Nuwe huis met munisipale skuld: Hoe werk dit?

Dinsdag, Oktober 4th, 2016

Sanette Viljoen

 

 

Die koop van ‘n nuwe droomhuis is iets wat vir die meeste Suid-Afrikaners slegs een keer in ‘n leeftyd gebeur. Die opgewondenhied van die oordrag wat plaasvind en die treklorrie wat jou besittings laai, is oorweldigend. Met die aankoms by jou nuwe huis skakel jy die munisipaliteit om jou water en ligte aan te sluit. Jy word met ‘n skok ingelig dat die munisipaliteit nie die dienste gaan verskaf voordat jy die agterstallige rekening van die vorige eienaar betaal het nie.

Wat nou gemaak? Is jy verantwoordelik vir die vorige eienaar se munisipale rekening? Kan hulle jou dienste weier omdat die vorige eienaar agterstallig is?

Ons hoogste hof van appèl het onlangs beslis dat dit wel die geval kan wees.

In die hierdie saak het ‘n koper ‘n huis gekoop op ‘n eksekusieveiling. Ten einde die munisipale uitklaringsertifikaat te bekom om oordrag van die eiendom te bewerkstellig, moes die koper die laaste twee jaar se agterstalige munisipale rekeninge ten opsigte van die eiendom betaal. Die koper het dit gedoen en die eiendom is op sy naam oorgedra.

Die koper het die eiendom kort na oordrag weer verkoop. Die nuwe eienaar het egter die slegte nuus ontvang dat daar, ten spyte van die betaling van die laaste twee jaar se agtestallige gelde, verdere agterstallige rekeninge is van R106 219, 75.

Die nuwe eienaar het haar tot die hof gewend om uit te vind of sy werklik verantwoordelik gehou kon word vir hierdie rekeninge. Sy het geweier om enige verdere gelde aan die munisipaliteit te betaal en om oordrag te neem totdat die kwessie uitgeklaar is.

Die hooggeregshof het in die guns van die nuwe koper bevind en gestaaf dat die skulde nie die eksekusieveiling oorleef nie. Die munisipaliteit was nie tevrede met hierdie bevinding nie en het die saak op appèl geneem.

Die appèlhof het bevind dat die munisipaliteit se eise om agterstallige skuld as ‘n verpligting op die eiendom bly rus. Hierdie ou skulde word dus nie uitgewis deur die verandering van eienaarskap nie; die skulde oorleef die oordrag. Dit maak ook nie saak of die voorafgaande transaksie ’n eksekusieveiling of ’n gewone verkoopsooreenkoms was nie.

Die munisipaliteit moet sy eie regulasies nakom. Hier het hul tereg eers probeer om die skuld van die oorspronklike eienaar te vorder. Indien die eiendom byvoorbeeld deur plakkers beset word, sal hulle ook nie die meegaande skulde van die eienaar verhaal nie. Die beginsel is egter dat die munisipaliteit by magte is om ’n hof te nader en dat die eiendom as sekuriteit gebruik word vir onbetaalde munisipale skulde. Met die hof se toestemming kan die eiendom dan uitwinbaar verklaar word en op ’n openbare veiling verkoop word om die munisipale skulde te vereffen.

 

Waarop moet kopers let?

Skulde vir munisipale dienste kan verjaar en indien dit die geval is, kan dit nie van jou verhaal word nie. Munisipale dienste se skuld verjaar na drie jaar. Dit is egter ook belangrik om te weet dat eiendomsbelasting se skuld eers na dertig jaar verjaar. Indien jy aan die ontvangkant van ‘n munisipale aanmaning is, raadpleeg ‘n regsadviseur om die rekening noukeurig na te gaan.

Maak seker dat jou regsadviseur die koopooreenkoms nagaan voordat jy dit onderteken. Is jy as koper voldoende beskerm? Die verkoper moet voldoende bewys lewer dat alle munisipale skulde ten volle vereffen is. Dit is nou skulde van tot twee jaar gelede om die vereiste uitklaringsertifikaat te kry, maar ook enige skuld ouer as dit. Jy moet ook ’n vrywaring van die verkoper verkry vir enige ander geskiedkundige munisipale skulde wat na oordrag aan die lig kan kom.

 

Wat moet ‘n verkoper doen?

Maak seker dat jou oordrag vinnig en glad verloop. Jy gaan die oordragprokureur aanstel. Vra jou prokureur om die munisipaliteit te skakel en bevestiging te kry dat daar geen historiese skulde is wat hulle nog op die eiendom wil verhaal nie.

Ander Artikels

Art. 11(a) van die Wet op Inkomstebelasting en die aftrekbaarheid van renteonkoste op huislenings
Louis Botha     Op 13 Desember 2016 het die belastinghof in Kaapstad uitspraak gelewer in X v The Commissioner for the South African Revenue Service (saak no. 13791 & 13792, nog nie gerapporteer nie). Die saak het gehandel oor ʼn interessante vraagstuk, naamlik of uitgawes wat aan ʼn huislening aangegaan word om ʼn rente-inkomste […]
Huurverbeteringe: Mag ek vat of moet ek los?
Vraag: “Ons huur nou al vir ʼn paar jaar ʼn huis. Ek en my vrou het heelwat verbeterings aan die huis en tuin aangebring. Ek word nou verplaas en moet verhuis, maar wonder nou wat word van al die verbeterings aan die huurperseel. Mag ons dit saamneem of moet die verhuurder ons vergoed daarvoor?”   […]
Die beste wenke om jou huurdeposito terug te kry
Huurders in Suid-Afrika betaal tans enigiets tussen een en drie maande se huur as skadedeposito ─ maar is dikwels onseker van wat om te doen as hul huurkontrak verval. “Hoewel deposito’s dikwels gebruik word om huurwanbetaling of onbetaalde utiliteitsrekenings te dek, is hul hoofdoel om verhuurders teen skade aan die eiendom te dek,” sê Andrew […]
1 2 3 170