Rek so jou mediese rande

Woensdag, September 23rd, 2015

Elmien Ackerman

 

As koste bespaar moet word, is baie mense geneig om hul mediese fonds te kanselleer, maar dié besluit kan jou duur te staan kom. Jy kan dalk ʼn doktersbesoek of griepmedisyne by die apteek bekostig, maar wat as daar ʼn mediese noodgeval is?

Hier is ʼn paar wenke om jou mediese rande te rek en om seker te maak dat jy al die mediese voordele benut wat jou fonds bied.

Sluit aan by jou werkgewer se mediese skema. ʼn Jaarverslag van die Raad op Mediese Skemas (RMS) toon  dat werkers wat lid is van hul werkgewer se mediese skema beter daaraan toe is as lede van ander mediese skemas. Ondernemings kan beter tariewe met mediese skemas ooreenkom, wat beteken dat jy meer voordele kan geniet.

Kies die plan wat jou pas. As jy jonk, fiks en gesond is, sal ’n hospitaalplan met ’n spaarrekening heel moontlik die regte opsie wees vir jou. As jy bril dra, gereeld sukkel met tandpyn en op chroniese medisyne is – kies ʼn plan met meer voordele vir dag-tot-dag mediese uitgawes. Sommige planne het spesifieke voordele vir as jy   gereeld die tandarts of oogkundige moet besoek.

Gebruik jou voordele. Maak seker jy verstaan hoeveel dekking jy vir medisyne, prosedures en konsultasies geniet. Dit kan jou baie bespaar. As jou plan byvoorbeeld nuwe lense van R800 dek, maak seker dat jy wel lense kies wat in daardie prysklas val. Registreer ook jou chroniese medikasie of toestand (as dit kwalifiseer vir Voorgeskrewe Minimum Voordele).

Oorweeg generiese medisyne. Andrew Edwards, uitvoerende hoof van die Liberty Mediese Skema, sê dat jy die bedrag wat jy aan chroniese medisyne bestee met tot 30% kan besnoei deur die generiese weergawe te gebruik. Vra gerus jou apteker of daar ’n goedkoper generiese middel is vir die medikasie wat jou dokter voorgeskryf het. Dit sal verseker dat jy jou mediese koste so laag as moontlik hou.

Gebruik voorkeurverskaffers. As jy ʼn dokter, spesialis, apteker of tandarts moet besoek, kyk eers na die lys van dokters wat deur jou mediese skema aanbeveel word. As jy een van die voorkeurdiensverskaffers besoek, sal die mediese fonds regstreeks vir die konsultasie betaal en nie uit jou spaarrekening nie. Dit sal jou mediese rande baie verder rek.

As jy wel ʼn ander dokter wil besoek, maak seker dat jou dokter en ander gesondheidsorgverskaffers medieseskema-tariewe vra. Sommige dokters en spesialiste vra meer as die mediesefondskoers, maar daar is baie dokters wat wel mediesefondstariewe vra, so vra ’n bietjie rond.

Medisyne by die supermark. Algemene medisyne soos hoofpynpille, vitamien-aanvullings en sooibrandmiddels kan baie goedkoper by jou naaste supermark gekoop word. Dié tipe winkels koop medisyne in grootmaat aan wat verseker dat die prys wat jy betaal aansienlik minder is.

Voorsorg is beter as nasorg. Die meeste mediese fondse betaal vir jaarlike toetse soos bloeddruk- of cholesteroltoetse wat by Dis-Chem of Clicks se klinieke gedoen kan word. Dit is goedkoper as om vir ’n dokterskonsultasie te betaal en verseker ook dat enige moontlike probleme vroegtydig opgetel word. Dit sal jou op die lange duur nie net geld bespaar nie, maar kan boonop jou lewe red. Ondergaan jaarliks dié toetse wat by jou ouderdomsprofiel pas, soos cholesterol, insulien, bloeddruk, mammogramme en prostaat-ondersoeke. Besoek die tandarts en oogarts jaarliks.

 

Kies die mediese plan wat by jou pas en maak seker jy gebruik al die voordele waarvoor jy betaal. Op die manier sal jy sorg dat jy nie net fiks en gesond bly nie, maar ook koste bespaar.

 

“Gesonde mense is die grootste bate waarvoor enige land kan vra.”

– Winston Churchill

 

 

Bronne:

Rapport, 30 Maart 2014. “Gesondheid: Rek jou rande só”. http://m.news24.com/rapport/Sake/Gesondheid-Rek-jou-rande-so-20140330

Medihelp,17 Desember 2014. “10 wenke om jou mediese rande te rek.” http://www.medihelp.co.za/af/blog-artikel?g=10-tips-to-save-those-medical-cents

Erasmus, S. 2014. “21-ways-to-cut-medical-costs”. Health24, http://www.health24.com/Medical-schemes/Choosing-a-medical-scheme/20-ways-to-cut-medical-costs-20120721

Van Tonder, J. 2006. “Geslote skemas rek jou mediese rande”. Sake-Rapport,

http://152.111.1.87/argief/berigte/rapport/2006/03/05/E1/6/05.html

Ander Artikels

Afdwing van verbruikersregte deur die howe: Gebruik eers ander remedies
Justine Krige   Artikel 69 van die Wet op Verbruikersbeskerming (Wet 68 van 2008 [CPA]) sit ʼn verskeidenheid statutêre remedies uiteen vir die afdwing van verbruikersregte ingevolge die CPA. Dit sluit in die indien van ʼn klagte by die Nasionale Verbruikerskommissie (Kommissie), die verwysing van ʼn dispuut na die Verbruikerstribunaal (Tribunaal), of om ʼn bedryfsombudsman […]
Wie mag waar parkeer in ʼn meenthuiskompleks?
Vraag: “In die deeltitelskema waar ek woon is daar ʼn konstante gebaklei en gestry oor wie waar mag parkeer en wie verantwoordelik is vir die instandhouding van parkeerplekke. My vraag is: wie besluit watter dele van die skema vir parkeerplekke toegeken word, wie dit mag gebruik en wie dit moet in stand hou?” Antwoord: Wat […]
Moenie vanjaar val vir hierdie belastingslenters nie
Lede van die publiek ontvang dikwels ewekansig vals e-posse wat nagemaak is om te lyk asof hulle deur die SAID gestuur is, maar wat in der waarheid vals e-posse is wat daarop gemik is om niksvermoedende belastingbetalers uit te lok om persoonlike inligting, soos bankrekeningbesonderhede, te onthul. Voorbeelde sluit in e-posse wat skyn afkomstig te […]
1 2 3 150