Pasop vir hierdie eiendom-slenters

Vrydag, April 22nd, 2016

Lea Jacobs

 

 

Waar daar ook al geld is, is daar ’n swendelaar wat sy deel soek. Daar is talle eiendomskelmstreke wat die rondte doen en ongelukkig laat mense hulle sonder slag of stoot om die bos lei. Hoewel dikwels aanvaar word dat swendelaars die weerloses teiken, is dit nie altyd die geval nie en mense wat nie ’n ding goed deurdink nie kan deur hierdie geslepe individue uitgevang word.

Ongelukkig gaan dit nie altyd oor geld nie en daar is tans so ’n bedrogspul waarvolgens die “koper” aanbied om die volle koopprys in kontant te betaal op voorwaarde dat hy die eiendom onmiddellik kan betrek. Die geld materialiseer egter nie en die huiseienaar is dan verplig om die koper deur die hof te laat uitsit.

’n Huiseienaar is deur ’n agent aan so ’n koper voorgestel. Die koper het gehou van die huis en het nie gekibbel oor die prys nie, wat miljoene beloop het. Sy het die koper direk genader en aangebied om die kontant regstreeks in die huiseienaar se persoonlike bankrekening te deponeer op voorwaarde dat sy en haar gesin binne die volgende paar dae by die huis kon intrek. Die eienaar, wat toevallig ’n eiendomsagent is, het geweier en daarop aangedring dat die kontant voor okkupasie in die aktebesorger se rekening inbetaal word. Die koper het ingestem maar al hoe sterker daarop aangedring om in te trek voordat oordrag plaasgevind het. Gelukkig het die eienaar voet by stuk gehou en ten spyte van die aandrang geweier om toe te gee voordat die betaling gemaak is.

Toe begin die jammerstories. Eers het die koper gesê sy het R5 000 nodig om die tjek se bankkoste te betaal. Die huiseienaar het geweier om die kontant te gee en daarop gewys dat ’n elektroniese oorplasing veiliger en goedkoper sou wees. Toe kry die huiseienaar kennis dat die koper se man dood is en dat sy geld vir begrafniskoste nodig het (nogal astrant, in die lig daarvan dat die huiseienaar nog nie ’n sent van die geld gesien het nie). Ten spyte van alles het die koper al sterker daarop aangedring om onmiddellik in te trek. Die eienaar, wat lont geruik het, het weer geweier en uiteindelik het die lig vir die koper opgegaan en het sy ophou korrespondeer. Geen geld is ooit oorbetaal nie.

Wat die ergste van alles is, is dat die koper eg gelyk het. Sy het met die regte voertuig gery, goed aangetrek en die regte goed gesê. Mens kan vra wat kan ’n swendelaar verwag om hieruit te kry – hy sal nooit die eiendom besit nie en sal vanselfsprekend die een of ander tyd uitgegooi word. Gegewe die ingewikkelde uitsettingsproses, kan dit maande, selfs jare, neem om die saak in die hof opgelos te kry en in hierdie tyd het die swendelaar waarskynlik al probeer om dieselfde aan ’n ander huiseienaar te doen.

Die les wat hieruit te leer is, is om nooit, ooit iemand toe te laat om jou eiendom in besit te neem voordat die geld betaal is nie, ongeag die beloftes wat gemaak is. Selfs goed wat op skrif gestel is, is dalk met kwade bedoelings gedoen en eienaars wat sommer iemand se woord neem, kan op die ou end honderde duisende rande verloor.

’n Koper met goeie bedoelings wat wag vir ’n verband neem wel dikwels vroeë okkupasie en betaal dan okkupasiehuur. Dit is heeltemal normaal en honderde, indien nie duisende nie, transaksies word op hierdie wyse aangegaan.

Een van die eerste dinge wat egter die rooi ligte vir die Kaapstadse huiseienaar moes laat aangaan het, was die feit dat die koper die agent omseil het die oomblik toe hy sy voet in die deur kry. Teoreties moet kopers aan wie ’n agent ’n huis wys nooit probeer om die transaksie sonder die agent se betrokkenheid af te handel nie – per slot van sake verloor die koper niks as hy ’n agent gebruik nie omdat die verkoper die kommissie betaal. Vrae oor hoekom ’n koper so gretig is om die agent te omseil sowel as die dringendheid om in die huis in te trek moet ondersoek word en as die transaksie net te goed is om waar te wees, moet die verkoper dit los ongeag hoe aantreklik die aanbod klink.

 

 

Bron: Acutts

Ander Artikels

Wie betaal vir die vervanging van ʼn meenthuis-uitlaatpyp?
Vraag: Gee asseblief raad oor wie verantwoordelik sou wees vir die vervanging van ʼn uitlaatpyp in die kombuis van ʼn eenheid as dit deurgeroes het en aan die buitekant van die eenheid afgebreek het.   Antwoord: Eienaars is verantwoordelik vir die herstel en onderhoud van hulle eenhede en die beheerliggaam het dieselfde verantwoordelikheid met betrekking […]
Tipes kontantbeleggings
VASTE DEPOSITOREKENING ʼn Vaste depositorekening is ʼn tipe spaarrekening waar jy jou kontant vir ʼn spesifieke tydperk deponeer in ruil vir ʼn vaste rentekoers, wat gewoonlik hoër is as een wat jy uit ʼn gewone bankrekening sou ontvang. Tipies vereis vaste depositorekenings dat fondse in die rekening gelaat word tot die vervaldatum, met moontlike boetes […]
Voertuigfinansiering verduidelik
Tensy jy ʼn rekenmeester is, is voertuigfinansiering gekompliseerd. Weet jy hoe finansieringsbepalings werk? Is dit ʼn goeie idee om ʼn residu te neem?  Wat van die rentekoers – moet jy dit vas of gekoppel neem? Ons het met WesBank gesels vir hierdie beginnersgids oor die finansiering van die motorvoertuig van jou drome! Bereken hoeveel jy […]
1 2 3 161