Okkupasiehuur in ‘n neutedop

Vrydag, September 9th, 2016

Ongeag of iemand die verkoper of koper in ʼn eiendomstransaksie is, dit is noodsaaklik dat hy vertroud moet wees met al die voorwaardes wat die aanbod om te koop stipuleer, sê Adrian Goslett, streekdirekteur en HUB van RE/MAX van Suider-Afrika.

Volgens Suid-Afrikaanse wetgewing word diegene wat ʼn eiendom wil verkoop of koop wetlik verplig om alle kontraktuele ooreenkomste op skrif te stel. Goslett sê die doel daarvan is die vermindering van die risiko van dubbelsinnigheid tydens die transaksie en om ʼn duidelike riglyn te hê vir waarop elke party geregtig is en waarvoor hulle verantwoordelik is. “Sedert die Wet op Verbruikersbeskerming in 2011 va krag geword het, het kontraktuele taal makliker geword om te verstaan. Desnieteenstaande is dit egter steeds noodsaaklik dat sowel die koper as die verkoper die aanbod om te koop moet deurgaan en oor al die gemelde voorwaardes en bepalings in die kontrak moet ooreenstem voordat hulle dit onderteken, veral waar dit oor aspekte soos okkupasiehuur handel,” raai Goslett aan.

Hy voeg by dat die klousule met betrekking tot okkupasiehuur noodsaaklik is omdat dit albei partye tot die kontrak beskerm. In wese verseker die klousule dat die verkoper finansieel vergoed sal word indien die koper voor die oordragdatum die huis betrek. Eweneens verseker dit finansiële vergoeding indien oordrag plaasvind en die verkoper beset nog die eiendom.

Goslett sê dat die okkupasieklousule in ʼn ooreenkoms dikwels oor die hoof gesien word omdat die meerderheid kopers beplan om eers na oordrag in te trek. In die meeste gevalle wil kopers dit vermy om okkupasiehuur te moet betaal en wag dus vir die eiendom om op hul naam geregistreer te word voordat hulle dit betrek.

“Die lewe verloop egter nie altyd volgens plan nie, en die koper kan hom bevind in omstandighede wat hom dwing om die eiendom te betrek gouer as wat verwag is. Kopers moet dikwels eers kennis gee by hul huidige blyplek voordat hulle na hul nuwe huis trek. As kennis gegee is en die oordrag van die eiendom word vertraag, kan hulle dit nodig vind om hul nuwe huis te betrek terwyl dit nog deur die vorige eienaars besit word. In ‘n geval soos dié is dit van die grootste belang om te weet wat die kontrak oor okkupasiehuur sê.”

Volgens Goslett is dit nie net die koper wat okkupasiehuur moet betaal nie. As die verkoper sy huidige eiendom verkoop het om ʼn ander een te koop en wag dat oordrag moet geskied, kan dit gebeur dat hy langer as wat hy verwag het in sy huidige woning moet bly. Dit kan beteken dat hy okkupasiehuur aan die nuwe eienaar van die eiendom moet betaal. Hoewel hierdie situasies nie ideaal is nie, is dit in gevalle soos dié dat kennis en begrip van die bepalings van die okkupasiehuurklousule dit vir die betrokke partye moontlik sal maak om te weet wat verwag word en hulle nie onverhoeds betrap te word nie.

Goslett sê met die oog op enigeen van die twee moontlikhede, dit gebiedend noodsaaklik is dat die okkupasieklousule in die verkoopooreenkoms die okkupasiehuurbedrag moet aangee. Selfs al word die okkupasiedatum as die oordragdatum aangegee, moet die okkupasiehuurbedrag steeds op skrif in die ooreenkoms gestel word. Dit sal verseker dat konflik en enige misverstand vermy word. “Hoewel die huurbedrag ten laaste die verkoper se besluit is, moet albei partye oor die okkupasiehuurbedrag besluit en ooreenkom voordat hulle enige ooreenkoms teken. Die huurbedrag moet markverwant wees en die ideaal is dat dit voldoende moet wees om die verbandterugbetaling te dek,” sê Goslett.

Hy sluit af deur te sê dat deur die verkoopooreenkoms en sy bepalings te verstaan, kopers en verkopers enige onnodige konflik kan vermy, wat die hele proses van huiskoop en –verkoop baie minder afskrikwekkend sal maak.

Ander Artikels

Art. 11(a) van die Wet op Inkomstebelasting en die aftrekbaarheid van renteonkoste op huislenings
Louis Botha     Op 13 Desember 2016 het die belastinghof in Kaapstad uitspraak gelewer in X v The Commissioner for the South African Revenue Service (saak no. 13791 & 13792, nog nie gerapporteer nie). Die saak het gehandel oor ʼn interessante vraagstuk, naamlik of uitgawes wat aan ʼn huislening aangegaan word om ʼn rente-inkomste […]
Huurverbeteringe: Mag ek vat of moet ek los?
Vraag: “Ons huur nou al vir ʼn paar jaar ʼn huis. Ek en my vrou het heelwat verbeterings aan die huis en tuin aangebring. Ek word nou verplaas en moet verhuis, maar wonder nou wat word van al die verbeterings aan die huurperseel. Mag ons dit saamneem of moet die verhuurder ons vergoed daarvoor?”   […]
Die beste wenke om jou huurdeposito terug te kry
Huurders in Suid-Afrika betaal tans enigiets tussen een en drie maande se huur as skadedeposito ─ maar is dikwels onseker van wat om te doen as hul huurkontrak verval. “Hoewel deposito’s dikwels gebruik word om huurwanbetaling of onbetaalde utiliteitsrekenings te dek, is hul hoofdoel om verhuurders teen skade aan die eiendom te dek,” sê Andrew […]
1 2 3 170