Deur Nico Strydom
Die eerste twee maande van die jaar, wat gewoonlik baie druk op verbruikers se beursies plaas, is reeds verby maar sommige verbruikers sukkel steeds om hul finansiële verpligtinge na te kom.
“Verbruikers wat noodgedwonge geld moet leen of krediet aangaan, moet egter kredietooreenkomste verstaan voordat hulle dit onderteken,” sê Anne-Carien du Plooy van die Nasionale Kredietreguleerder.
Volgens die Nasionale Kredietwet het verbruikers die reg om inligting in duidelik en verstaanbare taal te ontvang en om redes van die kredietverskaffer te ontvang indien hul aansoek van die hand gewys word.
“Indien alle geregistreerde kredietverskaffers jou aansoeke van die hand wys, beteken dit dat daar ‘n probleem is en dat dit tyd is om aan jou geldsake te werk, aangesien jou finansiële probleme dalk groter is as wat jy besef,” sê Du Plooy. “Dit is dan die tyd om hulp te kry deur met jou huidige kredietverskaffers oor laer paaiemente te onderhandel en om sommige rekeninge af te betaal en te sluit.”
Verbruikers moet ook op die uitkyk wees vir ongeregistreerde kredietverskaffers aangesien dit hulle later duur te staan kan kom. Ongeregistreerde kredietverskaffers hef buitensporige rentekoerse en gebruik ander onwettige invorderingsmeganismes. Verbruikers moet ook nie instem om ‘n vooraf-fooi te betaal nie aangesien só 'n fooi meestal deur ongeregistreerde of selfs valse kredietverskaffers gehef word.
Du Plooy maan verbruikers om ook bewus te wees van die koste van krediet. Dit sluit in rente, aanvangsfooie, maandelikse fooie en versekering vir kredietbeskerming. “Dokumente moet aanvanklik noukeurig deurgelees word. Maak seker jy verstaan die inhoud daarvan. Vra vrae indien nodig en teken eers die ooreenkoms wanneer jy tevrede is.”
Die onus rus ook op verbruikers om eerlik te wees op hul kredietaansoeke. “Indien jy oneerlik is oor jou maandelikse uitgawes wanneer jy aansoek doen, verloor jy die beskerming wat die Nasionale Kredietwet aan jou verleen. Leen slegs as dit absoluut noodsaaklik is om dit te doen en vermy die gebruik van krediet vir verbruiksgoedere soos kruideniersware.”
Verbruikers moet ook seker maak dat hulle die term versekering vir kredietbeskerming verstaan. “Maak seker jy is bewus van die bepalings en voorwaardes van versekering vir kredietbeskerming ten einde nare verrassings te vermy wanneer jy krediet die nodigste het. Versekering vir kredietbeskerming kan handig te pas kom wanneer jy nie jou skuld kan betaal nie soos wanneer jy jou inkomste verloor of gestremdheid jou raak.”
Du Plooy raai verbruikers aan om hul skuld altyd op tyd te betaal aangesien dit hul kredietrekord kan beïnvloed.
Bronne:
NKR: https://www.ncr.org.za/register_of_registrants/index.html
Oops! We could not locate your form.