Pasop vir piramiedeskemas

Dinsdag, Mei 17th, 2016

Gerald Mwandiambira

 

Daar was in die onlangse verlede ’n toename in bedrieglike beleggingsmaatskappye wat as piramiedeskemas of Ponzi-skemas bekend staan. Hierdie skemas het al baie niksvermoedende beleggers uit duisende rande verneuk en hou aan kop uitsteek dwarsoor Suid-Afrika. Dit is belangrik dat almal van ons hierdie skemas van ver af moet kan uitken.

 

Wat is piramiedeskemas?

Piramiedeskemas is onwettige bedrogspulle waarvolgens groot getalle mense onderaan die piramiede geld aan ’n paar mense boaan betaal. Elke nuwe lid wat gewerf word, sluit aan die onderkant aan en werk sy pad op na bo. Om aan te sluit, sal jy dalk enigiets van ’n paar rand tot baie duisende rande moet betaal. Piramiedeskemas word gewoonlik met die oog op bedrog ontwerp en die stigters verdwyn spoorloos sodra die skema ineenstort. Hierdie stigters duik dan dikwels weer op in ’n ander deel van die land met dieselfde plan, nl. om mense in daardie area te bedrieg.

 

Wat is ‘n Ponzi-skema?

Dit is in die meeste opsigte identies aan ’n piramiedeskema en om dié rede word die terme dikwels met mekaar verwar. ’n Ponzi-skema is ’n ander onwettige operasie waar die operateur, wat ’n individu of ’n maatskappy kan wees, aan beleggers geld betaal uit nuwe geld wat beleggers inbetaal eerder as uit wins op beleggings. Operateurs van Ponzi-skemas verlei gewoonlik nuwe beleggers deur hoër opbrengste as ander beleggings aan te bied in die vorm van korttermynopbrengste wat óf abnormaal hoog óf buitengewoon konsekwent is. Ponzi-skemas vereis nie van beleggers om nuwe beleggers in te bring nie maar maak eerder staat op hul uiters aantreklikke opbrengste om nuwe beleggers te lok.

Ponzi-skemas begin soms as wettige besighede, totdat die besigheid ophou om die verwagte opbrengste te behaal. Die besigheid word dan ’n Ponzi-skema as hy op bedrieglike wyse voortgaan. Wat die aanvanklike situasie ook al is, die voortsetting van hoë opbrengste vereis ’n immer toenemende invloei van geld van nuwe beleggers om die skema te onderhou. Ponzi-skemas het dikwels wettige besigheidsregistrasie, professionele personeel met akkreditasie en slaag meeste beleggers se ondersoeke, wat dit moeilik maak om die bedrog raak te sien.

 

Voorbeeld van piramiede- en/of Ponzi-bedryf

R1 000 kan jou op die onderste laag van die piramiedeskema toelating gee. R500 van jou geld gaan na die persoon direk bokant jou wat jou gewerf het, en die ander R500 gaan na die persoon boaan die piramiede, d.w.s. die promotor. Na gelang meer en meer mense by die piramiede aansluit, kry die bokant van die piramiede meer geld terwyl die onderkant geld verloor. As die mense aan die bokant betaal is, word die volgende laag die bokant.

Elke keer as ’n laag na bo styg, moet ’n nuwe laag onder bygevoeg word, elkeen twee maal so groot as die vorige een. As die getal nuwe lede afneem, stort die piramiede ineen en al die onderste lae verloor geld.

Hoe om piramiedeskemas te identifiseer:

  1. Jy word aangespoor om gou aan te sluit voordat die geleentheid verlore gaan.

2. Jy word dubbel en meer as dubbel jou “belegging” binne ’n kort tydjie beloof.

  1. Duur, spoggerige brosjures, aanbiedings en webwerwe wat wys hoe maklik dit is om ryk te word.
  2. ’n Groot bedrag moet betaal word voordat jy enigiets terugkry.

5. Die stigters van die piramiede spog graag met hul maklike geld en is gewoonlik prominente lede van die gemeenskap, en dit trek ander lede.

 

Vrae wat gevra moet word voordat jy belê:

  1. Is die skema geregistreer by die Finasiëlediensteraad (FSB), en waar is die bewys?
  2. Is die prinsipale gekwalifiseer?

3. Hoe lank doen dit al sake?

  1. Moet potensiële beleggers nuwe lede en/of beleggers kry om te kan aansluit?
  2. Sal die belegger se finansiële beplanner toegelaat word om die belegging en hoe dit werk, te bestudeer?

 

Moenie skaam wees om die skuldiges te verkla nie

Een van die redes waarom die meeste van die bedrywers van piramiedeskemas ongestraf bly, is omdat die slagoffers dikwels te skaam is om die verlies aan te meld. En ook, as die skema in duie stort, het die oorspronklike stigters reeds lankal met die reusewinste verdwyn en laat wat die middel en die bodem was in werking.

Deelnemers aan die operasie verkies ook om stil te bly om te voorkom dat hulle geld wat hulle gemaak het, verloor. Dit beteken dat die wetstoepassers nie bewyse het nie.

 

Meld jou verlies aan

Wanneer ’n piramiede- of Ponzi-skema misluk, is dit skadelik vir die beeld en reputasie van alle goeie en eerlike beleggings in Suid-Afrika. Meld alle verdagte skemas by die FSB aan vir onmiddellike ondersoek. Jy kan verkies om anoniem te bly en help om gevaarlike misdadigers te laat toesluit omdat Ponzi-skemas dikwels fondse verskaf vir ander kriminele aktiwiteite, soos geldwassery, dwelmhandel, prostitusie en mensehandel.

 

Kontakbesonderhede: Bel 0800 313 626 vir die bedrog- en etiekaanmeldingslyn (Fraud and Ethics Hotline) of www.fsb.co.za

 

Bron: Suid-Afrikaanse Spaarinstituut

Ander Artikels

Skop vas en moenie onnodig koop nie
Anja van den Berg   Alles rakende jou supermark is bedoel om jou geld te laat bestee wat jy nie beplan het om te bestee nie, en selfs geld wat jy nie regtig hoef te bestee nie. Hoewel die meeste mense aan produkte dink in terme van die funksionele eienskappe daarvan – die instrumentele waarde […]
Agterbakse supermarktaktieke om jou onnodige goed te laat koop
Anja van den Berg   Het jy al ooit aanvaar dat iets ʼn winskoop is net omdat die prys in rooi geskryf is? Of besluit om daardie duur handsak of aktetas te koop omdat jy daarvan oortuig was dat jy dit verdien? Of ʼn hand vol ongesonde snoepgoed van die impulsrak gegryp terwyl jy toustaan […]
OTM-kaartruilslenters neem toe: Let op hiervoor!
Die Suid-Afrikaanse Bankrisiko-inligtingsentrum (Sabric) waarsku die publiek om op die uitkyk te wees te midde van die hoë voorkoms van OTM-kaartbedrog in die land. Die groep het gewaarsku dat daar weer ʼn “kaartruil”-skelmstreek in Suid-Afrika voorkom en ʼn uiteensetting van die betrokke skelms se modus operandi gegee om die publiek teen hul metodes te waarsku. […]
1 2 3 152