Motoriste kry groot verligting en ‘weer in Oktober’

Vrydag, Augustus 28th, 2015

Eugene Brink

 

Die prys van beide grade petrol sal met 69c per liter daal, terwyl die groothandelprys van diesel met ʼn swawelinhoud van 0,05% met 54c sal daal.

 

Met hierdie daling sal een liter 93-oktaan petrol in Gauteng vanaf 2 September R12,32 kos. Dit is 8,1% laer as die prys in September 2014, toe dit R13,41 gekos het.

 

Dit is welkome verligting vir vuisvoos verbruikers nadat April se petrolprysstyging van R1.59 die grootste ooit was en Maart s’n van 96c die tweede grootste.

 

Paul Joubert, senior ekonomiese navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), sê die onlangse dalings in oliepryse se uitwerking was groter as die verswakking in die waarde van die rand teenoor die Amerikaanse dollar.

 

“Derhalwe is internasionale petroleumpryse, in rand geprys, steeds besig om te daal. Deur die loop van Augustus was die gemiddelde pryse van petrol en diesel internasionaal op vervaardigingsvlak, in dollar geprys, beduidend laer as wat dit gemiddeld gedurende Julie was. Die rand, wat in Augustus gemiddeld swakker was as in Julie, het egter nie genoegsaam verswak om hierdie prysdaling uit te wis nie. Dit volg dus dat plaaslike brandstofpryse, volgens die gepubliseerde formule, op 2 September moet daal.”

 

Volgens Joubert sal ʼn motoris sal met hierdie daling in September ongeveer R35 spaar op ʼn 50-liter petroltenk teenoor Augustus. Teenoor Julie se prys spaar ʼn motoris nou reeds R60 per 50-liter tenk petrol.

 

Hy sê tussen al die finansiële druk wat verbruikers beleef, is die prys van petrol tog ʼn positiewe faktor vanjaar. Gemiddeld van Januarie tot September is dit meer as 12% goedkoper as tydens dieselfde tyd in 2014.

 

“Dit is nog te vroeg om enige goeie voorspellings te maak, maar indien die huidige toestande deur die loop van September voortduur, kan plaaslike brandstofpryse in Oktober weer daal. Tans lyk ʼn daling van sowat 30c in Oktober moontlik, maar in die huidige wisselvallige toestande – die prys van olie het byvoorbeeld vandag weer skielik met byna 10% opgeskiet – sal hierdie voorspelling waarskynlik nog baie aangepas word totdat die aankondiging op 2 Oktober gemaak word.”

 

Internasionale petroleumpryse het onlangs hul laaste vlakke in ses jaar bereik en die Outomobiel- Assosiasie van Suid-Afrika (AA) het sy kommer uitgespreek oor die rigting van die olieprys wanneer dit die onderkant van die kringloop gaan bereik. “Indien en wanneer die olieprys verlangsaam, of styg, sal motoriste ten volle blootgestel wees aan die rand se broosheid,” het die AA in ’n verklaring gesê.

 

Ander Artikels

Skop vas en moenie onnodig koop nie
Anja van den Berg   Alles rakende jou supermark is bedoel om jou geld te laat bestee wat jy nie beplan het om te bestee nie, en selfs geld wat jy nie regtig hoef te bestee nie. Hoewel die meeste mense aan produkte dink in terme van die funksionele eienskappe daarvan – die instrumentele waarde […]
Agterbakse supermarktaktieke om jou onnodige goed te laat koop
Anja van den Berg   Het jy al ooit aanvaar dat iets ʼn winskoop is net omdat die prys in rooi geskryf is? Of besluit om daardie duur handsak of aktetas te koop omdat jy daarvan oortuig was dat jy dit verdien? Of ʼn hand vol ongesonde snoepgoed van die impulsrak gegryp terwyl jy toustaan […]
OTM-kaartruilslenters neem toe: Let op hiervoor!
Die Suid-Afrikaanse Bankrisiko-inligtingsentrum (Sabric) waarsku die publiek om op die uitkyk te wees te midde van die hoë voorkoms van OTM-kaartbedrog in die land. Die groep het gewaarsku dat daar weer ʼn “kaartruil”-skelmstreek in Suid-Afrika voorkom en ʼn uiteensetting van die betrokke skelms se modus operandi gegee om die publiek teen hul metodes te waarsku. […]
1 2 3 152