Kredietverskaffers gebruik uitloktaktiek om verbruikers te oorreed om krediet te kry. In sommige gevalle fokus die verkoopspersoon meer op sy verkopeteiken as op jou werklike finansiële omstandighede.
Dit word 'n gevaarlike situasie vir sowel die verbruiker as die kredietverskaffer.
Die situasie is gevaarlik vir die verbruiker omdat hy hom bevind in 'n situasie waar hy dalk nie sy finansiële verpligtings kan nakom nie.
Die situasie is ook gevaarlik vir die kredietverskaffer want as daar bewys kan word dat die kredietverskaffer nie redelike stappe gedoen het om die verbruiker se kredietwaardigheid vas te stel nie, “kan by die hof aansoek gedoen word en die hof kan die kredietooreenkoms roekeloos verklaar en al of deel van die verbruiker se verpligtinge kragtens die ooreenkoms tersyde stel of, as alternatief, die regskrag van die ooreenkoms ingevolge die Nasionale Kredietwet ophef,” sê Natasha La Vita van Berndt en La Vita Ingelyf.
Wat beteken dit werklik vir verbruikers?
Audrey Berndt van Berndt en La Vita Ing. het aangedui dat wanneer 'n kredietverskaffer iemand se kredietwaardigheid nagaan, hy die volgende oorwegings in gedagte moet hou:
1. Het die verbruiker 'n algemene begrip van en waardering vir die risiko’s en koste van die voorgestelde krediet, asook 'n begrip van sy regte en verpligtinge?
2. Is die verbruiker se betalingsgeskiedenis nagegaan?
3. Is die verbruiker se huidige finansiële middele, vooruitsigte en verpligtinge geassesseer?
4. Sal die verbruiker te veel skuld hê as hy die ooreenkoms aangaan?
5. As die verbruiker die krediet vir 'n kommersiële doel wil verkry, moet die kredietverskaffer redelike gronde hê om te glo dat die doel suksesvol sal wees.
Indien 'n kredietverskaffer nie die nodige stappe doen en pogings aanwend om bogenoemde korrek te assesseer nie, kan die verbruiker 'n hof nader om die ooreenkoms roekeloos en nietig, met ander woorde nie meer afdwingbaar nie, te verklaar.
'n Paar wenke: Verbruikers moet die volgende oorweeg om vas te stel of hulle kredietooreenkomste roekeloos is:
• Het die krediteur 'n finansiële assessering van die verbruiker se verpligtinge gedoen?
• Het die krediteur 'n kopie van die verbruiker se kredietverslag verkry?
• Hoe is die verbruiker oortuig om die krediet op te neem? Spesiale klem moet op telefoniese verkope geplaas word.
• Kon die verbruiker ten tyde van die opneem van die krediet die krediet bekostig?
• Was die verbruiker onder administrasie of skuldhersiening?
Ter afsluiting, indien 'n bank of ander kredietverskaffer nie voordat hy krediet toestaan 'n verbruiker se kredietgeskiedenis nagaan en 'n behoorlike finansiële assessering doen om vas te stel hoeveel krediet 'n verbruiker kan bekostig nie en die verbruiker wanbetaal dan later, kan die ooreenkoms roekeloos verklaar word en die kredietverskaffer kan verplig word om 'n gedeelte van of die hele voorgeskiete bedrag af te skryf.
Oops! We could not locate your form.