Is sekwestrasie die einde, of is daar uitkoms?

Vrydag, September 16th, 2016

Vraag: “Ek het onlangs gelees dat ’n bekende sportman gesekwestreer is. Is dit noodwendig die einde vir hom, of word sy skuld nou net afgeskryf en kan hy maar weer oor begin?”

 

Antwoord: Die posisie rondom sekwestrasie is dikwels onduidelik vir Jan Alleman, en daar kan ook ‘n persepsie ontstaan dat dit ‘n maklike uitweg is om jou verpligtinge te ontduik.

Eerstens, is dit belangrik om te verstaan dat sekwestrasie slegs deur ‘n bevel van die hof kan plaasvind. ‘n Persoon kan hulself dus nie net bankrot verklaar en só hulle verpligtinge omseil nie. ‘n Sekwestrasiebevel kan toegestaan word op versoek van òf die skuldenaar self – bekend as vrywillige boedeloorgawe – òf deur een van die persoon se skuldeisers – bekend as verpligte sekwestrasie.

Die toets wat howe aanwend om te bepaal of iemand se boedel insolvent is, is om te bepaal of ‘n persoon se billik berekende laste sy billik gewaardeerde bates oorskry, wat dan beteken dat die persoon “feitelik insolvent” is. ‘n Sekwestrasiebevel kan ook toegestaan word wanneer ‘n persoon se bates wel sy laste oorskry, maar waar die persoon nie skulde kan betaal nie as gevolg van byvoorbeeld ‘n kontantvloei-probleem, en word ‘n persoon in hierdie omstandighede beskou as “kommersieël insolvent”. Maar, die feit dat ‘n persoon nie meer sy skulde of rekeninge kan betaal nie, is net een van die aanduidings dat ‘n persoon moontlik insolvent is. ‘n Sekwestrasiebevel sal slegs toegestaan word wanneer die hof daarvan oortuig is dat dit voordeel vir die konkurrente skuldeisers inhou en daarom is sekwestrasie ‘n proses tot voordeel van skuldeisers en nie noodwendig die insolvente nie.

Die doel van ‘n sekwestrasiebevel is dat die insolvente se bates te gelde gemaak word en die opbrengs van die bates dan in ‘n bepaalde rangorde, pro-rata, onder die skuldeisers verdeel word, soos bepaal deur die Insolvensiewet.

Sodra ‘n voorlopige sekwestrasiebevel toegestaan word neem ‘n kurator beheer van die insolvente se boedel en sake en mag die insolvente nie meer verdere verpligtinge of skulde aangaan of met sy boedelbates handel nie. Die insolvente mag dan ook sekere handelinge nie self verrig nie (of slegs tot ‘n beperkte mate), mag slegs sekere kontrakte self sluit en mag nie sekere posisies beklee nie. Die insolvente sal vir handelinge wat hy nie self mag verrig nie, eers die skriftelike toestemming van sy kurator moet verkry, en sal nie daarsonder kan optree nie. Die kurator sal ook net toestemming oorweeg indien dit nie tot nadeel van skuldeisers van die boedel sal wees nie.

Insolvensie is nie ewigdurend nie. ‘n Insolvente kan gerehabiliteer word en dan weer soos voorheen optree en handel. ’n Insolvente word outomaties gerehabiliteer ná verstryking van ‘n periode van 10 jaar, bereken vanaf die datum waarop die voorlopige bevel uitgereik is. Daar is ook verskillende gevalle en tydperke waarbinne die insolvente die hof op aansoek kan nader om gerehabiliteer te word. Waar die insolvente ‘n aansoek bring moet die hof oortuig wees dat die persoon inderdaad gerehabiliteer is en kan die kurator of ‘n skuldeiser beswaar maak teen die toestaan van ‘n rehabilitasiebevel, welke beswaar die hof in ag sal neem.

Die voordeel van sekwestrasie, alhoewel dit nie die oogmerk is nie, is dat die insolvente nadat hy suksesvol gerehabiliteer is, vry is van sy skulde wat bestaan het voor die sekwestrasiebevel (met enkele uitsonderings). Dit beteken dat ‘n persoon weer oor kan begin, alhoewel hy nie meer al sy vorige bates sal hê nie. ‘n Sekwestrasiebevel is daarom nie die einde van die wêreld nie, maar is verseker ook nie ‘n aangename ervaring nie, en kan vir so lank as 10 jaar ‘n dramatiese impak op ‘n persoon se lewe hê.

 

Bron: BDP Prokureurs

Ander Artikels

Wie betaal vir die vervanging van ʼn meenthuis-uitlaatpyp?
Vraag: Gee asseblief raad oor wie verantwoordelik sou wees vir die vervanging van ʼn uitlaatpyp in die kombuis van ʼn eenheid as dit deurgeroes het en aan die buitekant van die eenheid afgebreek het.   Antwoord: Eienaars is verantwoordelik vir die herstel en onderhoud van hulle eenhede en die beheerliggaam het dieselfde verantwoordelikheid met betrekking […]
Tipes kontantbeleggings
VASTE DEPOSITOREKENING ʼn Vaste depositorekening is ʼn tipe spaarrekening waar jy jou kontant vir ʼn spesifieke tydperk deponeer in ruil vir ʼn vaste rentekoers, wat gewoonlik hoër is as een wat jy uit ʼn gewone bankrekening sou ontvang. Tipies vereis vaste depositorekenings dat fondse in die rekening gelaat word tot die vervaldatum, met moontlike boetes […]
Voertuigfinansiering verduidelik
Tensy jy ʼn rekenmeester is, is voertuigfinansiering gekompliseerd. Weet jy hoe finansieringsbepalings werk? Is dit ʼn goeie idee om ʼn residu te neem?  Wat van die rentekoers – moet jy dit vas of gekoppel neem? Ons het met WesBank gesels vir hierdie beginnersgids oor die finansiering van die motorvoertuig van jou drome! Bereken hoeveel jy […]
1 2 3 161