Om ‘n internetdiensverskaffer (IDV) te kies

Donderdag, Maart 24th, 2016

Nico Strydom

 

Voordat mens ‘n internetdiensverskaffer kies, is daar ‘n paar belangrike sake wat oorweeg moet word.

Volgens Arthur Goldstuck, tegnologiedeskundige en hoof van die navorsingsorganisasie World Wide Worx, is die belangrikste kwessie die prys wat jy betaal vir die gehalte van die verbinding wat jy moontlik kan kry. “Hoe meer jy bereid is om te betaal, hoe vinniger is die spoed en hoe beter die gehalte van die verbinding wat jy kan kry. Dit is egter nie ‘n vaste reël nie: dit hang ook af van jou ligging. Dit is van kritieke belang om na te gaan watter dekking en gehalte konnektiwiteit beskikbaar is waar jy woon of werk. Selfs al het jy byvoorbeeld ‘n asimmetriese digitale huurderslyn (ADHL; Eng. ADSL), sal die spoed afhang van hoe ver jy van die sentrale af is – ADHL-spoed neem af na gelang van die afstand.”

 

Die primêre vorme van internetverbinding wat in Suid-Afrika beskikbaar is, is 3G en LTE via die mobiele netwerke, ADHL via telefoonlyne, en optiese vesel. Volgens Goldstuck verskaf vesel die vinnigste en hoogste gehalte, maar dit is ook die duurste. “Vir ADHL moet jy ‘n landlyn hê, wat beteken dat mens elke maand lynhuur sowel as ADHL-verbindingskoste betaal voordat jy nog verbruikskoste betaal het. Wi-fi-toegangspunte is ook in baie openbare plekke beskikbaar, soms gratis en soms teen betaling. Wi-fi is net ‘n plaaslike toegangspunt na een van die verbindingstipes wat hierbo genoem is.”

 

Daar is verskillende opsies vir verskillende behoeftes. Volgens Goldstuck wissel die koste van ADHL en vesel na gelang van lynspoed sowel as die grootte van die datatoewysing wat nodig is. “Met 3G en LTE is daar geen koste vir die verbinding nie, net vir die data wat gebruik word, maar die koste hang af van die hoeveelheid data wat jy vooruit koop. Groter bondels werk goedkoper uit per afgelaaide megagreep. Mens kan direkte internettoegang kry deur ‘n slimfoon, wat ook as ‘n draadlose toegangspunt gebruik kan word, of jy kan ‘n mobiele wi-fi-toestel gebruik, wat sy eie data-SIM-kaart neem.”

 

Volgens Goldstuck is daar sekere faktore wat in ag geneem moet word wanneer jy ‘n IDV (Eng: ISP) en internetpakket kies. “Wees bedag op faktore wat jou verbinding kan stadig maak, soos die afstand vanaf ‘n sentrale of basisstasie, weersomstandighede, swaar gebruik deur ander mense in jou area, en kragonderbrekings by die diensverskaffers. Dan moet jy ook bewus wees van die gevaar van aanlyn te wees, soos om ‘n rekenaarvirus te kry of deur ‘n kuberkraker geteiken te word. Albei kan die gevolg wees van besoeke aan riskante webwerwe wat in die geheim ‘n program op jou rekenaar installeer, of deur op ‘n riskante skakel op die sosiale media te klik, wat iemand onopsetlik toestemming gee om toegang tot jou e-pos- of sosialenetwerk-rekening te kry.

 

Goldstuck sê daar is nie ‘n tekort aan IDV’s in Suid-Afrika nie. Almal van hulle het verskillende tariewe en pakkette, so mens moet maar bietjie rondkyk. “ Volgens Goldstuck is die pryse redelik billik vir diegene wat groot bondels vooruit kan koop, terwyl dit uiters duur is vir dié wat betaal soos hulle gebruik. “Elke tipe konnektiwiteit, soos 3G, LTE of ADHL, is op ‘n standaard gebaseer. In ‘n mededingende of oop mark sal daar nooit standaardpryse wees nie.”

 

Volgens ‘n opname deur MyBroadband.co.za in die laaste kwartaal van 2015, is Crystal Web, Vox Telecom en Axxess die beste IDV’s in Suid-Afrika. Die opname is gedoen onder 3 444 Suid-Afrikaanse breëbandintekenaars.

 

Die Internet Diensverskaffersvereniging (ISPA) is ‘n Suid-Afrikaanse internetbedryfsliggaam met meer as 170 lede. Sien die lys hier.

 

 

Ander Artikels

Art. 11(a) van die Wet op Inkomstebelasting en die aftrekbaarheid van renteonkoste op huislenings
Louis Botha     Op 13 Desember 2016 het die belastinghof in Kaapstad uitspraak gelewer in X v The Commissioner for the South African Revenue Service (saak no. 13791 & 13792, nog nie gerapporteer nie). Die saak het gehandel oor ʼn interessante vraagstuk, naamlik of uitgawes wat aan ʼn huislening aangegaan word om ʼn rente-inkomste […]
Huurverbeteringe: Mag ek vat of moet ek los?
Vraag: “Ons huur nou al vir ʼn paar jaar ʼn huis. Ek en my vrou het heelwat verbeterings aan die huis en tuin aangebring. Ek word nou verplaas en moet verhuis, maar wonder nou wat word van al die verbeterings aan die huurperseel. Mag ons dit saamneem of moet die verhuurder ons vergoed daarvoor?”   […]
Die beste wenke om jou huurdeposito terug te kry
Huurders in Suid-Afrika betaal tans enigiets tussen een en drie maande se huur as skadedeposito ─ maar is dikwels onseker van wat om te doen as hul huurkontrak verval. “Hoewel deposito’s dikwels gebruik word om huurwanbetaling of onbetaalde utiliteitsrekenings te dek, is hul hoofdoel om verhuurders teen skade aan die eiendom te dek,” sê Andrew […]
1 2 3 170