Om ʼn introvert te wees, kan jou ryk maak

Maandag, April 4th, 2016

In haar boek Introvert Power: Why Your Inner Life Is Your Hidden Strength, skryf die sielkundige dr. Laurie Helgoe:

“Introversion, when embraced, is a wellspring of riches.”

Dr. Helgoe probeer in die eerste plek om introverte met haar boek te help om hul persoonlikhede te aanvaar en te gebruik om sukses te behaal. Tog inspireer hierdie spesifieke frase in die boek nog ʼn moontlikheid: introverte se geaardheid kan hulle letterlik help om ʼn “bron van rykdom” te skep.

Anders gestel: ʼn introverte persoonlikheid kan jou beslis ryk maak. Kyk net na Bill Gates. Susan Cain, skrywer van die topverkoper Quiet: The Power of Introverts in a World That Can’t Stop Talking, sê dié medestigter van Microsoft is ʼn introvert. En volgens Forbes is sy netto waarde byna $80 miljard.

So jy sien dit kan voordelig wees om ʼn introvert te wees – veral as dit gaan om die behaling van finansiële sukses.

 

Introverte vs. ekstroverte: belangrike verskille

Volgens die Myers-Briggs-persoonlikheidstoets kom introverte se energie van binne en nie van eksterne bronne nie. Om hierdie rede dink baie mense verkeerdelik introverte is skaam, maar dit is nie noodwendig waar van alle introverte nie. Baie introverte gesels gemaklik met groot groepe en is leiers by die werk. Party introverte voer selfs ʼn bestaan as uitvoerende kunstenaars en universiteitsprofessore. Die enigste verskil is dat hulle na ʼn lang dag alleentyd nodig het om te herlaai.

Energievlakke en ʼn voorkeurlengte van persoonlike interaksie is egter nie die enigste noemenswaardige of selfs die interessantste verskille tussen ekstroverte en introverte nie. Dit is eerder die meer subtiele, unieke vlakke van introverte wat hulle veral geskik maak om oor ʼn lang termyn rykdom te bou. Hier volg ʼn paar voorbeelde

 

Introverte is minder impulsief

Volgens Myers Briggs.org kan baie introverte met die volgende stelling identifiseer: Ek neem tyd om na te dink sodat ek presies weet wat ek gaan doen wanneer ek besluit om op te tree. Introverte is bekend daarvoor dat hulle gedissiplineerd is en versigtig besluite neem, twee eienskappe wat perfek is om oor ʼn lang termyn rykdom te bou. Robert Kiyosaki, skrywer en gelddeskundige, sê: “It’s not how much money you make, but how much money you keep” wat jou ryk maak.

Dr. Maryam Jahdi, ʼn inwonende geneesheer in die Departement Psigiatrie en Gedragsgesondheid by Ohio State University, sê introverte is minder impulsief omdat hulle “gedrag deur gevolge eerder as belonings bepaal word”. Volgens ʼn verslag deur LiveScience.com word Jahdi se stelling deur navorsing gesteun; daar is bevind dat introverte neig om beloning uit te stel eerder as om onmiddellike bevrediging te probeer verkry.

Aan die ander kant het prof. Richard Depue van die Cornell University en ʼn nagraadse student, Yu Fu, in 2013 bevind dat ekstroverte se brein-chemie van introverte sʼn verskil. Hulle stel meer dopamien vry as introverte wanneer hulle voel hulle word beloon, soos as hulle ʼn finansiële doelwit bereik of lekker kos eet. Na berig word, het Depue gesê: “Ekstroverte se dopamien-reaksie op belonings is baie sterker, daarom word hulle meer gereeld deur sterk positiewe emosies geaktiveer.”

Volgens ʼn meer onlangse studie getiteld “The Bergen Shopping Addiction Scale” wat in September in die vaktydskrif Frontiers in Psychology gepubliseer is, hou ekstroversie verband met inkopieverslawing. Dit dui daarop dat ekstroverte inkopies kan gebruik om hul sosiale status te handhaaf en hul sosiale aantreklikheid te onderhou deur byvoorbeeld vir elke geleentheid ʼn nuwe uitrusting en bykomstighede te koop. Daarom is dit dalk moeiliker vir party ekstroverte om besteding te beheer en genoeg finansiële dissipline aan die dag te lê om welvaart te bou vir die toekoms.

 

Introverte neem slimmer beleggingsbesluite

Volgens dr. Jahdi kan ʼn introverte persoonlikheid bydra tot toekomstige rykdom, want baie van hulle finansiële besluite is gebaseer op die vermyding van slegte besluite, negatiewe gevolge en misgeloopte geleenthede. Daarteenoor word ekstroverte meer gelei deur die onmiddellike beloning van versterkte positiewe gevoelens – daardie gevoelens wat prettige inkopies tot gevolg het in teenstelling met ʼn paar jaar se gewag om ʼn goeie opbrengs op ʼn belegging te sien.

Suksesvolle beleggings vereis algeheel versigtige nadenke; die aard van introverte denke maak ondeurdagte optrede sonder om navorsing te doen oor iets so belangrik soos beleggings onmoontlik. Party ekstroverte neig egter om sensasiebelus en impulsief te wees, wat beteken hulle kan volgens Reuters geneig wees “om onnodig riskante beleggingsbesluite te neem, terwyl stil introverte dalk meer soliede, navorsingsgebaseerde instinkte het”.

Volgens ʼn onlangse US News-onderhoud met Cain dink introverte graag stadig en diep na voordat hulle praat of optree en is gemaklik met uitgestelde bevrediging. Sy het ook aan Reuters verduidelik dat dit die rede is waarom die legendariese belegger Warren Buffett so suksesvol is. Cain sê Buffett is “ ʼn klassieke voorbeeld van ʼn introvert wat versigtige, weldeurdagte risiko’s neem”.

 

Introverte blink uit in die werkplek

Benewens die feit dat hulle versigtig spandeer en deurdagte beleggings maak, presteer introverte ook in die werkplek; dit kan hulle help om meer geld te verdien en bevorder te word. Hoewel hulle dalk nie die mees uitgesproke of sosiale werknemers is nie, kan introverte die skrywer en internasionale spreker Jennifer Kahnweiler se “4 P’s” toepas om leiers in die werkplek te word – “preparation, presence, push and practice” (wees voorbereid, fokus op die hier en nou, druk jouself tot buite jou gemaksone en oefen vaardighede in).

Introverte is ook bedagsaam en pligsgetrou. Marti Olsen Laney, skrywer van The Introvert Advantage, het vir CNN gesê introverte se leierseienskappe onderskei hulle van ekstroverte: “Hulle is regtig pligsgetrou en wil graag goeie werk doen; hulle is kreatief en goeie probleemoplossers.”

Volgens ʼn onlangse studie aan die University of Michigan se Sentrum vir Navorsing oor Aftrede, verdien individue op die 85ste persentiel van pligsgetrouheid sowat $1 500 meer per jaar as die gemiddelde Amerikaner; dit kom daarop neer dat hulle in ʼn leeftyd sowat $96 000 meer verdien en $158 000 meer spaar.

 

Wat dit alles beteken

Navorsers geniet dit al ʼn geruime tyd om die verskille tussen introverte en ekstroverte te bestudeer. Terwyl ekstroverte voorheen letterlik die kollig as leiers geniet het, toon onlangse navorsing en publikasies dat introverte nou meer na vore tree. As jy ʼn introvert is, is jy heeltemal in staat om jou unieke gawes en vaardighede te gebruik om finansiële welvaart te bereik en sukses te behaal.

 

Bron: GoBankingRates

 

Ander Artikels

Kry só die beste agent as jy huis verkoop
Vir baie van ons gaan die verkoop van ’n eiendom gepaard met hoë vlakke van angstigheid en onheil. So, waar kry mens iemand wat jy kan vertrou om jou deur die gevare en slaggate van die verkoopstransaksie te stuur? Volgens die Rawson Eiendomme is daar ’n paar belangrike goed om na op te let.   […]
Inkopies kan terapeuties wees
Dit is al gesê dat om op ʼn inkopie-tog te gaan negatief konnotasies het. Onder andere word materialisme en selfbevrediging voorgehou as redes om nie te koop nie. Om te koop en loerkoop (“window-shopping”) kan egter terapeuties wees, help jou om verandering te hanteer en verbeter jou bui. Moenie inkopie-terapie sommer afmaak as iets ligsinnig […]
Ken jou regte as ʼn deeltiteleienaar
Om in ʼn deeltitelkompleks te bly, het baie voordele. Dit kan egter minder aangenaam wees om te bly in ʼn kompleks wat deur andere bestuur word, veral as die voorsitter van die regspersoon hom of haar verbeel dat hy of sy meer magte as enigeen van die ander inwoners het. Laat ons dit duidelik stel: […]
1 2 3 160