Om ʼn huis alleen te koop

Woensdag, November 2nd, 2016

Hoewel getroude paartjies steeds ʼn groot persentasie eerstekopers in die mark uitmaak, is daar ʼn groot getal mense wat dit alleen doen en ʼn eiendom op hul eie koop. Adrian Goslett, streekdirekteur en HUB van RE/MAX of Southern Africa, sê dat hoewel die proses om ʼn huis as alleeneienaar te koop aanvanklik afskrikwekkend kan lyk, dit in werklikheid ʼn uiters goeie finansiële skuif kan wees as dit op die regte manier gedoen word.

Goslett gee ʼn paar wenke om ʼn sukses van die solohuissoek en –eiendomsbelegging te maak.

 

Bly binne jou begroting

Vir die meeste mense sal die koop van ʼn huis waarskynlik die grootste finansiële transaksie wees wat hulle ooit sal aangaan en dit is ʼn uitstekende langtermynbelegging. Heel eerste is dit egter noodsaaklik om ʼn bekostigbare begroting uit te werk en binne daardie limiete te bly. Wanneer daar besluit word wat bekostigbaar is, is dit noodsaaklik om al die herhalende maandelikse uitgawes soos huisinstandhouding en herstelwerk in ag te neem. Volgens Goslett is ʼn ander belangrike aspek wanneer daar begroot word, om te bepaal hoeveel vir noodgevalle in ʼn gebeurlikheidsfonds weggesit kan word. “Aangesien daar net een persoon sal wees wat vir die verbandterugbetaling verantwoordelik sal wees, moet genoeg geld gespaar word om onverwagte omstandighede of verlies van inkomste die hoof te bied,” sê Goslett.

ʼn Bykomende faktor wat oorweeg moet word, is dat daar, as ʼn solokoper, waarskynlik ʼn kleiner begroting sal wees as in die geval van ʼn paartjie wat hul spaargeld en inkomste bymekaar kan sit, en solokopers sal dus slim te werk moet gaan met hulle geld.

 

Wees slim en spaar vooruit

Goslett sê in die hedendaagse mark sal daar van die meeste kopers vereis word om ʼn deposito van tussen 10% en 25% van die eiendom se koopprys te hê. “Dit is raadsaam om ʼn deposito van minstens 10% te spaar, saam met genoeg geld vir al die ander koste verbonde aan huiskoop. Hierdie koste sluit in hereregte, huisversekering en verbandkoste,” raai Goslett aan.

 

Kies die regte huis vir jou

Kopers se toekomsplanne sal grootliks bepaal watter tipe huis hulle die beste sal pas. “Soek jy na ʼn huis met die potensiaal om aan te bou of bloot ʼn kleiner beginhuis wat in die toekoms verhuur kan word? Die antwoord op hierdie vrae sal kopers help om hul soektog te beperk en presies die regte eiendom vir hul behoeftes te kry,” sê Goslett.

Hy voeg by dat ʼn deeltiteleiendom minder instandhouding sal beteken en moontlik ʼn kleiner verbandterugbetaling; daar is egter die koste van die heffings om mee rekening te hou en ook die reëls en regulasies van die regspersoon. ʼn Voltitelhuis gee aan kopers die vryheid om te doen wat hulle wil met hulle huis, maar dit kan minder veilig wees en duurder om in stand te hou.

 

Wees realisties

Die werklikheid is dat kopers wat op hul eie koop dalk oor sekere aspekte en eienskappe sal moet kompromitteer. “Die ideaal is om na die ligging te kyk voor die eiendom self. ʼn Eiendom kan opgeknap en verander word, maar sy ligging nie. Dit is belangrik om navorsing te doen oor die areas wat binne die begroting val en dan daarvandaan te werk. Om in ʼn beter area te koop beteken dalk om ʼn kleiner huis te koop, maar dit sal ʼn slimmer belegging wees wat oor die lang termyn groter opbrengste sal gee,” sê Goslett.

 

Bepaal die rede vir die koop

Gaan daar in die huis geleef word of is dit suiwer vir beleggingsdoeleindes? Die antwoord op hierdie vraag sal ʼn groot invloed hê op die besluitnemingsproses. As die huis gekoop word as ʼn primêre woning, sal die motiewe en redenering agter die besluite wat geneem word baie meer op emosie berus. “As die huis vir beleggingsdoeleindes is, sal die besluite suiwer op navorsing en logika berus, nie op emosie nie. Die koper sal moet koop in ʼn area wat huurders sal lok, en wat naby openbare vervoer, geriewe en skole is,” sê Goslett.

 

Vra hulp indien dit nodig is

Om ʼn huis solo te koop, beteken nie dat elke besluit alleen geneem moet word nie. Familie en vriende wat al eiendom gekoop het, kan as klankborde dien en eerlike en objektiewe terugvoer gee. ʼn Vooraanstaande, ervare professionele persoon in die eiendomsmark kan ook ʼn waardevolle bate wees wat tydens die huiskoopproses leiding en advies kan gee. ʼn Agent sal inligting kan gee oor die voorstede waarin hy werk en oor eiendomme wat die beste by die koper se leefstyl en begroting sal pas.

“Hoewel dit soms oorweldigend kan wees om ʼn huis op jou eie te koop, behoort dit ook ʼn opwindende tyd te wees. Dit gee kopers die geleentheid om hul eie besluite te neem en ʼn huis te kies wat hulle graag wil koop,” sluit Goslett af.

Ander Artikels

Skop vas en moenie onnodig koop nie
Anja van den Berg   Alles rakende jou supermark is bedoel om jou geld te laat bestee wat jy nie beplan het om te bestee nie, en selfs geld wat jy nie regtig hoef te bestee nie. Hoewel die meeste mense aan produkte dink in terme van die funksionele eienskappe daarvan – die instrumentele waarde […]
Agterbakse supermarktaktieke om jou onnodige goed te laat koop
Anja van den Berg   Het jy al ooit aanvaar dat iets ʼn winskoop is net omdat die prys in rooi geskryf is? Of besluit om daardie duur handsak of aktetas te koop omdat jy daarvan oortuig was dat jy dit verdien? Of ʼn hand vol ongesonde snoepgoed van die impulsrak gegryp terwyl jy toustaan […]
OTM-kaartruilslenters neem toe: Let op hiervoor!
Die Suid-Afrikaanse Bankrisiko-inligtingsentrum (Sabric) waarsku die publiek om op die uitkyk te wees te midde van die hoë voorkoms van OTM-kaartbedrog in die land. Die groep het gewaarsku dat daar weer ʼn “kaartruil”-skelmstreek in Suid-Afrika voorkom en ʼn uiteensetting van die betrokke skelms se modus operandi gegee om die publiek teen hul metodes te waarsku. […]
1 2 3 152