Ons moet onthou om onsself eerste te betaal

Donderdag, Augustus 13th, 2015

Met rentekoerse en lewenskoste wat aanhou styg, lyk dit na ʼn onbegonne taak om geld te vind om te spaar. Bloot om geld te vind om elke maand te oorleef is alreeds moeilik genoeg.
Die probleem is, as ons slegs daarop fokus om ons maandelikse rekenings te betaal, verbeur ons die geleentheid om ware rykdom te skep. Weens die krag van saamgestelde rente, kan elke sent wat jy vandag spaar vir jou begin werk.

Indien jy nou begin om R500 per maand in ʼn belegging met ʼn gemiddelde opbrengs van 12% te spaar, sal dit oor slegs tien jaar groei tot R100 000.

Verbind jou daartoe om jouself elke maand eerste te betaal. Dit beteken dat die eerste “rekening” wat jy elke maand betaal, jou spaarrekening is. As jy dit tot heel laaste los om te sien wat bly oor nadat al die ander rekeninge betaal is, is dit ʼn resep vir ʼn ramp.

Jy hoef nie baie geld te hê om te begin spaar nie, jy moet net begin.

Verbind jou tot toekomstige spaar

Omdat ons menslik is, is dit vir ons makliker om onsself te verbind tot ʼn doelwit wat oor ʼn langer termyn bereikbaar is eerder as om dit dadelik te probeer bereik. Sielkundig en emosioneel sal ʼn aanwas-benadering nie so ʼn onmiddellike impak op jou lewenstyl uitoefen nie en daarom sal jy meer waarskynlik daarmee volhard.

Die spaar vir more-skema word in die boek Nudge beskryf, waar ʼn persoon hom daartoe verbind om sy spaargeld oor ʼn verloop van tyd te laat aanwas. Indien jou teiken is om 10% van jou salaris te bereik, sal jy dit toenemend oor vyf jaar bereik deur elke jaar ʼn bietjie van jou salarisverhoging af te skil.

Richard Thaler en Cass Sustein, die skrywers van Nudge, het hierdie skema vier jaar gelede in Australië bekend gestel en ná vier jaar was 78% van die bevolking verbind tot die plan. Die gemiddelde belegger het sy besparingsvlak in hierdie vier jaar van 3.5% tot 13.6% verhoog.

Indien jy byvoorbeeld hierdie jaar ʼn salarisverhoging van 7% ontvang het, teken onmiddellik ʼn debietorder om 2% van jou nuwe inkomste in ʼn spaarrekening te belê. Verbind jou elke jaar daartoe om daardie debietorder met ʼn verder 2% van jou salaris te verhoog. Binne vyf jaar sal jy 10% van jou salaris spaar sonder om op enige van jou besteding in te kort. Een manier om seker te maak dat jy met hierdie doelwit volhard, is om aan jou finansiële adviseur ʼn verbintenis te gee dat jy elke jaar jou spaargeld sal vermeerder. Dit help as daar iemand is wat jou herinner aan die beloftes wat jy aan jouself gemaak het.

Alternatiewelik kan jy ʼn debietorder begin met ʼn 10% eskalasie sodat jou spaargeld elke jaar sonder enige administratiewe rompslomp sal vermeerder.

Die sleutel tot sukses is egter om seker te maak dat jy binne jou inkomste leef voor jou salarisverhoging. Dit is om te verhoed dat jy op die verhoging staat maak om jou uitgawes te dek.

Gebruik jou bonus om spaargeld ‘n hupstoot te gee

Oorweeg dit om elke jaar selfs ʼn klein persentasie van jou jaarlikse bonus te gebruik om jou aftreespaargeld bietjie aan te help. Dink daaraan as ʼn stap tot die befondsing van jou “bonus” nadat jy afgetree het. Een van die baie voordele van ʼn uittree-annuïteit is dat jou bydrae van belasting afgetrek kan word onderhewig aan voorgeskrewe limiete. Dit beteken dat die SAID jou in der waarheid help om jou aftreespaargeld te befonds.

Spaar vir ‘n spesifieke doelwit

Identifiseer ʼn spesifieke doelwit en sit aparte spaargeld weg om hierdie doelwit te bereik. Nie alleen sal dit jou daarop gefokus hou om jou spaargeld te handhaaf nie, maar sal jou ook motiveer terwyl jy jou spaargeld sien groei. Om te spaar vir kort- en langtermyndoelwitte kan gedoen word deur bloot in ʼn spaarrekening of via die geldmark te belê. Indien jou doelwit egter oor ʼn tydperk van meer as vyf jaar in die visier is, maak seker dat jy opsies soos uitkeerpolisse, effektetrusts en ander spaar-opsies met jou finansiële adviseur bespreek. Hierdie spaar-instrumente kan goeie belastingvoordele bied, sowel as verskeie beleggingsopsies om jou risiko-aptyt te bevredig.

Bron: Liberty Adviesdienste

Ander Artikels

Art. 11(a) van die Wet op Inkomstebelasting en die aftrekbaarheid van renteonkoste op huislenings
Louis Botha     Op 13 Desember 2016 het die belastinghof in Kaapstad uitspraak gelewer in X v The Commissioner for the South African Revenue Service (saak no. 13791 & 13792, nog nie gerapporteer nie). Die saak het gehandel oor ʼn interessante vraagstuk, naamlik of uitgawes wat aan ʼn huislening aangegaan word om ʼn rente-inkomste […]
Huurverbeteringe: Mag ek vat of moet ek los?
Vraag: “Ons huur nou al vir ʼn paar jaar ʼn huis. Ek en my vrou het heelwat verbeterings aan die huis en tuin aangebring. Ek word nou verplaas en moet verhuis, maar wonder nou wat word van al die verbeterings aan die huurperseel. Mag ons dit saamneem of moet die verhuurder ons vergoed daarvoor?”   […]
Die beste wenke om jou huurdeposito terug te kry
Huurders in Suid-Afrika betaal tans enigiets tussen een en drie maande se huur as skadedeposito ─ maar is dikwels onseker van wat om te doen as hul huurkontrak verval. “Hoewel deposito’s dikwels gebruik word om huurwanbetaling of onbetaalde utiliteitsrekenings te dek, is hul hoofdoel om verhuurders teen skade aan die eiendom te dek,” sê Andrew […]
1 2 3 170