persoonlike inkomstebelasting betaal.

 

Wanneer die afsnypunt na ’n belasbare inkomste van R200 000 per jaar verskuif, bly daar 2,2 miljoen belastingbetalers oor wat sowat 85% van alle persoonlike inkomstebelasting betaal het – sowat R234 miljard betaal het. Wanneer laastens slegs belastingbetalers met ’n belasbare inkomste van meer as R300 000 per jaar in ag geneem word, bly daar 1,1 miljoen mense oor wat sowat 69% (R191 miljard) van die totale bedrag persoonlike inkomstebelasting wat in die 2013-belastingjaar ingevorder is, betaal het.

 

Herverdeling teenoor vryheid

 

In die betrokke jaar was daar sowat 33 miljoen volwassenes in Suid-Afrika. Die 3,3 miljoen mense wat 93% van persoonlike inkomstebelasting betaal het, verteenwoordig slegs een uit elke tien volwassenes in die land. Die 1,1 miljoen mense wat byna 70% van alle persoonlike inkomstebelasting betaal het, is slegs een uit elke 30 volwassenes. Op die skouers en beursies van dié klein groepie van een-uit-tien tot een-uit-dertig mense rus die las van die Suid-Afrikaanse regering se besteding.

 

Aangesien die Suid-Afrikaanse regering se besteding hoogs herverdelend van aard is, ontvang dié groep van 1,1 miljoen tot 3,3 miljoen sterk baie min in ruil vir die belasting wat hulle betaal. Om dié klein groep mense wat vir hulself kan sorg, toe te laat om deur vrye ondernemerskap te groei, behoort die Suid-Afrikaanse regering se prioriteit te wees, nie ’n onvolhoubare herverdelingsbeleid wat mense deur staatsbesteding van belastingbetalers afhanklik hou nie.

cc

Ander Artikels

Afdwing van verbruikersregte deur die howe: Gebruik eers ander remedies
Justine Krige   Artikel 69 van die Wet op Verbruikersbeskerming (Wet 68 van 2008 [CPA]) sit ʼn verskeidenheid statutêre remedies uiteen vir die afdwing van verbruikersregte ingevolge die CPA. Dit sluit in die indien van ʼn klagte by die Nasionale Verbruikerskommissie (Kommissie), die verwysing van ʼn dispuut na die Verbruikerstribunaal (Tribunaal), of om ʼn bedryfsombudsman […]
Wie mag waar parkeer in ʼn meenthuiskompleks?
Vraag: “In die deeltitelskema waar ek woon is daar ʼn konstante gebaklei en gestry oor wie waar mag parkeer en wie verantwoordelik is vir die instandhouding van parkeerplekke. My vraag is: wie besluit watter dele van die skema vir parkeerplekke toegeken word, wie dit mag gebruik en wie dit moet in stand hou?” Antwoord: Wat […]
Moenie vanjaar val vir hierdie belastingslenters nie
Lede van die publiek ontvang dikwels ewekansig vals e-posse wat nagemaak is om te lyk asof hulle deur die SAID gestuur is, maar wat in der waarheid vals e-posse is wat daarop gemik is om niksvermoedende belastingbetalers uit te lok om persoonlike inligting, soos bankrekeningbesonderhede, te onthul. Voorbeelde sluit in e-posse wat skyn afkomstig te […]
1 2 3 150