Onthaal sonder om jou spaarvarkie te slag

Vrydag, November 4th, 2016

Karen van der Berg

 

 

Die feestyd is op ons en dit beteken dis tyd vir jaar-eindgesellighede, Kerspartytjies en familiebyeenkomste het aangebreek.

Dit kan ’n mens ’n klompie geld kos. Gelukkig is daar maniere om vrolik te wees sonder om te veel te bestee. ’n Mens hoef jou darem nie na weggooi-tafeldoeke en grondboontjies te wend nie.

Ingrid Fourie, eienaar van Sweet Darlings, wat gesellighede vir kliënte beplan, het die volgende wenke:

  • Gebruik waspapier om temaborde vir versnaperings te bedek sodat jy die borde weer kan gebruik.
  • Skyfies kan voorgesit word in ongewone houers, soos leë blikkies, kartonhouers of selfs ou geskenkboksies. Voer dit net met waspapier uit. Plak ’n mooiprentjie daarop of tooi dit met linte en kant.
  • Pluk vars blomme uit jou of uit jou vriende se tuin. Dit kikker nie net ’n partytjie op nie, maar dit bespaar baie geld. Gebruik sommer herwinde bottels as blompotte en doen jou deel vir Moeder Natuur.
  • Koop by ’n materiaalwinkel lap vir ’n tafeldoek. Gebruik ’n uittandskêr om die materiaal te knip sodat dit nie rafel nie en gebruik die tafeldoek jaar ná jaar. Jy kan vir die prys van een gekoopte tafeldoek omtrent vier stukke lap koop.
  • Koop foeliekoekpanne of gebruik dié van ou gebak as ’n goedkoop koekstaander wat jy weer en weer kan gebruik. Draai dit met geskenkpapier toe en sit dit op ’n vaas waarin jy kleurryke lekkers, skulpies of selfs ’n blom sit. Eintlik kan jy enigiets plat toedraai, soos boeke. Dit sorg vir baie mooi en goedkoop versierings.
  • Partytjiegeskenkpakkies is ’n groot ding by veral kinderpartytjies. Koop eerder bruin papiersakke en deel die lekkergoed wat oor is vir die kinders uit om huis toe te neem.
  • Bespaar op die koek. ’n Eenvoudige vanilla-sponskoek kan pragtig wees as jy dit met iets mooi soos gesiggie-blommetjies, vlaggies of meringues versier.
  • Leer om jou eie uitnodigings te maak met programme wat op rekenaars te vind is. Jy kan dit e-pos of per Whats App stuur en dit sal baie geld en tyd spaar.
  • Stempel self jou papierservette: Stempels is oral beskikbaar en is ideaal as jy goedkoop servette, partytjiesakkies, koeverte of plekname wil opkikker.
  • Moenie die waarde van sosiale webwerwe soos Pinterest onderskat nie. Op hierdie webwerwe is daar derduisende idees om goedkoop te onthaal. Daar is letterlik nie iets onder die son wat nie op sosiale webwerwe te vind is nie. ’n Eenvoudige internet-soektog kan jou help om jou hele partytjie te beplan.
  • Laaste maar nie die minste nie: Skaal af. Ons het in die gewoonte verval om heeltemal oorboord met alles te gaan. Dit is nie nodig nie. Goeie geselskap, musiek en samesyn bly ten einde al wat nodig is om lekker te kuier.

 

 

Ander Artikels

Afdwing van verbruikersregte deur die howe: Gebruik eers ander remedies
Justine Krige   Artikel 69 van die Wet op Verbruikersbeskerming (Wet 68 van 2008 [CPA]) sit ʼn verskeidenheid statutêre remedies uiteen vir die afdwing van verbruikersregte ingevolge die CPA. Dit sluit in die indien van ʼn klagte by die Nasionale Verbruikerskommissie (Kommissie), die verwysing van ʼn dispuut na die Verbruikerstribunaal (Tribunaal), of om ʼn bedryfsombudsman […]
Wie mag waar parkeer in ʼn meenthuiskompleks?
Vraag: “In die deeltitelskema waar ek woon is daar ʼn konstante gebaklei en gestry oor wie waar mag parkeer en wie verantwoordelik is vir die instandhouding van parkeerplekke. My vraag is: wie besluit watter dele van die skema vir parkeerplekke toegeken word, wie dit mag gebruik en wie dit moet in stand hou?” Antwoord: Wat […]
Moenie vanjaar val vir hierdie belastingslenters nie
Lede van die publiek ontvang dikwels ewekansig vals e-posse wat nagemaak is om te lyk asof hulle deur die SAID gestuur is, maar wat in der waarheid vals e-posse is wat daarop gemik is om niksvermoedende belastingbetalers uit te lok om persoonlike inligting, soos bankrekeningbesonderhede, te onthul. Voorbeelde sluit in e-posse wat skyn afkomstig te […]
1 2 3 150