Regsmiddele: ’n Klein daklekplek hoef nie groot kopseer te wees

Maandag, Julie 11th, 2016

Adine Abro and Ernst Muller

 

 

’n Lekkende dak is ongelukkig iets wat huiseienaars maar alte goed ken. Gelukkig voorsien die reg ’n moontlike oplossing vir hierdie probleem: die oorspronklike bouer van die huis is verplig om die probleem reg te stel. Die oplossing vir die huiseienaar is geleë in a13(2) van die Wet op Beskermingsmaatreëls vir Behuisingsverbruikers (Wet 95 van 1998).

Artikel 13(2) van die wet kan in twee dele verdeel word: die eerste handel oor die waarborge wat die bouer aan die eienaar gee, dit is waarborge, of beloftes, wat die bouer gee ten opsigte van die konstruksiewerk wat reeds gedoen is. Die tweede deel van a13(2), wat volg op die waarborge, identifiseer die regsmiddele wat beskikbaar is indien die bouer hierdie waarborge verbreek.

 

Watter beloftes maak die bouer wanneer hy jou huis bou?

 

Volgens a13(2) waarborg die bouer dat die huis op ’n vakkundige wyse gebou sal word en vir bewoning geskik sal wees. Hierbenewens vereis die wet dat die bouer volgens die tegniese vereistes van die NRRHB (voorgeskrewe nasionale boustandaarde) moet bou en in ooreenstemming met die planne en spesifikasies van die huis.

 

Nou wat dan as die dak begin lek?

 

Die tweede deel van a13(2) maak jou as die huiseienaar daarop geregtig om te eis dat die bouer optree volgens die waarborge wat verskaf is. Artikel 13(2) stipuleer dat die bouer verplig is om op eie koste alle groot strukturele defekte te herstel, enige afwyking van die spesifikasies en planne reg te stel en spesifiek daklekke te herstel as die lek aan swak vakmanskap, ontwerp of materiaal toegeskryf kan word.

Die beskerming wat hierbo verduidelik is, is ook beskikbaar aan mense wat huise koop eerder as om te laat bou. Dit is só omdat die waarborg wat die bouer verskaf van een huiseienaar na die volgende oorgeplaas word wanneer die huis ook al verkoop word.

Die nuwe huiseienaar se vermoë om hierdie regsmiddele af te dwing, word beperk indien die bouer en die oorspronklike behuisingsverbruiker ’n ooreenkoms aangegaan het wat die aantal jare beperk waarvoor die bouer hierdie waarborge verskaf. Die waarborgtydperk is dan dít waarop die partye ooreengekom het maar mag nie korter wees as die minimum tydperk wat a13(2) voorskryf nie. In die geval van lekkende dakke is die minimum tydperk 12 maande van die datum van okkupasie.

Die bouer se plig om te herstel word geaktiveer deur ’n aanmaning wat aan die bouer gestuur word om die lekkende dak in ooreenstemming met die bouer se waarborge te herstel. Indien die bouer versuim om op die aanmaning te reageer, is die volgende stap ’n aansoek om spesifieke nakoming van die waarborg.

 

Bron: Cliffe Dekker Hofmeyr

Ander Artikels

Skop vas en moenie onnodig koop nie
Anja van den Berg   Alles rakende jou supermark is bedoel om jou geld te laat bestee wat jy nie beplan het om te bestee nie, en selfs geld wat jy nie regtig hoef te bestee nie. Hoewel die meeste mense aan produkte dink in terme van die funksionele eienskappe daarvan – die instrumentele waarde […]
Agterbakse supermarktaktieke om jou onnodige goed te laat koop
Anja van den Berg   Het jy al ooit aanvaar dat iets ʼn winskoop is net omdat die prys in rooi geskryf is? Of besluit om daardie duur handsak of aktetas te koop omdat jy daarvan oortuig was dat jy dit verdien? Of ʼn hand vol ongesonde snoepgoed van die impulsrak gegryp terwyl jy toustaan […]
OTM-kaartruilslenters neem toe: Let op hiervoor!
Die Suid-Afrikaanse Bankrisiko-inligtingsentrum (Sabric) waarsku die publiek om op die uitkyk te wees te midde van die hoë voorkoms van OTM-kaartbedrog in die land. Die groep het gewaarsku dat daar weer ʼn “kaartruil”-skelmstreek in Suid-Afrika voorkom en ʼn uiteensetting van die betrokke skelms se modus operandi gegee om die publiek teen hul metodes te waarsku. […]
1 2 3 152