Pasop vir dié deposito- en terugbetalingslenters

Woensdag, September 7th, 2016

Die Suid-Afrikaanse Bankrisiko-Inligtingsentrum (Sabric) het sy Foefies- en Slentersveldtog van stapel gestuur, wat beoog om bewuswording te kweek aangaande bankslenters in die land.

“Verbruikers moet die mag in hulle eie hande neem deur te verseker dat hulle ingelig is oor hoe om hulself te beskerm, veral wanneer hulle aanlyn sake doen,” sê Kalyani Pillay, Sabric se HUB.

Die eerste fase van Sabric se Foefies- en Slentersveldtog fokus op die oneerlike verandering van bankrekeningbesonderhede-slenter, en deposito- en terugbetalingslenters.

 

Vals verandering van bankrekeningbesonderhede-slenter

ʼn Potensiële sake-slagoffer ontvang ʼn e-pos of brief wat hom inlig dat hulle hoofverskaffer se bankbesonderhede verander het.

Die korrespondensie sal die besonderhede van die nuwe rekening bevat. Jy sal gevra word om toekomstige betalings in die nuwe rekening te doen – hierdie besonderhede is vals.

In sekere instansies bel die bedrieër ook die slagoffer aangaande die veranderinge in die bankrekeningbesonderhede.

Die bedrieër sal die oproep gebruik om meer inligting te bekom sodat hulle hulle e-pos/brief meer outentiek kan laat lyk.

Misdadigers gebruik sosiale manipulering om inligting te akkumuleer wat hulle vir hierdie slenter benodig, en korporatiewe instansies en hulle kliënte en vennote is die teikens.

 

Die deposito-slenter

ʼn Misdadiger bestel goedere of dienste by ʼn sake-onderneming en maak betalings in die slagoffer se rekening, gewoonlik met ʼn vals tjek.

Bewys van betaling word dan aan die sake-onderneming gestuur, en goedere word by die misdadiger afgelewer.

Die bank verwerk dan die tjek, dit word as vals geïdentifiseer en geen fondse word na die slagoffer se rekening oorgeplaas nie.

In ander gevalle word die bestelling gekanselleer en ʼn dringende terugbetaling word versoek.

Alternatiewelik word ʼn betaling “foutief” gedoen en ʼn dringende terugbetaling word versoek.

 

Die terugbetalingslenter

Hierdie slenter word gekenmerk deur ʼn bedrieër wat ʼn kwotasie aanvra vir ʼn spesifieke diens of goedere.

“Betaling” word dan gedoen en bewys van betaling word voorsien vir ʼn bedrag wat die kwotasie by verre oorskry.

Byvoorbeeld, as die kwotasie vir R2,990 is, sal die vals deposito vir R22,990 wees.

Die verskaffer se kantoor sal dan gekontak word en ʼn dringende terugbetaling aangevra word.

Die diensverskaffer sal deur hulle rekords gaan en sien dat ʼn ekstra bedrag betaal is – hulle betaal dan die “oorbetaling” terug.

Later merk hulle op dat die oorspronklike deposito omgeswaai is aangesien dit met ʼn vals tjek betaal is.

Hoe om die verandering van bankrekeningslenter te vermy:

  • Handhaaf ʼn goeie verhouding met verskaffers en ken jou kontakte.
  • Indien ʼn verskaffer jou kontak, vra om met die kontak wat jy ken te praat. Moenie instruksies neem van personeel wat nie aan jou bekend is nie.
  • Pasop vir bevestigende e-posse van amper identiese e-posadresse, soos .com in plaas van .co.za.
  • Sê personeel aan om fakture te ondersoek vir ongerymdhede en verdagte dokumente aan te meld.
  • Verseker dat jou maatskappy se private inligting nie aan derde partye openbaar gemaak word wat nie daarop geregtig is om dit te ontvang nie.
  • Versnipper fakture of kommunikasiemateriaal wat briefhoofde bevat, in plaas daarvan om dit in die snippermandjie te gooi.

 

Hoe om die deposito- en terugbetalingslenter te vermy:

  • Geen terugbetaling behoort gemaak te word sonder om met die bank te verifieer dat ʼn deposito geldig is nie.
  • Wag vir alle tjekdeposito’s om verreken te word alvorens goedere/dienste voorsien word.
  • Beskerm persoonlike en maatskappy-inligting.
  • Personeel in jou organisasie wat finansies hanteer, behoort touwys gemaak te word oor alle slenters.

 

Bron: My Broadband

Ander Artikels

Afdwing van verbruikersregte deur die howe: Gebruik eers ander remedies
Justine Krige   Artikel 69 van die Wet op Verbruikersbeskerming (Wet 68 van 2008 [CPA]) sit ʼn verskeidenheid statutêre remedies uiteen vir die afdwing van verbruikersregte ingevolge die CPA. Dit sluit in die indien van ʼn klagte by die Nasionale Verbruikerskommissie (Kommissie), die verwysing van ʼn dispuut na die Verbruikerstribunaal (Tribunaal), of om ʼn bedryfsombudsman […]
Wie mag waar parkeer in ʼn meenthuiskompleks?
Vraag: “In die deeltitelskema waar ek woon is daar ʼn konstante gebaklei en gestry oor wie waar mag parkeer en wie verantwoordelik is vir die instandhouding van parkeerplekke. My vraag is: wie besluit watter dele van die skema vir parkeerplekke toegeken word, wie dit mag gebruik en wie dit moet in stand hou?” Antwoord: Wat […]
Moenie vanjaar val vir hierdie belastingslenters nie
Lede van die publiek ontvang dikwels ewekansig vals e-posse wat nagemaak is om te lyk asof hulle deur die SAID gestuur is, maar wat in der waarheid vals e-posse is wat daarop gemik is om niksvermoedende belastingbetalers uit te lok om persoonlike inligting, soos bankrekeningbesonderhede, te onthul. Voorbeelde sluit in e-posse wat skyn afkomstig te […]
1 2 3 150