Neem beheer oor jou begroting tydens Feestyd

Dinsdag, November 22nd, 2016

Anja van den Berg

 

 

Die feestyd is die tyd wanneer die meeste mense wil ontspan, ’n bietjie vrye tyd geniet en hulself beloon vir al die harde werk wat hulle gedurende die jaar gedoen het. Uitspantyd beteken ontspanning, vermaak en besoeke aan restourante. Die gevolg is dat besteding in die meeste huishoudings toeneem. Voeg daarby die verpligte Kersgeskenke en vakansiepartytjies, en jou jaareindbonus lyk skielik baie kleiner as jou feesstemming.

Dis maklik om finansiële beheer te verloor. Daarom moet jy ’n plan beraam om skuld en uitgawes te verminder en geld te gebruik waarvoor dit absoluut noodsaaklik is. Hier volg vyf wenke oor hoe om te keer dat die feestelikhede omsit in ’n finansiële babelas in die nuwe jaar:

 

  1. Neem jou huidige finansies onder die loep

As jy jou finansies in orde probeer kry, reël ’n besoek aan ’n finansiële konsultant voordat jy vir Kersfees wegbreek, is die advies van die Finansiële Beplanningsvereniging. Jou finansiële plan moet verder as jou vakansiebesteding strek en moet doelwitte stel vir spaar, belegging en skuldvereffening en moet ook fiskale doelwitte vir die toekoms stel. Die finansiële berader kan ook jou bestedingspatrone en die emosionele drywers agter baie van jou finansiële besluite vasstel.  Sodoende sal die nuwe jaar heeltemal anders begin.

 

  • Stel ’n begroting vir Kersbesteding op

 

Stel ’n begroting vir jou Kersbesteding op – nie net geskenke nie, maar die bykomende besteding aan kos, drank en kuier, is die raad van die Open University. Maak hierdie Kersfeeselement van jou uitgawes deel van die res van die huishoudelike begroting sodat jy die algehele uitwerking van Kersbesteding op jou finansies oor ’n aantal maande kan bestuur.

 

  • Vermy aankope ter elfder ure

 

Die grootste slag vir jou begroting hierdie komkommertyd gaan die aankope ter elfder ure wees, waarsku Katie Lockwood, spesialisrekenmeester. “Om hierdie ongelukkige situasie te vermy, begin met ’n lys van almal vir wie jy iets moet koop, hetsy familie, vriende of kollegas. Skryf dan idees neer en gee ’n begroting vir elkeen … en hou daarby!”

 

  • Gebruik kontant pleks van kredietkaarte

 

Teen dié tyd weet jy dit seker al, maar kontantbetaling is een van die doeltreffendste maniere om ’n skuldbabelas in die nuwe jaar te voorkom. “As jy telkens ’n kredietkaart gebruik, is dit maklik om tred te verloor met wat jy koop, totdat die gevreesde rekeninge instroom,” sê Lockwood. As jy ’n kredietkaart gebruik, probeer die saldo ten volle te betaal wanneer jy die rekening in die nuwe jaar ontvang. Kredietkaarte is oor die algemeen ’n duur manier om geld te leen – en winkelkaarte is nog erger, omdat hulle gewoonlik hoër rentekoerse het.

 

  • Hou tred met die oplopende totaal

 

Hou jou besteding fyn dop deur die oplopende totaal op jou slimtoestel saam te stel of deur ’n app af te laai wat jou met jou begrotingsbestuur kan help.  “Daar is verskeie uitstekende begrotings- en beplanningsinstrumente wat gesinne kan gebruik om hulle besteding hierdie vakansie in bedwang te hou,” sê Anna Bahney, spesialisskrywer vir Forbes oor die kwessie van persoonlike finansies.  “Die rekeninge sal na Kersfees sonder enige twyfel instroom, maar jy sal dit makliker kan bestuur as jy weet wat jou maksimum bestedingsbedrae op elke kaart is.”

Die Feesgety is veronderstel om ’n vrolike tyd van die jaar te wees, vol vreugde en feesvierings. As jy goed beplan, kan jy ’n begrotingsbabelas in die nuwe jaar vermy wanneer die rekeninge instroom.

 

Bronne

 

Anna Bahney, 2014, “Holiday Budget Hacks”, Forbes/Personal Finance, http://www.forbes.com/sites/annabahney/2014/11/30/holiday-budget-hacks/

 

AMP, 2015, “7 ways to keep Christmas spending under control”, https://www.amp.com.au/news/2015/november/christmas-budget

 

Financial Planning Association, 2014, “9 Ways to Keep Holiday Spending Under Control”,

http://www.plannersearch.org/life-events/life-crises/credit-repair/budget-management/9%20Ways%20to%20Keep%20Holiday%20Spending%20Under%20Control

 

Reyna Gobel, 2015, “8 Tips To Help You Control Holiday Spending”, Investopedia, http://www.investopedia.com/articles/pf/08/speding-holiday.asp

 

The Open University, 2014, “10 Christmas spending tips: how to avoid a financial hangover in the New Year”, https://about.futurelearn.com/blog/10-christmas-spending-tips/

 

Wonga, 2015, “Avoid a financial hangover this festive season”, https://www.wonga.co.za/blog/avoid-financial-hangover-festive-season

Ander Artikels

Belangrike belastingwenke vir 2017
Karen van der Berg     Daar is een ding wat jaar na jaar vas bly staan: Belasting moet betaal en bewyse daarvan moet ingedien word. Vir die meeste mense veroorsaak dit ʼn groot kopseer en slapelose nagte. Dit is egter nie nodig nie, sê Coba Boshoff, ʼn belastingkonsultant van die Paarl. “Daar is sekere […]
Die 2 soorte verkeersboetes
Sanette Viljoen       Dit is belangrik om te verstaan dat daar twee tipes verkeersboetes bestaan en ook om te weet wat is elkeen se risiko.   Artikel 341-boete Hierdie boete word uitgereik wanneer dit nie duidelik is wie die bestuurder van die motor is nie. Voorbeelde van hierdie boetes is ‘n parkeerkaartjie of […]
Deeltitel: Geiser-instandhouding en aanspreeklikheid vir koste
Anton Kelly   Daar is iets onvermydelik in verband met die koste van geiser-instandhouding en –vervanging: die betrokke eienaar is aanspreeklik vir alles waarvoor die regspersoon se versekering nie betaal nie! Dit help as mens die bepalings verstaan wat hierdie “geen wegkruipplek”-situasie skep. In die meeste moderne residensiële skemas is die geiser in die eenheid […]
1 2 3 139