Moet ek eiendom huur of koop? Dit hang af

Woensdag, Augustus 26th, 2015

Eugene Brink

 

Dis ʼn voldonge feit dat almal ʼn dak oor die kop nodig het, maar dit is nie so voor die hand liggend of mens moet huur of koop nie.

 

Soos met bykans alle dinge in die lewe hang dit van verskeie faktore af. En albei hierdie opsies het voor- en nadele.

 

Rentekoerse, die herhalende koste van beide opsies, jou finansiële doelwitte, die onderhoud van jou eiendom, jou lewenstadium en die aanvangskoste is net sommige van die faktore wat oorweeg moet word wanneer hierdie belangrike besluit geneem word. En dikwels is die voordeel van een opsie ʼn direkte nadeel van die ander. Jy moet dit alles oorweeg en ʼn ingeligte besluit neem.

 

Hier volg ʼn bondige lys van die voor- en nadele wat met beide geassosieer word:

 

  • Eienaarskap

 

Bill Rawson, stigter en voorsitter van die Rawson Eiendomsgroep, sê: “Eerder as om huur te betaal, wat jy nooit weer sal sien nie, sal ʼn gedeelte van die geld wat jou op jou verband afbetaal bydra tot jou huis as belegging. Daar is ook die opsie om jou verband te herfinansier sou jy ʼn groot bedrag geld moet onttrek, wat altyd handig te pas kan kom.”

 

ʼn Eiendom vermeerder ook in waarde met verloop van tyd en verloor nie waarde soos ʼn motorvoertuig nie. Seeff Eiendomme se HUB Samuel Seeff sê jy sal dus na ʼn paar jaar jou eiendom teen ʼn wins kan verkoop en die geld as ʼn deposito op jou nuwe huis gebruik.

 

Nadat jy jou huis na 20-30 jaar afbetaal het, is die eiendom joune en hoef jy nie meer verbandgeld ná jou aftrede uit te haal nie, maar dit slegs te onderhou deur dit dan en wan te verf en die tuin mooi te hou.

 

Om ʼn eiendom te huur beteken die eienaar bly steeds die eienaar en die huurder verloor al die huurgeld.

 

  • Uitgawes en terugbetalings

 

Buiten die rentekoers wat dan en wan styg, bly jou verbandterugbetalings konstant, terwyl huurgeld elke jaar styg. Jy mag aanvanklik sukkel om die betalings te maak, maar jou inkomste sal bly styg terwyl die verbandterugbetalings tydens die terugbetaalperiode min of meer dieselfde bly. Die eienaar van ʼn huur-eiendom kan ook summier besluit om die huurgeld met ʼn dubbelsyferbedrag te verhoog.

 

Maar wanneer dit by aanvanklike uitsetkoste en onderhoud en ander bykomende uitgawes kom, is om te huur by verre die beste opsie. Huurders hoef nie oordragkoste, prokureurskoste, heffings, munisipalediensfooie en ander onderhoudskoste te betaal nie, maar moet slegs ʼn deposito neersit (dit is gewoonlik gelykstaande aan een maand se huur en is ten volle of gedeeltelik terugbetaalbaar wanneer die huurtermyn ten einde loop). Banke vereis gewoonlik ook stewige deposito’s soos 10% of meer van die koopprys – iets wat vir baie buite bereik is.

 

Rawson sê egter dat in die eerste paar jaar na die transaksie die aanvanklike terugbetalings slegs rente sal dek en nie die verband sal afbetaal nie. As die eienaar na slegs drie jaar besluit om te verkoop, beteken dit die geld wat tot op daardie stadium betaal is, gaan verlore alhoewel die eiendom se waarde ietwat sou gestyg het. Om te verkoop beteken ook 7.5% van die verkoopprys moet aan ʼn eiendomsagent afgestaan word en as die eiendom se prys in die tussentyd nie genoegsaam gestyg het nie, mag die verkoper ʼn verlies ly.

 

Hy voeg by dat jy ook ʼn beter eiendom naby gesogte geriewe sal kan huur, wat jy eenvoudig net nie sou kon bekostig om in dieselfde area te koop nie.

 

  • Aanpassings en mobiliteit

 

Om eiendom te besit stel jou in staat om dit in te rig en aan te pas na jou smaak. Dit mag ekstra koste meebring, maar dit voeg ʼn estetiese element by jou eiendom en verhoog ook uiteindelik die waarde daarvan.

 

Wanneer jy huur, mag die eienaar weier dat jy die huis of spesifieke kamers in verskillende kleure verf, of daardie lapa bou wat jy so begeer. Buitendien kan jy ook nie sodanige verbetering met jou saamneem wanneer jy verhuis nie.

 

Volgens die VK-gebaseerde Geldadviesdiens, beteken om te huur dat die inwoner maklik kan oppak en sonder veel moeite kan verhuis. Voordat ʼn koper kan oppak en verhuis, moet hy eers sy eiendom verkoop en dit is dikwels meer omslagtig en duurder as wat mens sou dink.

 

Daar is geen regte of verkeerde antwoord nie en dit hang alles af van jou behoeftes en doelwitte.

 

Bronne:

 

Rawson, B. 2015. “To rent or Buy: The Great Debate”. Rawson Property Group, http://www.rawson.co.za/advice/to-rent-or-buy-the-great-debate-id-1773.

Money Advice Service. 2015. “Rent or Buy?” https://www.moneyadviceservice.org.uk/en/articles/should-you-rent-or-buy.

Seeff, S. 2013. “The Old Rent Versus Buy Debate”. Seeff Ballito, http://www.seeffballitoproperty.co.za/news/the-old-rent-versus-buy-debate/.

 

Ander Artikels

Skop vas en moenie onnodig koop nie
Anja van den Berg   Alles rakende jou supermark is bedoel om jou geld te laat bestee wat jy nie beplan het om te bestee nie, en selfs geld wat jy nie regtig hoef te bestee nie. Hoewel die meeste mense aan produkte dink in terme van die funksionele eienskappe daarvan – die instrumentele waarde […]
Agterbakse supermarktaktieke om jou onnodige goed te laat koop
Anja van den Berg   Het jy al ooit aanvaar dat iets ʼn winskoop is net omdat die prys in rooi geskryf is? Of besluit om daardie duur handsak of aktetas te koop omdat jy daarvan oortuig was dat jy dit verdien? Of ʼn hand vol ongesonde snoepgoed van die impulsrak gegryp terwyl jy toustaan […]
OTM-kaartruilslenters neem toe: Let op hiervoor!
Die Suid-Afrikaanse Bankrisiko-inligtingsentrum (Sabric) waarsku die publiek om op die uitkyk te wees te midde van die hoë voorkoms van OTM-kaartbedrog in die land. Die groep het gewaarsku dat daar weer ʼn “kaartruil”-skelmstreek in Suid-Afrika voorkom en ʼn uiteensetting van die betrokke skelms se modus operandi gegee om die publiek teen hul metodes te waarsku. […]
1 2 3 152